Orania is trots op sy span!

Vir die eerste keer in 22 jaar het Orania ‘n rugbyspan wat kompeterende rugby op klubvlak gaan speel. Die Orania Rugbyklub neem vanjaar deel aan die Griekwaland-Wes-Rugby-Unie (GWRU) se klubliga.

Die laaste rugbyspan van Orania wat klubrugby op hierdie vlak gespeel het, het in die 1970’s deelgeneem, toe Orania nog ’n Waterwesedorp was.

Dit is ’n groot prestasie dat die klub reeds so vêr gevorder het om oor ’n tydperk van ’n jaar ’n kompeterende span op te bou wat dié volkstaatgroeipunt kan verteenwoordig op streekvlak.

Die Orania Rebelle se bestuur het eers deur die dorp se amptelike kanale gegaan om die groen lig te kry m.b.t. deelname. Daarna is die klub eenparig deur die streek aanvaar en kon hy sonder enige voorwaardes affilieer tot die GWRU.

Die Rebelle het vir maande lank op Radio Orania afgekondig dat hulle vanjaar gaan deelneem aan die liga en dat spelers en ondersteuners welkom is om aan te sluit. Daar was ook ‘n gemeenskapsvergadering gehou waartydens die klub se amptelike trui bekendgestel is en geleentheid gegee is vir vrae en antwoorde.

Tydens dié vergadering het die bestuur bevestig dat alhoewel die klub verteenwoordig word in die liga deur sy eie Afrikanerspan, eie aan Orania se kultuur en unieke karakter, hy geen beswaar het om teen ander ras- en kultuurgroepe te speel nie.

Orania neem deel aan die Kimberley-streek, wat 3 spanne uit Kimberley en spanne van Christiana, Warrenton, Jacobsdal, Douglas, Hopetown en Prieska insluit.

“Dit gaan oor rugby, nie politiek nie, en die Rebelle is goed,” sê Winston du Plessis, ondervoorsitter van die unie se Kimberley-streek waaronder Orania val. Hennie van der Merwe, president van GWRU, steun hom.

“Kom ons kyk wat gebeur. Hulle is bereid om teen almal te speel en enige span kan op Orania teen hulle speel. Ek kry van nêrens af moeilikheid hieroor nie. In elk geval, hoeveel ander wit spanne is daar?”

Die Rebelle is ingedeel in die suid-streek saam met Jacobsdal, Douglas, Hopetown en Prieska. Hierdie dorpe het trotse rugbyklubs en word vir dekades lank ondersteun deur hul plaaslike Afrikanergemeenskappe.

Orania se inspirerende ideale en oplossings word dus vir die eerste keer na Afrikaners in die volkstaatstreek toe gevat deur middel van kompeterende rugby. Terselfdertyd word vriendskapsbande gebou met alle gemeenskappe in die streek.

Volgens Du Plessis “is ons saam met die Orania Rebelle om dieselfde tafel, op dieselfde voet. As ons in die liga nie probleme het met hulle nie, hoekom moet mense daarbuite probleme hê?

“Ons fokus is rugby, nie ras nie. Ons jaag nie spelers weg nie. Ek het nog geen rassisme van die Orania-mense ervaar nie. Ná elke wedstryd kuier ons saam.”

Die spelers, ’n paar individue en ’n plaaslike besigheid, nl. Orania Toere, het kragte saamgespan om ordentlike klubtruie, broeke, kouse, rugbystewels, sosiale drag, ’n duiksak, skild en ’n paar balle aan te koop.

Orania Dorpsraad het ’n pragtige nuwe klubhuis met eersteklas geriewe langs die rugbyveld gebou wat gratis deur die klub gebruik mag word. Verder huur Orania Toere ook ’n ruim woonhuis in Orania waar belowende, maar behoeftige spelers tans gehuisves word.

“Ons wil graag op dié wyse vir jong Afrikaners, wat potensiaal het en bewys dat hulle bereid is om hard te werk, help om op hul voete te kom in Orania,” verduidelik Rozanne Diederichs, klubsekretaris.

Die Rebelle se eerste tuiswedstryd skop op Saterdag 4 Mei om 15:00 af. Dit beloof om ’n klipharde kragmeting te wees want Orania kom vir die eerste keer te staande teen sy buurdorp, nl. Hopetown.

Orania Rebelle moet deurlopend toerusting aankoop, sy noodhulp geriewe aanvul en geld opsy sit vir bedryfsuitgawes soos vervoer, energiedrankies en medisyne. Ten einde fondse in te samel, het die klub netjiese Orania Rugbyklub gholfhemde laat maak, wat tesame met seisoenkaartjies en klublidmaatskap verkoop word teen slegs R 250 per persoon.

Byna 60 seisoenkaartjies is al gekoop deur Oraniërs en alle rugbyliefhebbers in die dorp staan bankvas agter hul nuwe span. Voorwaarts Orania!

Bestel jou Orania Rugbyklub gholfhemp en seisoenkaartjie by kontak@oraniatoere.co.za

bestuur

VLNR: Gawie le Roux (klubkaptein), Johan Cloete (hoofafrigter) en Quintin Diederichs (HUB) staan voor nuwe klubhuis. Gawie dra die klub se amptelike wedstryddrag, Johan die klub se sosiale drag en Quintin die bestuursdrag.

5 thoughts on “Orania is trots op sy span!

  1. theo

    Baie geluk met die span,ek is seker hulle sal goed doen,maar daar is baie om te leer en ek het reeds aangebied om met tegniese inligting te help! Ek het onlangs kursusse by Investec en Saru bygewoon!Quintin weet waar om my in die hande te kry!

  2. tulp

    Baie oulik, ouens. Ons is so bly, ieder stap wat die Orania-werkers maak vorentoe. n Tuiste vir die Afrikanervolk en weg van rassisme! Hoera! Hoera!

  3. Jan

    Baie geluk en seenwense julle het ‘n groot deurbraak gemaak!!
    Baie trots. Die moderne tendens is juis gesondheid en fiksheid ens.
    ‘Wellness programs’ [help met die afrikaans asb] Veral vir die ouer mense.
    Ontsaglik waardevol. Nou nog net vir borge / beleggers in die gesondheidsindustrie van Orania!! In plaas van siekteindustrie….

  4. Jan

    Liewe Quintin en die span!!
    Natuurlik was daar mense wat geskrik het vir die blootstelling en gevare en Naspers het natuurlik maksimum myle probeer maak om verwarring en spanning onder vriende te probeer skep.

    Maar hulle het klaaglik misluk in hul doel van skeurmakery met oorweldigende rekord positiwiteit onder die kommentare van die berig. Ek meen ons ken dit mos al by die tyd. – waar die Naspers honde ons gebyt het het dit mos mooi gesond geword.

    So die ys is gebreek en die tirannie van die status quo is be-eindig. Fantasties!!

    Laat ons volkie se kernsplitsing nou oorgaan in die ontsaglike groter energie van kernfusie van ons Volk in Orania. Hierdie goed wat julle nou reggekry het het geweldige potensiaal en groei eksponensiaal tot mag twee: 2 4 8 16 32 ….

    Gaan voluit kerêls en laat daar altyd een wees wat die los balle optel en dryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s