Selfbeskikking en ‘n kwotavrye sone

republiek61

 Afrikaners herstel self hul vryheid, 31 Mei 1961

Selfbeskikking is ’n internasionale begrip wat na die Eerste Wêreldoorlog gebruik is om konflik te beëindig en te voorkom. Daardie oorlog is deels deur die saamdwing van etniese en taalgroepe in die Oostenrykse, Turkse en Russiese Ryke veroorsaak. Deur elke etniese groep soveel moontlik seggenskap oor hulleself te gee, is gehoop om durende vrede te bewerkstellig.

Miskenning van Oos-Europese volke se selfbeskikking het twintig jaar later grootliks tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog bygedra. Hierna is selfbeskikking ook na koloniale gebiede uitgebrei, wat tot onafhanklikheid in Afrika en Asië gelei het.

Die Afrikaner het ’n lang geskiedenis van selfbeskikking. Vir bykans 150 jaar is dit teen die Britse Ryk gehandhaaf. Swart stamme se selfbeskikking is deels erken, op voorwaarde dat arbeid vir boereplase beskikbaar was. Gelykstelling was ’n vloekwoord. Dit het ’n ander geskiedenis van bitterheid veroorsaak.

Afsonderlike ontwikkeling was ’n laat poging om ’n Suid-Afrikaanse magstryd te ontknoop deur selfbeskikking aan alle groepe toe te ken. Soos doktor Nic Rhoodie in 1966 waargeneem het, was Afrikaners nie te vinde vir die “geo-politieke konsekwensies” daarvan nie en die gewenste uitkoms is nie behaal nie.

Die skikking van 1994 is in Afrikanergeledere uiters omstrede. Was dit die beste moontlik, soos oud-president FW de Klerk steeds volhou, was ’n beter skikking moontlik, soos sommige ander oud-NP’s dink, of was dit ongedwonge en verraderlik, soos ander beweer?

Onder ongunstige omstandighede kon die Vryheidsfront Artikel 235 by die grondwet laat insluit en die adjunkminister van staatkundige ontwikkeling, mnr. Valli Moosa, beweeg om te erken dat die strewe na ’n Afrikanergebied tussen die Oranjerivier en die weskus ’n geldige strewe is. Die regering is nie verplig om selfbeskikking te verwesenlik nie, maar mag ingevolge genoemde bepalings ook nie die strewe daarna verongeluk nie.

Aan die ander kant móét selfbeskikking binne die raamwerk van die grondwet nagestreef word – sonder diskriminasie. Hoewel dié bepalings vir talle Afrikaners ’n teleurstellende troosprys was, kon Kleinfontein hom tydens die laaste aanslag daarop beroep.

Met rassekwotas in grondbesit en indiensneming word selfs die geldige strewe, soos deur die Moosa-verklaring erken, van ‘n Afrikanergebied in die weste, bedreig. Om dit as kwotavrye sone te laat erken, kan tog die deur vir ‘n streek van selfbeskikking oophou. Die drie westelike distriksmunisipaliteite in die Noord-Kaap het die nodige potensiaal, maar is steeds laag ontwikkel. Die waarde van ‘n kwotavrye sone is nie dat alle Afrikaners hulle belange meteens soontoe moet verskuif nie, maar dat die swaard van onteiening en verpligte indiensneming êrens afwesig is. Dit kanselleer natuurlik nie Afrikaners se gevestigde regte elders in Suid-Afrika nie.

Die regering sal nie selfbeskikking tot stand bring nie, dit kan bloot oorreed word om vorige ondernemings gestand te doen om dit nié te blokkeer nie. Om ‘n gebied te ontwikkel waar Afrikanerwaardes staatkundig uitgeleef kan word, bly die Afrikaner se eie plig.

So ‘n kwotavrye sone moet nie bloot as ekonomiese moontlikheid aangebied word nie, maar as voortsetting van vorige grondwetlike ooreenkomste. Dit kan noodsaaklike stukrag aan ooreenkomste bied wat andersins in die niet kan verdwyn.

11 thoughts on “Selfbeskikking en ‘n kwotavrye sone

  1. Mike

    Hierdie is ‘n belangrikke feit wat Wynand hier noem wat ek dink nie baie afrikaners wat selfbeskikking voorstaan besef nie veral organisasitjies soos OASE. Ek wil byvoeg die afrikaner gaan moeilik oorreed word om uit sy gemaksone pad te gee.

    “”Die regering sal nie selfbeskikking tot stand bring nie, dit kan bloot oorreed word om vorige ondernemings gestand te doen om dit nié te blokkeer nie. Om ‘n gebied te ontwikkel waar Afrikanerwaardes staatkundig uitgeleef kan word, bly die Afrikaner se eie plig””

    Mens kan jou ook self indink waarom die ANC hom nie self wil blootstel aan kritiek en nog meer sou hy te veel aandag gee aan afrikaner selfbeskikking nie. Ek sou nie te veel aandag gee aan ‘n onwillige regering en bv die volksraad se saak by die MRK nie. Die groot taak lê nog voor en dis om die afrikaner te oortuig dat selfbeskikking vir hom en sy kinders ‘n toekoms kan verseker in ‘n onseker wereld.

    Begin by die jeug wys hulle eerstens op die regverdigheid van die afrikaner se eis om selfbeskikking en bied dan aan hom ‘n beter toekoms as wat die DA/ANC aan hom kan bied.

