Die verdigting en uitbreiding van Orania

koppie-orania

Orania se koppie word in 2011 amptelik deel van ons volkstaatgrond met die aankoop van die plaas Vluytjeskraal-Noord

‘n Klemverskil bestaan onder Oraniërs oor die verhouding tussen verdigting en grondtoevoeging om ons ideaal te verwesenlik. Albei strategieë is aangewend en die ervaring wag op interpretasie.

Die dorpsgebied is op ongeveer 450 hektaar geleë en was die eerste aankoop. Die verkoop van huise en erwe was ‘n kommersiële sukses en die gemeenskap kon vir etlike jare finansieel gestut word. Die volgende uitbreiding, om Vluytjeskraal 272 aan te koop en te ontwikkel, kon gefinansier word.

Vluytjeskraal 272 was ‘n kombinasie van uitbreiding en verdigting. Grond is bygevoeg en ‘n besproeiingskema ontwikkel. Hoewes, wat ‘n ekonomiese basis aan Orania moes bied, is bemark. Die oorwig is deur afwesige eienaars gekoop. ‘n Plaaslike boer het pekanneute op kontrak gevestig en onderhou. Dit is ‘n gemengde suksesverhaal: Al die grond is verkoop, maar hoë rente het winste en ‘n deel van die kapitaal uitgewis. Beleggers in pekanneute wag ook langer as verwag op opbrengste.

In ongeveer dieselfde tyd is kanse om Rooipan, Vluytjekraal-Noord en drie dele van Soutpansdrift te koop, van die hand gewys. Die plase is almal binne 10 kilometer van Orania, maar ongeveer R10 000 per hektaar ontwikkelde besproeiingsgrond, was volgens besluitnemers te duur.

Pleks van uitbreiding, is verdigting voortaan nagestreef. Orania Bestuursdienste (OBD, die maatskappy wat Orania en Vluytjeskraal 272 ontwikkel het) het saam met privaat beleggers ‘n groot melkplaas aangelê. Stygende graanpryse, dalende melkpryse, hoë rentekoerse en bedryfsprobleme buite my kennisveld het voorkom dat die besigheid winsgewend geraak het. OBD is sedertdien nie in staat om groot projekte aan te pak nie.

Intussen is Orania se ekonomie deur klein- en mikro-ondernemings gedra en uitgebou. Die twee mees ambisieuse projekte was die OK kruidenierswinkel en ‘n meule. Die eerste het geblyk lewensvatbaar te wees, terwyl die tweede deure gesluit het. Die Orania Spaar en Kredietvereniging (OSK) is op ‘n laer profiel gevestig. Dit het mettertyd miljoene rand se beleggingskapitaal gelok en ‘n broodnodige finansieringsdiens gelewer. Dit is moeilik om die impak van die OSK te bereken, maar daarsonder is Orania se ekonomie vandag ondenkbaar.

Intussen het ‘n groep indiwiduele Oraniërs ‘n koöperasie, Kambro Landskap, gevorm en met verloop van tyd tussen 7 500 en 8 000 hektaar tot volkstaatgebied toegevoeg. Dit is gefinansier deur die grond in dele aan lede van die koöperasie te verkoop. Vluytjeskraal-Noord is ook deur ‘n groep ondernemers gekoop. Daar word algemeen aanvaar dat die prys bo-markverwant was, maar om strategiese redes is die transaksie deurgevoer. Na deeglike beplanning is erwe beskikbaar gestel, terwyl besproeiingslande deur ‘n boer van Orania gehuur word. Graan word volgens die omgewing se beste praktyke verbou.

‘n Mens kan jou voorstel wat die gevolg vir Orania kon wees as R10 miljoen op grond bestee is toe dit teen R10 000 per hektaar beskikbaar was. Die toevoeging van 1 000 hektaar besproeiingsgrond kon die produksiebasis van Orania se ekonomie aansienlik versterk het. As dit binne kollektiewe verband gedoen is, kon projekte soos ‘n suiwelonderneming of ‘n meule vir ‘n beperkte tyd teen markskommelings beskut gewees het. Grondwaarde het intussen meer as tienvoudig verhoog en kon ‘n sterk hefboom vir verdere uitbreiding en verdigting gewees het.

