‘n Afrikaanse pleknaamregister

Die ANC-regering se pogings om plekname in Suid-Afrika te verander, was verlede week sterk in die nuus. Soos met vorige suksesvolle hofaansoeke, argumenteer AfriForum dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie en dat die betrokke naamsveranderings ongeldig is. Tog gaan dit oor meer as korrekte prosedures, maar oor die kern van Suid-Afrika se identiteit.

Afrikaners se veelbewoë geskiedenis in Suid-Afrika word onder andere in plekname vergestalt – plekke wat deur vorige geslagte gevestig en opgebou is. In ANC-kringe word toenemend beweer dat alle grond waaroor witmense beskik, onregmatig verkry is. Daarom wil hulle ons pleknaam-erfenis sonder skroom misken en tot niet maak.

Lande wat hulle kulturele verskeidenheid erken, erken dit ook in onderskeie plekname. Daar is letterlik honderde voorbeelde, maar kom ons noem net een: Die antieke hoofstad van Karel die Grote se Frankiese Ryk is in die verre weste van Duitsland geleë. Franse, Duitsers en selfs Nederlanders het historiese en kulturele bande met dié stad, wat derhalwe as Aix-la-Chapelle, Aachen en Aken bekend staan.

Suid-Afrika het ook ‘n geskiedenis van plekke wat verskillend benoem word. Pretoria, Nylstroom, Pietersburg en talle ander plekke het sedert hulle ontstaan name in Afrikatale naas die Afrikaanse name gehad. In die 1980’s moes Transvaalse hoërskoolkinders wat Noord-Sotho as vak geneem het, daardie name aanleer. Die SAUK se radiodienste in Afrika-tale het ook hierdie plekname in nuusbulletins gebruik. Die erkenning van verskeidenheid was ‘n grondtrek van daardie staatsbedeling.

Miskenning van verskeidenheid is ‘n grondtrek van die ANC se staatsbedeling. Daarom is hulle stelselmatig besig om hulle eie erfenis in plekname te vergestalt en op slegs een naam per plek aan te dring.

Dit is interessant dat die Kaapse owerheid in die negentiende eeu en Transvaalse owerheid na 1902 op soortgelyke manier Afrikaanse plekname vervang het. Germiston, Springs, Williston en Carnarvon is plekke wat vroeër Afrikaanse name gehad het. Afrikanerregerings het self enkele plekname verander, soos Roberts’ Heights na Voortrekkerhoogte. Die huidige veldtog is egter die omvattendste in Suid-Afrika se geskiedenis.

‘n Afrikaanse pleknaamregister kan ‘n waardevolle instrument wees om verwarring uit te skakel, Afrikanererfenis te behou en die ANC se beeld van Suid-Afrika as eenheidstaat te ondermyn. So ‘n register kan alle heersende en vorige Afrikaanse plekname bevat en aandui wanneer die alternatief amptelik aanvaar is. ‘n Lys van plekname wat gehandhaaf word, ongeag die verloop van regsaksies, kan hieruit vloei.

‘n Veldtog kan selfs grondeienaars aanmoedig om vooraf ontwerpte borde aan te skaf waarop die Afrikanernaam van ‘n dorp of straat aangebring is. Dit kan besoekers wat byvoorbeeld Pretoria ongereeld besoek, help om hulle pad te vind, terwyl die erfenis behoue bly.

Die pleknaam-erfenis durf nie aan vyandige wetgewers oorgelaat word nie – ongeag of hulle die korrekte prosedure volg. Vir Afrikaners se langtermyn oorlewing is dit noodsaaklik dat die regering gedwing word om Suid-Afrika as ‘n land met kulturele verskeidenheid te erken. Plekname is nie die enigste terrein waarop dié erkenning afgedwing moet word nie, maar op simboliese vlak, een van die belangrikstes.

