Orania se klein stappe lei tot die uiteindelike oplossing vir die hele volk

Elkeen van ons wat nuus lees kan soms nie help om in ‘n depressie te verval nie. Veral na die naweek is daar gewoonlik nuus van ‘n gruwelike plaasmoord, gewapende roof of selfs aanvalle op bejaardes in ‘n ouetehuis.

Net daarna lees ons van nog ‘n Afrikaanse skool wat gedwing word om te verengels, nog nuwe bevindings dat Afrikaners in skares hulle rûe keer op hul identiteit en godsdiens soos hulle poog om wêreldburgers te word. Dis natuurlik iets wat in Naspers-koerante gevier word as sg. Afrikaanssprekendes se bydrae tot die nuwe, oop samelewing.

Ook die valbyl van plaasbesettings en grondonteienings hang oor ons koppe en ons bloeddruk styg as een of ander minister, of die president self luidkeels eis dat die “arm meerderheid nou uiteindelik hulle regmatige deel moet kry” en dat blankes in die algemeen en Afrikanerboere in die besonder uitbuiters is wat weens die voorregte van apartheid lekker lewe en niks bydrae tot die opheffing van die armes nie.

Ons wat dit moet lees is eintlik die gelukkiges, want met talle ander gebeur sulke dinge en is hulle direkte slagoffers van misdaad, kwotas en onteiening.

Selfs ons wat nie direk geraak word nie, word beslis geraak deur die gevolge van ‘n volk se agteruitgang. Afrikaans en Christelike waardes is in die gedrang, ons samelewing verander amper onherkenbaar en ons kinders word in ‘n wêreld groot wat ‘n mens se hare laat rys.

Almal het min of meer soortgelyke ervarings en sal saamstem dat iets gedoen moet word, maar dis asof die Afrikaner in skok verkeer en nie meer weet waar om te keer nie en dus die nasionale depressie eerder ontvlug deur emigrasie of ten minste onttrekking.

Die slegte nuus is dat ons nie “die volk”, soos ons dit geken het, kan red nie. Daarvoor is die weerstand te groot, die golf na transformasie en verswarting onstuitbaar, en die Afrikaners eenvoudig te gemaksugtig en individualisties om daadwerklik iets daaraan te doen.

Die goeie nuus is wel dat nie alles verlore is nie. Ook in tye van klaarblyklike ineenstorting is daar plekke van nuwe hoop waaruit die Afrikaners wat nie die knie buig voor die nuwe bewind, of boedel oorgee nie, inspirasie kan put.

Die vergelyking uit die geskiedenis wat my in so ‘n geval altyd byval is die vroeë Middeleeue (om en by 500 na Christus), toe die Romeinse beskawing, reeds grootliks Christelik, deur wilde barbare stamme soos die Vandale, Gote, Hunne en ander weggevee is en ontsettende verwoesting en lyding veroorsaak is.

Dié volke se getalle was net te groot, hulle militêre krag te sterk en hulle haat vir die gesofistikeerde Romeinse Ryk wat hulle met grenswalle wou inperk en op hulle kultuur neergekyk het, te sterk om hulle te keer.

Nogtans het die Christelike beskawing nie uitgesterf nie, maar is in klein uithoeke van Europa bewaar en verder gedra. Veral die kloosters wat hulle in afgeleë gebiede soos Ierland gevestig het en feitlik outargies geleef het, het daarby ‘n rol gespeel.

Nadat die barbare hulle uitgewoed het en die groot stede soos Rome vernietig was, het hulle egter tot rus gekom. Hulle het begin om op die murasie van die Romeinse Ryk nuwe beskawings op te bou. Die monnike en ander wat die Christendom en die hoogkultuur bewaar het, kon nou na vore tree en op vrugbare grond saai.

‘n Honderd jaar of wat later was die grootste deel van Europa weer ‘n sterk Christelike beskawing met ‘n hoogstaande en al hoe meer ontwikkelende kultuur. Die vlam wat in die kloosters bewaar is, het as t’ ware ‘n bos aan die brand gesteek.

Orania is een van daardie “uithoeke” waar dit wat vir Afrikaners kosbaar is gekoester word en vir moedelose volksgenote gewys word: kyk, ‘n ander lewe is moontlik, ook in vandag se tye kan daar Afrikaanse en Christelike skole wees, museums en biblioteke met Afrikaner-kultuurgoedere, Afrikaner-feesdae, gesonde gesinne en kerke wat vol is.

Orania kan ongelukkig nie die hele Afrikanervolk vandag red nie. Net ‘n minderheid sal hier vestig, die origes bly vasgevang in hulle omstandighede of vind die materialistiese en geglobaliseerde lewe meer aantreklik en betaal gewillig die prys van sekularisasie en verengelsing.

Wat Orania wel kan doen is om ‘n plek te wees wat die vlam brandend hou, wat ander inspireer om soortgelyke aksies te loods, en wat diegene wat moeg en moedeloos voel, weer moed en hoop gee dat nog nie alles verlore is nie.

Ander Afrikaner-organisasies het reeds kom kers opsteek om te kyk wat hulle by ons kan leer en hoe hulle kan bydra.

