Sosiale gevolge van ’n gewelddadige vryheidstryd

skildery-delacroix

Eugène Delacroix se bekende skildery, nl. Vryheid lei die volk. Die Franse het vir dekades krepeer
a.g.v. die Franse Revolusie.

 

‘n Politieke stryd het ‘n invloed op sosiale patrone, wat moeilik omgekeer word wanneer die doel bereik is. Te maklik word veronderstel dat dié mikpunt ook alle ander probleme sal verplaas.

Die historiese noodwendigheid, soos Karl Marx dit gesien het, het dit uitdruklik gestel: Die Diktatuur van die Proletariaat sou tydelik nodig wees om kapitaliste aan ‘n “regverdige samelewing” gewoond te maak, maar dan sou ‘n utopie kristalliseer waarin elkeen na vermoë werk en na behoefte ontvang.

Dat kommunistiese state tot met verkrummeling deur diktatuur gekenmerk is, is nou reeds geskiedenis. Ook die demokratiese ideale van die Franse Rewolusie het in die bloed van sogenaamde vyande van die Rewolusie verdrink. Derduisende onskuldige mense het hul lewens verloor aan die hand van die rewolusionêres. Die Franse staat was op sy knieë gedwing en vir dekades lank onregeerbaar a.g.v. die chaos en anargie wat deur enige burgeroorlog aangevuur word.

Die nasionale ontwaking van Afrikaners in die eerste helfte van die twintigste eeu was ‘n omvattende politiek-kultureel-ekonomies-sosiale stryd. ‘n Sleutelkenmerk was druk op Afrikaners om aan ‘n spesifieke beeld van Afrikanerskap te konformeer, soms ten koste van selfstandige denke.

Na die republiek verwesenlik is, het roepingsbewustheid en lotsverbondenheid vervaag. Welvaart het toenemend die oorkoepelende doel geword en die gevestigde orde is onkrities aanvaar.

Nie-Afrikaners wat die grondslag van minderheidsbeheer bevraagteken het, is sonder meer kommuniste of kommunistiese handlangers genoem. Afrikaners wat dit bevraagteken het, is as verraaiers of verlooptes gebrandmerk. Voorstelle dat blanke gesag oor die grootste deel van Suid-Afrika prysgegee word, is bloot geïgnoreer, so verregaande was dit. So lê die wortel van magsverlies in 1994 in die oorwinning van 1961.

Die erfenis van die ANC se stryd tot 1994, is vandag besig om dié bedeling ook te verteer. Gekonfronteer met ‘n vasberade staat as vyand, was burgerlike ongehoorsaamheid vir die ANC een van min doeltreffende wapens.

As besigheid die staat gestut het, moes hulle winsgrense deur stakings ondermyn word.

As skole maatskaplike beheer moontlik gemaak het, moes die baba van onderwys en opleiding saam met die badwater uitgegooi word.

As die insameling van huur en dienstegelde die staatsmasjinerie laat loop het, moes daardie gelde teruggehou word.

As openbare veiligheid die staat gestabiliseer het, moes dit deur terreurdade gedestabiliseer word.

As belangeloosheid of verraad die “struggle” verswak het, moes belangeloses selfs met geweld gemobiliseer word en van verraaiers moes ‘n skrikwekkende voorbeeld gemaak word.

As dit gevaarlik was om openlik na die buiteland te reis, moes dit onreëlmatig gedoen word.

Hoe ‘n mens die “struggle”-etiek ook al beoordeel, die grondslag daarvan het in 1994 uitgeval. Maar toe is reeds ‘n geslag geskep wat dit deugsaam vind om besigheid te destabiliseer, ongeag of die eise billik is, skoling te minag, aan te dring op gratis verblyf en dienste, militêre opleiding ontvang het, geleer is om onafhanklik en intimiderend op te tree en om burokratiese hoeke te sny.

Kortom, wat in enige geordende samelewing as misdade beskou word, is tot deugde verhef en die vaardighede daarvoor is aangeleer.

Afrikaners kan wel hoop op ‘n kentering binne die ANC, maar ons gaan ons vryheid in ‘n eie volksrepubliek moet herstel indien ons in Afrika wil oorleef. Dit sal op die lange duur tot ons voordeel wees om uit ander se foute te leer en vryheid op ‘n wyse na te streef dat die bereiking daarvan dit nie sal verydel nie.

6 thoughts on “Sosiale gevolge van ’n gewelddadige vryheidstryd

  1. Indien enigiemand nog gewonder het hoekom die land in so ‘n toestand is, dan sal hierdie artikel ‘n hele paar vrae beantwoord. Dit maak sin dat stakende swartes vandag steeds so barbaars optree – hulle doen maar net wat hulle gedoen het om die NP-regering te destabiliseer en sodoende hul sin te kry. Die ANC het ‘n monster geskep wat hulle nou self moet probeer in toom hou… sonder veel sukses.

    Basta met “blameer dit op apartheid”! Die ANC het self besluit om mense lewendig aan die brand te steek, skole te verbrand, bomme te plant ens. ens. Hulle het als gekry wat hulle wou gehad het en is nou self verantwoordelik vir die ondergang wat hul kaders bewerkstellig.

    Ons weier eenvoudig om saam hulle afgetrek te word, dus staan ons vir ‘n eie Afrikaner Republiek waar ons mense vry en veilig kan aangaan met ons lewens.