 

 

8 thoughts on “‘n Afrikaanse pleknaamregister

  1. Sara

    Ja, dis so jammer dat die DA in die Wes-Kaap waar die meeste Afrikaanssprekendes woon ook plekname een vir een verander. Seker maar om swart stemme te wen. Rhodes en Milnerton bly egter vasstaan al was hulle ook verantwoordelik vir baie wandade onder wit en swart Suid-Afrikaners. So ‘n pleknaamregister is ‘n goeie idee. In Ierland word die Gaelic en die Britse naam deurgaans op alle rigtingwysers aangedui. En die Iere was/is ook nie lief vir die Britte nie.

  2. Jan

    Kosbare gedagte Wynand – as ons dit nie self doen nie sal niemnad anders dit vir ons doen nie. Soos Orania se hele grondslag !!
    Selfdoen is selfbeskikking is vryheid.
    Ek is aangenaam verras om in PRAAG te lees van ‘n projek Ou Nuweland basseer op die Orania strategie van besetting en selfwerksaamheid. Skitterende nuus….

    Duidelik dat ons die Rubicon van vreemde arbeid oorgesteek het na die Beloofde land asteware. LOL

  3. Ebert

    Interessante voorstel Wynand.

    Die vraag is een van identiteit en ek wonder (as julle my sal verskoon om duiwelsadvokaat te speel) of Afrikaanse name die ware identiteit van die meeste plekke in Suid-Afrika weerspieel?

    Beskryf die naam Nylstroom ‘n plek akkuraat waarvan 86% van die inwoners nie Afrikaans as huistaal praat nie? Is Nylstroom dan op sy beste nie dalk net ‘n woonbuurt van Modimolle nie?

    Die geskiedenis (en kaart van Europa) is deurspek met plekke wat ‘n nuwe naam gekry het omdat die bevolking verander het. Neem Koningsberg in Oos-Pruise as voorbeeld. Die eens trotse Duitse hoofstad se Duitsers het gevlug en die Pole wat vandag daar woon noem die plek Kaliningrad. Om voor te gee dat dit steeds Koningsberg is, is om in ‘n verlede te leef wat nie meer bestaan nie.

    Net so het Konstantinopel sy naam verloor toe hy sy meerderheid-Griekse bevolking verloor het. Die nuwe Turkse inwoners het meer aanklank by Istanboel gevind. Ten spyte daarvan dat Konstantinopel deur Grieke gevestig is en dit vir eeue lank die hoofstad van die Bizantynse ryk was.

    Mens sou argumenteer dat die kies van die naam van die plek waar jy bly, ‘n basiese demokratiese reg is, wat nie weerhou kan word indien die nuwe naam die identiteit, wil van die mense en werklike kultuur van die plek verteenwoordig nie, ongeag wat die geskiedenis van die plek was. Mense leef immers in die hede en nie in die verlede nie.

    Dit is ‘n tweesnydende swaard. Ek sou immers graag vir Afrikaners die reg wou opneem om die name van plekke soos Hopetown, Britstown, Carnarvon en Williston te verander wanneer ons daarin slaag om ‘n meerderheid in daardie gebiede te vorm.

    Apartheid het vir lank deur oëverblindery die mite in stand gehou dat Suid-Afrika ‘n wit land was. Daardie mite het daartoe bygedra dat Afrikaners daarmee gemaklik was om yl-verspreid oor die hele land te woon en te werk, want skole, woon-, werksplekke en dienste is deur kunsmatige skeiding in hul kultuur vir hul toeganklik gemaak, in plekke wat geklink het asof hulle Afrikanerplekke was.

    Dalk skuil daar tog voordeel in die naamsverandering vir ons. Dalk sal Afrikaners ‘n groter behoefte ontwikkel om tussen hul volksgenote te wees wanneer die kultuurvreemde werklikheid van die omgewing waarin hulle hulself as minderheid bevind, duidelik begin deurskemer.

    Om terug te verlang na ‘n glorieryke verlede wat nie meer bestaan nie deur vas te klou aan plekname wat in onbruik verval het, hou na my wete nie ‘n strategiese voordeel in vir die stryd wat ons moet stry nie.

