Afrikaner politiek en die regstaat

Teen die tyd volgende jaar moet kiesers weer besluit of en vir wie hulle gaan stem. Partye gaan wedywer om kiesers te oortuig dat die grondwet in hulle hande die veiligste is. Die vraag is of dit die regte benadering is. Eintlik moet die grondwet gewysig word om die werklikheid van Suid-Afrika te weerspieël.

Die liberale grondwet waarop sommige partye so trots is, misken die land se verskeidenheid. Die staatskultuur is Afrikanisties en Engelssprekend. Dit skep ‘n klein elite wat noodsaaklike dienste verwaarloos en gewelddadige betogings uitlok. Indiwiduele regte word beskerm, maar eintlik net vir die wat kan bekostig om dit af te dwing.

Talle lande moes al leer dat regering nader aan die mense gebring moet word en kultuurgroepe die mag moet kry om sake wat vir hulle belangrik is, in stand te hou. Na ‘n vernietigende burgeroorlog waarin Eritrië afgestig het, het Etiopië sy grondwet gewysig sodat enige streek volgens vasgestelde prosedure kan afstig. Kultuurgroepe is nou meer geneig om die voordele van Etiopiese burgerskap raak te sien. Kenia is na gewelddadige botsings gestabiliseer toe kultuurgroepe, nie net indiwidue nie, sekere regte verkry het.

Selfbeskikking is ‘n wettige strewe in Suid-Afrika – dit word in Artikels 185 en 235 van die grondwet erken. Uitvoering daarvan word ongelukkig deur ander wetgewing versper. Die sg. “regstellende” aksie, grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging maak dit vir Afrikaners moeilik om selfbeskikking effektief na te streef. Erkenning van kulturele verskeidenheid behoort nie tot een of twee grondwetlike artikels beperk te wees nie, dit behoort ‘n grondliggende kenmerk daarvan te wees.

Selfbeskikking is regte wat gesamentlik aan ‘n groep mense behoort. Neem byvoorbeeld skole. As onderwys deel van selfbeskikking is, is dit moeilik om regte te herroep. Die Skolewet in sy huidige gedaante, aan die ander kant, kan maklik gewysig of gemanipuleer word. Vir die ANC-regering is dit om presies daardie rede belangrik dat selfbeskikking van die tafel af gehou word.

Baie Afrikaners glo dat huidige wetgewing voldoende is. Ingevolge daarvan word die regering en ander instansies hof toe geneem, elke keer wanneer hulle die mag waaroor hulle beskik, te buite gaan. Die argument is dat ‘n mens die politiek uit hierdie soort aksie behoort te hou, om eensgesinde steun onder Afrikaners te verkry. Die regstelsel en grondwet word as objektiewe instrumente beskou, wat deur niemand bevraagteken kan word nie.

Sukses langs hierdie weg oortuig ‘n groot groep Afrikaniste maar net dat die grondwet van 1996 ‘n kompromisdokument is wat op ‘n sekere tydstip noodsaaklik was, maar nou dien om transformasie te dwarsboom. Elke nederlaag sal hulle sterker daarvan oortuig. ‘n Geloofwaardige opposisie sal moet oortuig dat hulle nie net ekonomiese transformasie so goed of beter as die ANC kan deurvoer nie, maar ook simboliese transformasie, byvoorbeeld in die name van dorpe en stede.

‘n Skikking wat Afrikaners die selfbeskikking bied wat vir durende lewenskrag noodsaaklik is, sal op die politieke vlak bereik moet word. Terwyl die instrumente van die regstaat met elke moontlike geleentheid gebruik moet word, moet die instrumente van politieke bedinging nie verwaarloos word nie.

9 gedagtes oor “Afrikaner politiek en die regstaat

  1. Baie goeie artikel Wynand. Ek wonder net… watter “instrumente van politieke bedinging” is daar oor vir ons om te gebruik? As daar nou een instrument is wat Afrikaners self behoorlik opgefoeter het, dan is dit juis ons politieke bedingingsmag. Veral na 1994.