Verwysende na groot projekte lyk dit of die risiko van verdigting groter as die van uitbreiding is, terwyl kleiner ondernemers slegs ‘n bydrae kan lewer deur die bestaande ekonomie te verdig. Klein na medium skaal ontwikkelingsprojekte is meer lewensvatbaar in Orania en lê die fondasie waarop multimiljardrand projekte later gevestig sal word.

11 gedagtes oor “Die verdigting en uitbreiding van Orania

  1. Mynsinsiens is die debat binne in Orania oor verdigting (“stadstaat”) of uitbreiding (“landelike volkstaat”) onnodig, alhoewel dit goed is dat die onderwerp bespreek word soos wat Dr Boshoff dit doen. Om egter nou daarvan ‘n verdeelende faktor te maak wat mense soos ‘n geloofsbelydenis moet voorhou en waarvolgens hulle ingedeel word by hierdie of daardie kamp is totaal kontraproduktief. Dit laat ‘n mens dink aan die oneindige debatte en selfs vyandskap wat daar binne die kommuniste bestaan het oor Maosime (boere op die platteland lei die revolusie) of Leninisme (stedelike werkers lei die revolusie).
    Die volkstaat moet op twee bene staan, naamlik genoeg grond vir voedselsekerheid en vir uitbreiding, én ‘n stad as sentrum waar die skole, hospitaal, universiteit, dienstebedrywe en nywerhede gevestig is. Die debat wat belangriker is en wat eerste moet kom is onnodig en tap ons energie en sit voornemende belggers af. As ‘n welvarende boer kom met geld, laat hy ‘n plaas koop en (met volkseie arbeid) teenaan Orania boer en sy produkte aan ons lewer. As ‘n stedelike ontwikkelaar kom, laat hy meenthuise oprig of ‘n fabriek vestig. Moenie vir mense wat wil belê voorskryf en hulle deur oorburokratisering en hoë belasting afsit nie. Wees dankbaar vir enige iemand wat iets bydra tot die volkstaat.
    Daar is geen bloudruk vir Orania nie, nie Israel en ook nie Dubaai nie, alhoewel ‘n mens by altwee iets kan leer. So vêr ontwikkel ons goed, ten spyte van terugslae soos in die artikel genoem word. As daar egter ‘n geleentheid vir grondaankope kom moet dit aangegryp word want grond raak nie meer nie. Huise en nywerhede kan altyd weer gevestig word, maar die geleentheid vir grond, veral besproeingsgrond, doen homself net af en toe voor. By alle ontwikkeling moet die arbeidskwessie egter prioriteit wees, maw dit mag nie ‘n magneet vir armlastiges word nie. Duitsland se heropbou na die Tweede Wêreldoorlog is nie soseer gedryf deur staatsondernemings of groot internasionale maatskappye nie, maar deur klein en middelslagondernemings, tipies ‘n gesinsbedryf met ‘n paar goed opgeleide werknemers wat ‘n ordentlike salaris verdien.

    1. … te danke aan die Amerikaners (Marshall Plan) was daar kapitaal beskikbaar vir die Europeers om hul lande en ekonomiee te herbou na die Tweede Wereldoorlog. Orania se gesinsbedrywe moet eers die nodige kapitaal genereer om daarmee ‘n onderneming te stig en dit dan met eie arbeid volhoubaar en winsgewend bedryf.

      Geen wonder soveel Afrikaners sukkel om by Orania in te pas nie… ‘n gemaksugtige volk wat oor die algemeen verarm maar hul neuse optrek vir selfwerksaamheid en volkseie arbeid verdien nie vryheid nie.

      Die oorgrote meerderheid Afrikaner gesinsbedrywe wat wel na 1994 gestig is gebruik vandag goedkoop swart arbeid sodat hulle soveel as moontlik wins kan maak.

      Om eerlik te wees pla dit my glad nie wanneer daardie ondernemings onder diefstal, stakings en sekuriteitsprobleme deurloop nie. Hulle bring dit oor hulself met die mense wat hulle in hul lewens, huise en besighede inlaat!

      Die duisende Afrikaner entrepreneurs wat oorkant die rivier bly en goedkoop swart arbeid in diens neem is (in my oë) niks meer nie as ‘n hebsugtige, kortsigtige, selfgesentreerde spul masochiste wat onwillekeurig hul naaste verdoem ter wille van “oorlewing”.