    Ons kan inderdaad baie lesse uit hul foute leer…

  2. Anthony Schlemmer

    Die nuwe geslag Afrikaner, asook Afrikaner leierskap wat besig is om op te staan uit die Orania gebied, sal nie weer dieselfde foute as in die verlede maak nie.

    Duur lesse is geleer (Verbysterend kan baie Afrikaners dit nog steeds nie insien nie)

  3. Die Afrikaner is deur dieselfde gebeure geraak maar op ‘n ander manier. Die standvastige staat wat sy veiligheid gewaarborg het het verkrummel. Sy leiers het uitsprake gemaak van versoening met ‘n vyand waarteen die seuns van die volk op die grens geveg het. Die Driekamerparlement referendum het die Afrikaner geskeur in ‘Verligte -Verkrampte’ kampe. Die Afrikaner-Nasionalisme wat Malan en Verwoerd gekweek het, is vervang deur Links en Regs. Pik Botha wat SA se beleid moes verkoop aan die wereld het dit verag en daarvoor verskoning gemaak. Die Afrikaner wou nie meer ‘anders’ wees nie. Ons wou teen die wereld rugby speel want dit het ons deel van die wereld laat voel. Albert Hertzog het gewaarsku: As SA televisie kry sal ons nooit weer dieselfde wees nie. Jy kan nie” integreer” televisie wys in ‘n “segregeer” gemeenskap nie. Televisie het begin in Jan 1976. Die Soweto onluste was in Junie 1976.
    Die Driekamerparlement het gewys Afrikaners dink daar is “Shades of Black” As party swartes nie so swart is nie en daai swartes is nog steeds teen ons kan daar mos vriendelike swartes wees tussen die wat te swart is? En daar het die beginsel verkrummel. Die gebed is afgeskaf in die Parlement en almal het saamgestem dat dit aanstoot kon gee-al was daar net drie Hindus in die een kamer.Eie skole en eie gemeenskappe het ‘n belaglike argument geword nadat die weermag sonder ‘n refrendum of groot bohaai geintegreer is. As jy vir ‘n land kan sterf kan jy mos stem ook. Dit was PW Botha se verraad-meer as enigiets anders wat hy gedoen het.
    Die Kerk het Apartheid tot sonde verklaar en die Afrikaner was skielik kaal en ontwapen.
    ‘n Paar outjies het Springbokkleure misgeloop en dit was die KP,HNP en AWB se skuld. Die Verkrampte Afrikaner is as agterlik en rassisties afgemaak. Die mode was verlig, liberaal, Christelik en verdraagsaam.
    Elke liefling van die volk het teen hulle gedraai-van Karike Keusenkamp tot Sandra Vorster en Anneline Kriel. Van Theuns Eloff tot Roelf Meyer en Leon Wessels.
    Elke koerant en tydskrif het die lof van Mandela, FW en Ramaphosa besing.
    Winnie Mandela het Mother of the Nation geword en Mandela die Messias. Die Bokke het in die wereldbeker gespeel-en gewen en die Kaap was Hollands.
    Afrikaner Nasionalisme was morsdood, ongewild en uit die mode. Selfbeskikking, bloedgrond en enigiets “eie” en “ons” was ongewild, ongemaklik en konserwatief.
    Bottom line: As jy mense eers een ding geleer het -leer hulle dit moeilik af. Die Franse sou nooit weer ‘n koning verdra nie, die ANC sal nooit weer leer betaal nie, en die Afrikaner sal nooit weer sy Bybel met dieselfde oe lees as sy Oupa nie. Die Franse het nog die paleis van Versailles om te wys, die ANC kan nog onthou toe almal geluister het en die Afrikaners het Orania-amper soos wat dit was.
    Party Franse het verlang na die tyd van die Koning, die ANC verlang seker partykeer na Apartheid-toe daar ‘n rede vir ‘n struggle was-en die Afrikaner verlang na sy land, sy kerk, sy volk, sy geskiedenis, sy leiers en sy kinders-want hulle bly nou in Australie.

    1. -en die Afrikaner verlang na sy land, sy kerk, sy volk, sy geskiedenis, sy leiers en sy kinders-want hulle bly nou in Australie.

      Presies net so!

      Ons volk het ‘n bitter en verwytende klomp geword en alhoewel almal oral van vryheid praat doen bitter min iets tasbaars om dit te bewerkstellig.

  4. theo

    Briljant gestel, Andre, ek self kon dit nie beter gedoen het nie! Ons het ‘n bestel gehad, gebou op amper 300 jaar se kontak met die ander rasse, apartheid, wat gewerk het,wat al oplossing vir Suid-Afrika se probleme was en is, en toe luister ons vir die wêreld en word ‘n “demokrasie” om hulle stil te maak, ‘n eenvoudige oplossing, een grootte (demokrasie) pas almal! Ek sal nooit vir apartheid verskoning vra nie, ek het nou in altwee bestelle geleef en hierdie ene werk nie! Die Anc kommuniste,en hulle aartsvader,Mandela, sal nie rus voor hierdie land tot in die grond in verwoes is nie! Op die oomblik is Oranië al uitweg vir ons! Ja, beide die Franse en Russiese revolusies is gevolg deur onstabiliteit en burgeroorloë en het uiteindelik in diktatorskappe geeindig!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s