  4. Wynand

    Ebert, natuurlik is my eerste neiging om met jou saam te stem, dit is immers hoekom ek in Orania woon, en nie Nylstroom/Modimolle waar my wortels lê, of selfs Pretoria, waar ek groot geword het nie. Aan die ander kant het ek beleef watter aggressie dit by goeie vriende soos Willie Spies ontlok as mens die pleknaamstorie as “agterhoede gevegte” bestempel. Ek het die saak oordink en met myself ‘n kompromie bereik.

    Anders as Konigsberg, waar letterlik alle Duitsers na die Tweede Wêreldoorlog verdryf is, is daar nog lewenskragtige Afrikanergemeenskappe in byvoorbeeld Nylstroom. Hoewel dit tot die begrip van magsverlies, en dus die ontwikkeling van Orania (of emigrasie) kan bydra, sal dit kunsmatig wees Waterbergers om na hulle dorp as Modimolle te verwys.

    Die punt wat ek belangrik ag, is dat kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika erken moet word, as noodsaaklike voorloper vir enige vorm van selfbeskikking. Plekname kan werklik hierin ‘n belangrike rol speel. Afskeid van plekke in die ANC-oorheersde Suid-Afrika hoef nie so finaal te wees dat ons sommer die vyand se name ook aanvaar nie.

    1. Ebert

      Wynand, ek verwag nie van Afrikaners om by die nuwe name in te val nie. Al het ek nooit daar gewoon nie, is Pietersburg vir my ‘n makliker verwysing as Polokwane en sal dit so bly.

      Wat futiel is, is om te verwag dat ander by ons name gaan hou.

      Ek is nie seker waarom mense kwaad sal raak vir die term “agterhoedegeveg” as dit duidelik is waarmee hulle besig is nie. Waarskynlik omdat hulle voel mens kyk neer op daardie geveg of ag daardie geveg minder belangrik of minderwaardig.

      Soos ek gestel het, maak agterhoedegevegte op hul eie of in isolasie glad nie strategiese sin nie.

      Agterhoedegevegte maak egter baie sin indien dit in samehang met ‘n voorhoedegeveg gevoer word. Soos jy sê, is die sukses van ‘n agterhoedegeveg (in die vorm van erkenning van kulturere verskeidenheid) ‘n voorloper vir sukses op die voorhoede (selfbeskikking). ‘n Suksesvolle agterhoedegeveg kan waardevolle tyd en hulpbronne vir die voorhoedegeveg ontsluit, waarsonder daar nie op die voorhoede geveg kan word nie.

      Dit is egter dan noodsaaklik om te weet wat die doel van ‘n agterhoedegeveg is en hoe dit gaan bydra tot sukses in die voorhoedegeveg, want anders mag daar soveel op die agterhoede gefokus word dat die voorhoede agterweë gelaat word. ‘n Geval van doen die een en laat die ander nie agter nie.

      Daar moet ook ‘n strategie wees vir hoe daar van die agterhoede onttrek gaan word wanneer daardie geveg sy noodwendige einde bereik. In die Engelse sakewêreld word van ‘n “exit strategy” gepraat. Uit die aard van die saak is dit belangrik om strategie geheim te hou in enige stryd, want anders kan die opponent die inisiatief by jou oorneem, maar mens sou hoop dat diegene wat die agterhoede patrolleer wel hul ontrekkingstrategie in plek het. Anders kan dit lyk soos toe die VSA uit Viëtnam onttrek het, met beelde van helikopters wat in die see gegooi word in desperate chaos. Of Portugese wat Angola en Mosambiek verlaat met slegs die klere aan hul lywe.

  5. Wynand

    Ebert, ek stem met elke woord in jou inskrywing saam. Dit is presies die doel met ‘n nie-amptelike pleknaamregister – om nie ons name op ander af te dwing nie, maar tog die volgehoue gebruik daarvan aan te moedig. Dit haal die gebruik van ons name uit die raamwerk van reaksionêre politiek en plaas dit in die raamwerk van die omvattende stryd om selfbeskikking.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s