      Die enigste hoop vir hulle is dat Orania se entrepreneurs die voortou neem en onbeskaamd bewys dat mens ’n sterker ekonomie kan bou met Afrikaner arbeid. Dis ons uitdaging. As ons nie die verskil maak en ‘n voorbeeld word nie, dan gaan die Afrikaner binne 2, miskien 3 geslagte ‘n voetnota in die geskiedenisboeke wees.

  2. Dankie vir ‘n goeie artikel Wynand.
    Sebastiaan, ek stem geheel en al saam met jou. Niemand kan die ideale ‘hoe, wanneer, wat en waar’ bepaal met sekerheid nie. Elke potensiale belegger neem risiko waar hy gemaklik is.
    Ons moet nou fokus op ekonomiese ontwikkeling binne die gebied wat onder ons beheer is. Soos ons beleggingspotensiaal groei kan ons grondgebied uitbrei en word die risiko minder.
    Ons het byvoorbeeld nie miljarde om ‘n paar honderd duisend hektar grond op die weskus te koop nie, maar ons het genoeg om nuwe besighede te vestig op Orania. Dit is dus ‘n baie maklike keuse om te maak wat eerste moet gebeur.

  3. Jan

    Ek wil weet of die Vonkpos internet koppelling ADSL ens reeds volkrag werk?

    Dit was ‘n groot remmende faktor vir ontwikkeling met die aansluiting….

    Net so met die kragvoorsiening.

    Dit smaak my dit dis die goeters wat enige ontwikkeling terughou.en voorkeur moet geniet..

    Hou ons op hoogte oor die tegniese ontwikkeling sodat mense kan beplan.

    1. Willem van As

      ‘n Aardskip met vinnige, onbeperkte internet in Orania (of enige plek deel van die Orania beweging grondgebied) is my droom bestemming op hierdie aarde.

    2. Jan, ADSL is gekoppel en werk 100%. Vodacom en MTN 3G is ook beskikbaar en werk soos ‘n bom! Orania se krag kapasiteit is laas jaar verhoog by Eskom vir die nuwe uitbreidings en ontwikkeling wat oor die volgende 5 jaar gaan plaasvind.

  4. LouisDS

    Interessante kommentaar oor Eskom, maar as een van Orania’s se doele is om meer selfstandig te wees dan seker moet julle kyk na uit te brei sonder om meer van die regering staat te maak

  5. Philip

    Daar is n Engelse gesegde wat min of meer die volgende sê, “The person who has never made a mistake in his life, probably never made anything at all.” Orania hoef nie sleg te voel oor n verkeerde belegging hier of n verkeerde besluit daar nie, dit wat to dusver vermag is kan nie ontken word nie en is n monumentale bydrae tot die moderne kultuur geskiedenis van die Afrikaner.
    Wynand, ek is dit eens met jou verdigtingsargument, maar ek stem ook saam met Sebastiaan dat daar nie voorskrywend opgetree moet word nie. Persoonlik is ek nie te vinde vir n volkstaat vanaf Orania tot die Wes-Kus nie. n Volkstaat die grootte van n Luxembourg met Orania in die middel is volgens my groot genoeg. Die waarde wat toegevoeg word tot hierdie grondgebied is meer belangriker as bloot die aantal hektaar waarmee gespog kan word (kwaliteit bo kwantiteit).
    Dit is jammer dat besproeingsgrond om Orania so buitensporig duur geword het. Dit grens vir my na blatante uitbyting. Is dit nie tyd dat ons ook weer na die kleinvee bedryf kyk nie as n landbou vertakking wat n bietjie meer ondersteuning kan kry nie?

  6. Jan Viljoen

    Nadat ek die kommentare gelees het, stem ek breedweg saam met meeste deelnemers.
    Ontwikkeling op enige moontlike gebied wat waarde toevoeg, moet geskep word. Die uiteindelike doel om nywerhede en ‘n toegang tot ‘n hawe te kry, moet nie uit die oog verloor word nie.
    Dis jammer dat die aangrensende grond so gestyg het, dit kan ook opportunistiese verkopers wees.

    Enige veeboerdery, beeste, skape, hoenders of wat ookal moet ondersoek word, al is dit verder weg van die rivier af.

    As San Marino, Liechtenstein, Monte Carlo en ander klein Stille Suidsee eilande onafhanklik kan wees met VN verteenwordiging, behoort Orania ook. San Marino se kos word ingevoer, hulle produseer net wyn en kaas, maar hulle het die hoogste inkomste per capita in Europa. Lees maar die web.

    Voorspoed.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s