    Kom ons praat maar reguit. Vanuit ‘n beleid oogpunt gesien is daar net een party waarvoor ek kan stem en dis die VF Plus. Ek stem geheel en al saam met alles wat in die party se grondwet staan. Self die nuwe bewoording van die party se missie is vir my in die haak.

    Goed, die VF Plus het al ‘n halwe stem van my kant af te danke aan hul beleid.

    Die ander helfte van daardie stem is afhanklik van die mense wat die beleid moet uitvoer. Dis soos ‘n besigheid – jy kan die beste besigheidsplan in die wêreld hê, maar as die eienaars/bestuur dit nie kan uitvoer nie dan help dit niks.

    Kyk net wat ouens soos Wouter Wessels en sy makkers met die VF Plus Jeug gedoen het, watter piepklein persentasie Afrikaner steun o.a. Corné Mulder, Pieter Groenewald en Abrie Oosthuizen in hul provinsies het en dan vra jy jouself wat de hel maak hulle in die hoogste posisies in die party. Dat daar ’n konkelry aan die gang is om hulle daar te hou is so duidelik soos daglig en dis waar die gangreen nou op hierdie huidige stadium lê en prut.

    Ons saak vereis sterk en duidelike leierskap wat progressief vryheidsgesind en populêr is. In my opinie ly “die manne” wat hulself in leierskapposisies bevind (nie net by die VF Plus nie!) aan ‘n duidelike gebrek om eenvoudig net te “jel” met die meerderheid Afrikaners. Dis waarom 80% + van ons mense eerder agter ‘n Engelse tannie staan, of verkies om net bloot apaties te wees.

    Sny die gangreen uit en jy sal jou instrument van politieke bedinging kry wat nie net die hoofstroom Afrikaners nie, maar ook die regstaat dromslaners en selfs die vlag-verbranders se goedkeuring mettertyd sal wegdra.

    1. Quintin nader aan hierdie waarheid van jou t.o.v. die Vf+ party kan geen mens kom nie – hoe gouer die familiebesigheid verander in n bedrewe en gedrewe poliieke party met mense wat dit verdien om in n leiersposisie daar te staan hoe gouer kan ons Afrikaners iets bereik.

  2. As ‘n selfbeskikkingseis beteken dat Afrikaners, waar hulle hulself ookal in die RSA bevind, sê oor hul eie sake wil hê, kan ‘n politieke party hulle seker maar daarin verteenwoordig.

    As daar van selfbeskikking, in eie onafhanklike gebied gepraat word, dan kan ‘n politieke party, wat landswyd aktief is, nie meer daai takie vervul nie! Dinge raak dan ‘n spesifieke gemeenskap en net hulle het ‘n sê daarin.

    Sou die VF, byvoorbeeld, daarin ‘n rol wil speel, sal hulle ‘n spesifieke vertakking daarvoor moet stig. Hulle verteenwoordigers in ander kiesafdelings se belange lê mos eerstens in hul kiesafdelings en hulle kan slegs namens hul kiesers daar praat.

    Hulle kan net namens die afstiggroep praat mits hul eie kiesers en die afstiggroep hulle ‘n mandaat daarvoor gee. Politieke onderhandeling, met die oog op onafhanklikheid, kan dus slegs deur ‘n gemeenskap begin word wanneer hulle in ‘n duidelik afgebakende gebied die beheer het.

  3. Abram F Celliers

    Wynand, dankie tog daar is nog mense wat soos jy dink.

    Soos Quintin hierbo gesê het, is daar twee dinge wat eers bespreek moet word.

    1. Watter troefkaarte is daar nog oor vir die Afrikaners om mee ter onderhandel
    2. Indien jy die mense by die onderhandelingstafel kry, waarvoor vra ‘n mens.

    Ek glo daar is nog troefkaarte, en dit kan ‘n mens later oor praat. Eintlik die belangrike, is die politieke plan waarmee ‘n mens moet werk.

