Agtergrond tot die grondvraagstuk

Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mnr Gugile Nkwinti, wil met wetgewing die tydperk vir grondeise verder uitstel. Dit kan kommersiële landbou net destabiliseer.

Aansprake en teen-aansprake moet histories en ekonomies beskou word. Emosie moet nie bestry nie, maar verreken word. In die finale instansie is grond nie net ‘n kommoditeit of ‘n produksiemiddel nie, maar ook die bodem van ‘n volk se bestaan. Daarom word mense aan alle kante, boere of nie, deur grond aangespreek.

Etlike duisende jare gelede is Suider-Afrika reeds deur jagter-versamelaars en veeherders bewoon; die later Khoi-San. Sedert ongeveer 1200 nC het landbouers, volkekundig gesproke die Suidoos-Bantoe, die gebied stelselmatig verower. Teen 1600 het hulle alle dele waar somergraan verbou kan word, beheer. Die Khoi-San het toevlug in woestyngebiede, bergskuilings en die winterreënstreek gevind.

Teen 1800 het bevolkingsdruk ‘n bepaalde drempel oorgesteek. Herordening en migrasie het gevolg, waartydens sekere stamme se gesag aggressief gesentraliseer en ander stamme aangeval het. Ander het om defensiewe redes gesentraliseer, terwyl nog ander na bergskuilings gevlug het. Teen 1835 was groot dele van die huidige KwaZulu-Natal as gevolg van Zulu-aggressie ontvolk, terwyl die Matabeles bykans alle stamme uit die hoëveld van die latere Transvaal en Vrystaat verdryf het. Die Voortrekkers het beide koninkryke se greep oor omliggende stamme beëindig. Onderwerping sou eers dekades later onder die Britse Ryk volg.

Beveiliging van die binneland het die Voortrekkers regoor die verowerde gebiede laat vestig. Swart stamme het ook na hulle vorige blyplekke teruggekeer en konflik het oor botsende grondaansprake ontstaan. Die konsep van private grondbesit, wat tevore onbekend was, is ingevoer.

Die volgende rewolusie in besit en gebruik van grond het met die ontdekking van diamante en goud in 1860 en 1886 gevolg. Terwyl swart boere die mark vir landbouprodukte effektief bedien het, was hulle begrip van die grondmark beperk. Blanke boere, maar veral grondspekulante, het groot stukke stamgrond gekoop, sonder dat verkopers besef het hulle word permanent daarvan vervreem. Grond is dikwels terugverhuur, sodat hulle van kommunale grondeienaars na “plakkers” gedaal het. Hulle kon dan maklik verwyder word wanneer die nuwe eienaar die grond meer lonend wou aanwend.

Hierdie dinamika is met die 1913 Naturelle Grond Wet gestuit. As teenkant van ‘n wet wat onder blanke kiesers ongewild was, is ook bepaal dat swartmense nie grond in “wit” gebiede kon koop nie. Dit is in 1936 aangevul met ‘n wet waarvolgens nog grond wat tevore as “wit” geklassifiseer was, vir oordrag aan swart eienaars gekoop sou word.

Die huidige beeld van sistematiese statutêre grondroof ingevolge hierdie wetgewing, is vals. Belangriker as die valsheid is egter die feit dat die huidige regering die mag het om wetgewing telkens te wysig, om ‘n oorgang van grond na swart hande te bewerkstellig.

Onderhandelings oor grond moet in dieselfde ernstige lig as die politieke onderhandelings voor 1994 gesien word. Die fout van oordrewe verwagtings en swak onderhandelings as gevolg waarvan ‘n mens alles verloor, kan nie weer bekostig word nie.

 

 

4 thoughts on “Agtergrond tot die grondvraagstuk

  1. Wynand

    Wat grond betref, besit ons nog die grond en is verantwoordelik vir heelwat voedselproduksie. Die slaggat waarin al die landbou-organisasies trap is om so ver moontlik van politiek af te bly en grond in blote ekonomiese lig te beskou. Op grond daarvan verstaan hulle glad nie hoekom die regering grond verder wil hervorm as bestaande projekte so aan hou misluk nie. Om die regering te help om die hoogs emosionele saak van grondbesit vir sy eie ondersteuners bevredigend te hanteer, is een van die laaste magsbasisse waaroor Afrikaners beskik. Dit moet reg aangewend word, maar tekens lyk nie goed nie.

  2. Jan

    Wynand, ek sien Dr Muller het terreg daarop gewys dat die 1913 wet binne konteks van die tyd gesien moet word.- dat dit inderdaad ‘n 50;50 verdeling kon gewees tien jaar na die grondroof van die ABO — LW indien die Boeregrond buite rekening gelaat sou word.

    Vereers is die Boererepublieke onteien en terselfde tyd is daar swart protektorate opgerig [Tuislande / Volkstate] vir Swazis Twanas en Sothos. Die 1913 wet het dus die ABO grondroof projek gefinaliseer en die wittes op rie Restantgrond gevestig

    [ Dit was vir EKONOMIESE misdadige redes JA]

    Inderdaad is daar Swart Volkstate opgerig en op die Wit Restant grond is Apartheid ingestel – vir POLITIEKE redes ja!

    Dit sal mos vir ons Onteiende Boere Volk geweldige voordeel in hou as die proses van Protektorate.\ Volkstate /Stamowerhede voortgesit word deur die 1913e wet totaal te skraap.

    Dis waarmee Dr Verwoerd besig was en dis wat die Wit Tsafendaskultus met alle mag beveg.

    En dis waarmee Orania besig is vir politieke redes sowel as ekonomiese redes Volkstate in plaas van Rasstate is die weg vir die toekoms. .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s