Afrikaners moet egter besef dat Orania net ‘n fondasie is en dat hulle daarop moet help bou. Daar is nie ‘n ding soos “júlle moet dit en dat doen nie”, daar is net “kom óns doen dit!”.

Orania was van die begin af bedoel as ‘n oplossing vir die kernprobleem van die Afrikaner, naamlik geografiese verspreiding en afhanklikheid van volksvreemde arbeid en al die lang reeks gevolge wat dit meebring. Dus is dit nie maar net ‘n oulike en veilige dorpie waar stedelinge weer kan voel soos in hulle kinderdae nie, dit is die plek waar die Afrikaner se voortbestaan sy aanvang neem.

Ons kan nie misdaad in die res van die land aanspreek nie, ons kan nie elke Afrikaanse skool en museum red nie. Wat ons wel kan doen is om ‘n plek te bied waar dit wat vir Afrikaners kosbaar is, bewaar en uitgebou word sodat daaruit weer ‘n Afrikaner-samelewing kan ontstaan.

Tans kan ons enkelinge help om werk te kry, veilig te lewe en hulle Christenskap en kultuur uit te leef en aan hulle kinders oor te dra. Soos wat meer en meer mense by ons aansluit, sal die individuele Afrikaners meer en meer ‘n eenheid vorm en die kern van ‘n hergebore volk word.

Die magdom probleme wat Afrikaners ervaar word nie opgelos deur meer polisie, die doodstraf, ‘n beter staatsdiens, ‘n ander party aan bewind of enige regeringsoptrede nie. Dit word opgelos deur ‘n gemeenskap wat saamstaan en hulself bestuur in hul eie grondgebied.

8 thoughts on “Orania se klein stappe lei tot die uiteindelike oplossing vir die hele volk

  1. Jan

    Orania het sopas sy ‘kritiese massa’ oorgroei. Hoekom?

    Smaak my dis ‘n sielkundige ding – iets wat mense se verbeelding aangryp. Iets wat vir hulle ‘n koste -effektiewe oplossing vir hul nood / behoeftes moet gee. Dis ‘n ‘Beter opsie as oorsee / elders ‘ – soortvan gedagte.

    Dis ook ‘n multidimensionele ding – absoluut alles van menswees is belangrik en moet in balans ontwikkel met Orania.

    Bv veiligheid en sekuriteit en eerlikheid is vir my persoonlik die grootste trekpleister van Orania.

    Maar die bepalende faktor is die mark – of dieselfde voordele elders beskikbaar is as Orania.

    Nou moet ons gaan sit en dink wat is ons UNIEKE bates / produkte van Orania wat jy nie elders gaan kry nie. Bv die beste landbougrond in SA, Die meeste water.ens
    Ag ek dink aan Salt Lake City wat op ‘n soutpan gebou is – wat het daai ouens reggekry?

    My persoonlike gevoel is dat dit lekker behoort te wees om tussen my eie mense te kan bly – dat ons mekaar kan geniet en mekaar kan help om ons volle potensiaal te bereik [ nie net help in nood nie want dit kan jy elders ook kry

    Soos ek sê dis ‘n sielkundige ding of veel eerder ‘n geestelike ding basseer op die mark se stoot en trekkragte

    1. Baie, baie waar Jan!!

      Dis waarom ons die Orania Deli laas jaar geloods het. Sedertdien is derduisende rande skaars produkte en delikatessen van Orania uitgevoer na markte in gebiede waar Afrikaners in groot getalle woon, bv. Pretoria en die Oos-Rand. Die Orania Deli uitvoernetwerk bevorder nie net produksie en werkskepping in Orania nie, maar skep ‘n baie goeie indruk van Orania daarbuite want die reeks produkte, verpakking en kwaliteit is eersteklas!

      As mense (Duitsers en Afrikaners) Suidwes-Afrika se dorre wereld kon bevolk, dorpe bou en ‘n ekonomie van skaal skep, dan kan ek waaragtig nie sien waarom ons dit nie in die vrugbare Oranjeriviervallei kan doen nie.

      Orania is ‘n bewys dat dit gedoen kan word, nou moet ons net verder uitbou, progessief dink, ‘n oplossing gedrewe ingesteldheid kweek onder ons mense en terselfdertyd kreatief te werke gaan.

  2. tulpenvaas

    “Die magdom probleme wat Afrikaners ervaar word nie opgelos deur meer polisie, die doodstraf, ‘n beter staatsdiens, ‘n ander party aan bewind of enige regeringsoptrede nie. Dit word opgelos deur ‘n gemeenskap wat saamstaan en hulself bestuur in hul eie grondgebied.”

    – Endlik vry, endlik vry! Op ons knieë sal ons smeek: Dankie tog, Here, endlik vry!

  3. Pieter Senekal

    Hierdie artikel het my laat besef dat die Afrikaner reeds sy eie ” tuiste” het, in hierdie doel het Orania geslaag. Ons moet meer en meer Afrikaners, wat nie nou daar kan gaan bly nie, kry om finansièl en deur die bemarking van Orania betrokke te raak. Orania moet in die volks mond as die tuiste van die Afrikaner bekend staan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s