    As voorbeeld, het ek aan die Europese Unie gedink. Ek is heeltemal bewus van al die probleme waarmee die Europeers te doen kry rakende die EU. Ryk lande moet arm lande subsidieer ens.

    Alhoewel die EU nie vir Europa gaan werk in die langtermyn nie, kan dit dalk vir SA werk. Subsidieer ons nie alreeds die meerderheid nie?

    Die EU is daar om vir Europa mededingend te maak in die wêreld wat oorheers word deur groter lande soos die VSA, Sjina en dan opkomende lande soos Indie, Rusland en Brasilië.

    Dit is veronderstel om ‘n groep lande te wees waar bv. Frankryk, sy eie identiteit kan hou, maar as groep kan saam staan teen die wêreld.
    Dit maak ook dat ‘n mens kan werk binne die EU waar jy wil, en dat daar sekere reels en regulasies is wat jou en jou eiendom beskerm.

    Duitsland is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n land wat die EU vir hom laat werk.

    Ek wil net noem, dat indien ek ‘n Duitser was, of ‘n Nederlander, ek nie deel sou wou wees van die EU nie. Die redes is te veel om nou hier op te noem, maar SA is anders.

    Ons as Afrikaners egter, voel reeds die negatiewe dinge van ‘n tipiese EU, maar het geen van die positiewe nie.
    Ons dra / subsidieer reeds dmv belasting en SEB ander volke en nasies. Terwyl Suid-Afrika Zulu, Xhosa en ander volke se grondgebied erken word, en hulle koningshuise onderhou word, mag ons nie so ‘n voorreg geniet nie.

    Europa sal verstaan as ons ons beroep op so ‘n model, want hulle doen dit self.

    Gauteng kan die Suid-Afrikaanse Brussels wees. ‘n Regverdig stuk grond rondom Orania en Kleinfontein kan ons Luxemburg wees. Die Kaap kan afstig vir die Engelse en Kleurlinge. KZN vir die Zulu’s, die Oos-kaap vir die Xhosa’s ens.

    In kort my redes vir so ‘n model.

    1. Europa ken dit. As hulle dit mag doen, mag ons ook. Ek glo so ‘n tipe model sal buitelandse steun geniet.
    2. Alhoewel ‘n mens nogsteeds ‘n belasting las teenoor die SA – Unie gaan hê, kan ‘n mens ten minste reels en regulasies by dit voeg. Tans moet ons net gee, sonder dat ons ‘n sê het oor hoe dit spandeer moet word.
    3. Ons kan Afrikaner grondgebiede ontwikkel.
    4. Afrikaner belange buite die Afrikaner tuislande, sal beskerm kan word. Ten minste tot die mate wat dit tans beskerm word.
    5. Indien ons weer selfstandig staan, met ‘n weermag, banke ens. kan ons net weer oor die terme onderhandel sodat dit ons pas.

    Hierdie is nie ‘n finale plan nie, maar ek wil graag van die mense op die blog wil hoor of so ‘n politieke skikking dalk ‘n opsie is.

    1. ‘n Federale bestel vir eers sal beslis werk om ons nader aan uiteindelike onafhanklikheid te kry.

      Dis hoekom dit, myns insiens, so belangrik is om juis bande met ander eendersdenkende gemeenskappe soos die Mnyameni te smee…

      Ek kan net dink hoe sterk hierdie gevoel onder honderde duisende Zoeloes moet wees en ek glo samesprekings met iemand soos Buthelezi kan nogal vrug afwerp in ‘n poging om uit te vind wat dié volk se denke rondom selfbeskikking, maar vir eers ‘n federale bestel, is. (Veral in die lig gesien van sy verskoning namens die Zoeloes oor die mmorder by o.a. Blaauwkrans)

    2. Abram, dis beslis ‘n opsie. Ongelukkig maak dit nie saak of Europa dit ondersteun of nie, die regerende party sal dit eers moet koop. Ek dink nie dat hulle enige planne het om “voor Jesus kom” van hul sentrale magsposisie afstand te neem nie. Wynand het mooi verduidelik in sy artikel dat Etiopië eers deur ‘n bloedige burgeroorlog moes gaan voor federalisme (wat jy bepleit) vir hulle sin gemaak het.

      Verder is dit ook belangrik om in ag te neem dat alhoewel daar redelike sterk stam lojaliteit bestaan onder die swartes in SA, hulle oor die algemeen ‘n manier gevind het om saam te werk binne die ANC, ongeag stamverband. Dis asof hulle binne die ANC ‘n federasie van stamme vorm “teen die wêreld” (lees blankes). Ek dink baie mense was ontnugter toe Cope en die IVP so swak gevaar het in 2009. Die swartes is oor die algemeen lojaal teen die ANC en klaar. Maak nie saak of hy ‘n Zulu, Xhosa, Tswana of Ndebele is nie: die ANC het ‘n 75% plus kans om sy stem te kry.

      Vergeet van ‘n Federale Unie van Suid-Afrika. Die ANC stel net belang in sentralisering van mag, nasionalisering van hulpbronne en ‘n outokratiese bestuurstyl (ons is die meerderheid, ons besluit… “If you don’t like it, leave!”). Die graad daarvan hang net af van watter faksie binne die ANC die oorhand oor die res het.

      Onthou ook net dat ‘n gemenebes van federale deelstate (wat jy bepleit) die Nasionale Party se amptelike beleid was gedurende dr Verwoerd se ampstermyn. Toe Afrikaners die wil gehad het en volle beheer oor die tesourie, weermag ens. uitgeoefen het kon ons dit nie maak werk nie. Dit bly in teorie ‘n baie goeie voorstel, maar in praktyk gaan net ‘n handjie vol minderhede dit ondersteun.

      By die Codesa onderhandelings voor 1994 het o.a. die VF en IVP ‘n formele alliansie gevorm om ‘n federale bestel op die tafel te sit teenoor die NP en ANC se sentrale beleid. Beide die VF en die IVP het toe duisend maal meer bedingingsmag gehad as vandag. Die ANC het alles in sy vermoë gedoen om daardie alliansie op te breek en het so goed daarin geslaag dat die IVP heeltemal onttrek het. Hulle het dae voor die 1994 algemene verkiesing eers weer aan boord gekom, maar toe was dit reeds te laat. Die deur het in ons gesigte toegeslaan en behalwe vir artikels 185 en 235 het ons vryheidsgesinde onderhandelaars nie veel anders om vir hul ywer te wys nie.

      Al realistiese oplossing vir Suid-Afrika is ‘n meer gematigde ANC waarin swart kapitaliste groot invloed het. Swart kapitaliste soos Cyril Ramaphosa en Tokyo Sexwale wat weet hoe om die wortel voor die massas se neuse te hou en terselfdertyd ‘n vryemarkekonomie te handhaaf. Daarteenoor moet die opposisie-blok gesamentlik ten minste 34% stem kry om ‘n 2/3de meerderheid te blokkeer. Die opposisie moet ook nie te veel steun kry nie, want dit gaan militante optrede uitlok by die ANC en die kapitaliste daar se posisie verswak ten gunste van die radikale Malemas (dink maar Zanu-PF).

      Al realistiese oplossing vir Afrikaners is ‘n soewerein onafhanklike staat, soos Swaziland of Lesotho, wat opreg goedwillig betrokke is by bv. SADEC en ‘n bydrae lewer om suidelike Afrika ‘n beter plek te maak. Europa sal dit ook goedkeur as ons dit reg doen (alhoewel Europa se goedgesindheid natuurlik net die kersie op die koek sal wees). Dis waarom Orania en ons werksaamhede so belangrik is.

      Ek sien ‘n helder toekoms vir Afrikaners en ek glo dat ons nie net ons vryheid gaan herstel nie, maar ook ‘n manier gaan vind om op ‘n wedersyds voordelige wyse saam met die ander volke van suidelike Afrika te werk. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Kom ons fokus nou daarop om eers ons vryheid te herstel en terselfdertyd brue te bou waar ons kan.

  4. “‘n Skikking wat Afrikaners die selfbeskikking bied wat vir durende lewenskrag noodsaaklik is, sal op die politieke vlak bereik moet word.”

    My vraag is Wynand, deur wie…?

    Ons getalle is so minimaal en die stemgeregde ouderdomsgroep is konstant krimpend, sodat dit vir my baie moeilik is om in te sien hoe ons op ‘n demokratiese wyse die regering gaan oortuig op politieke vlak dat ons ons selfbeskikking moet kry, veral as in ag geneem word dat die meeste Afrikaners soos dit tans lyk, nie eens weet wat die woord selfbeskikking beteken nie en hulle maar doodsluiters inval by die res van die liberale “denkers” wat hulle voorsê dat dié wat selfbeskikking nastreef eerder ‘n spul rassistiese segregeerders is wie se dae getel is….

    Die Orania Beweging kort voetsoldate tussen ons mense wat aktief lede kan wen en ander Afrikaners kan voorsien van die regte informasie.

    Kan daar nie ‘n projek geloods word waar jong Oraniërs wat skool verlaat “sendingwerk” onder mede Afrikaners gaan doen en aan hulle verduidelik wie en wat Orania eintlik is nie?

    Elke betalende lid van die OB kan ‘n ekstra R10 per maand skenk om die lewensonkostes van hierdie ambassadeurs te finansier totdat hulle na ‘n 6 maande, 1 jaar of wat ookal die tydperk is waarvoor hulle te vinde is hul sendingwerk voltooi het en ‘n volgende Oraniër by hulle die leisels kan oorvat…

    Ten spyte van die publisiteit wat Orania al gekry het, positief of negatief, het ekself al in heelparty Afrikaners vasgeloop wat nog nooit eers van die bestaan van Orania gehoor het nie….

    Dankie vir ‘n puik artikel!

    1. Anthony Schlemmer

      Orania het ‘n proffesionele EFFEKTIEWE bemarkings strategie onder Afrikaners nodig.

      Rudolf, jou idee van jong Orania skoolverlaters wat “sendingwerk” in (verkieslik gebiede waar Afrikaners gekonsentreer is) doen, is puik. (Afrikaner feeste kan geteiken word, sjoe daar is baie)

      Huis tot huis besoeke, met pamflette, mondelikse verduidelikings ens. KAN ‘n reuse bydrae lewer indien dit reg gedoen word. Begin met baba treetjies. Teiken eers kleinerige woonbuurtes en kyk wat werk. Verander strategie en of pas aan waar nodig.

      Hierdie is een van baie metodes wat gevolg en nagestreef moet word.

      En ja, dus waar, die meederheid Afrikaners weet nie, of het die verkeerde persepsies oor Orania. Meestal negatief.

      Ons sal dit moet verander, dit is seker ons grootste struikelblok na werkskepping om mense te laat hervestig in die Orania gebied.

      Wynand is mos skoolhoof, miskien kan hulle so ‘n projek onder skoolverlaters begin.

  5. Mike

    Nog ‘n bemarkings voorstel; ek het ‘n tyd gelede aan John Strydom gevra hoekom kan ons nie bv alle OB lede in ‘n streek bymekaar bring by ‘n groot park of ‘n skool of wat ookal nie. Daar kuier almal op ‘n saterdag saam om die braaivleis vure jy sit groot oranje blanje blou vlae op en jy adverteer met strooi biljette dat almal welkom is. Die kinders baljaar lekker en die grootmense praat selfbeskikking en die stalletjies verkoop hulle ware. Hou so ‘n Orania dag een maal ‘n jaar en maak dit ‘n groot fees veral naby groot afrikaner konsentrasies soos die ooste van Pta.

    Daar verkondig jy jou beleid en jy werf so nog meer OB lede.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s