  2. Die Noord-Kaap is reeds ‘n Afrikaanse taalstreek, m.a.w. ‘n internasionaal erkende provinsie met ‘n oorgrote meerderheid Afrikaanssprekende bevolking. Die minderheid bestaan basies uit Engels, Tswana, Sotho en Xhosa gemeenskappe.

    Die Afrikaanssprekendes kan in 4 hoof kultuurgroepe ingedeel word, nl. Afrikaner, Griekwa, Khoi-San en Nama. Al 4 hierdie groepe het hul eie identiteite, geskiedenis en tradisies wat duidelik van mekaar onderskei kan word. Al 4 het natuurlik ook ‘n baie sterk behoefte om hul idenititeit te bewaar en sal baie maklik kan saamstaan wanneer dit by gemeenskaplike kwessies soos bv. moedertaalonderrig, gedwonge raskwotas (7 swart + 1 bruin + 1 wit + 1 Indier) ens. kom. Die norm in die res van Suid-Afrika is nie van toepassing op die Noord-Kaap nie – en tot ‘n mindere mate seker ook nie die Wes-Kaap nie.

    Die werklikheid is dat die Afrikaner ‘n minderheidsgroep binne hierdie taalstreek is en dat Orania tans ‘n baie klein deel van die Afrikanerbevolking hier uitmaak. Nietemin, Orania is sonder twyfel ‘n internasionaal erkende Afrikanergemeenskap, of kanton, met ‘n bevolking wat stelselmatig toeneem teen die stroom van verstedeliking elders in die provinsie.

    Dit sal beslis in Orania se beste belang wees om die beginsels van lokalisme, selfbestuur en selfonderhoudenheid doeltreffend uit te dra na ander Afrikaanssprekende kultuurgroepe in ons streek – die meerderheid Noordkaapse Afrikaners in kluis. Beginsels van rassisme, raseksklusiwiteit en groepsmeerderwaardigheid vind aanklank by ‘n baie klein groepie ekstremiste aan beide kante, so diegene wat ‘n staatkundige bestel daarvolgens wil realiseer kan maar daarvan vergeet.

    Sou ons daarin slaag om verteenwoordigers van alle Afrikaanssprekende groepe in die Noord-Kaap om ‘n tafel te kry en konsensus bereik ten gunste van ‘n outonome Afrikaanse provinsie, dan maak dit die deur oop vir die kwota vrye sone wat Wynand hierbo bespreek.

    Die gedagte van ‘n Afrikaanse land wat bestaan uit ‘n gemenebes van Afrikaner, Griekwa, Khoi-San en Nama volkstate wat op ‘n federale grondslag funksioneer maak my baie opgewonde oor die toekoms!!

    1. Mike

      Quintin ek kan nie veel meer sê nie veral op jou laaste paragraaf behalwe dat dit my ook baie opgewonde maak. Het daar al samesprekings plaasgevind oor hierdie plan?

    2. Die groot vraag is natuurlik tot watter mate die Griekwa, Khoi-San en Nama vir so ‘n opset te vinde sal wees? Hou in gedagte dat dié gemeenskappe nie op dieselfde tegnologiese en ekonomiese vlak as die Oraniërs is nie! Hulle is ook grootliks van staatshulp afhanklik.

      Sou hulle wel tot so ‘n kon-federasie instem maar nie ekonomies selfstandig wees nie, mag hulle dalk op ons staatmaak vir oa werksgeleenthede en ander gemeenskapsdienste.

      Die gedagte aan ‘n groot gebied onder ons beheer sal dan die kiem van sy eie ondergang in hom dra soos wat dit die geval in die ou Suid-Afrika was.

      Die Boere-republieke, mits daar nie ‘n Tweede-Vryheidsoorlog was nie, sou tog ook met die rasprobleme, wat aanleiding tot die huidige situasie gegee het, opgesaal wees.

      Orania werk! Dit werk as ‘n selfstandige kanton en soos wat dit groter word sal dit ook meer so word. Sommiges beskou dit reeds as die finale bestemming, ander beskou dit as die vertrekpunt na iets baie groters. Vir my sal die ideaal nog kantonne soos Orania, naasliggend aan mekaar, wees.

      Ons het ‘n bewese resep en soos wat die tyd daarvoor ryp word hoef dit net in dieselfde gebied herhaal te word. Grootse planne se grootheid sal so bepaal word.

      Wynand se gedagte aan ‘n kwotavrye gebied sal dinge natuurlik vergemaklik!

      1. Mike

        Ben die bestaande ooreenkoms met die Mnaymeni (weet nie of dit reg gespel is nie) gemeenskap sal dit nie soortgelyk wees aan enige ooreenkoms met bv die Khoi nie? Goed ek besef die betrokke gemeenskap le baie ver van Orania af maar ek dink tog om die konfederasie nou te bekyk en te bespreek met hulle kan dalk vir ons ‘n voorsprong gee.

        Met die ooreenkoms tussen al die groepe kan daar dalk ooreengekom word oor beperkte hulp aan mekaar. Ek is oortuig die volksgroepe wat jy hier noem sal so-iets ernstig oorweeg as jy hulle posisie onder die ANC bestel in ag neem. Hulle besef hulle het geen toekoms onder enige swart regering nie en hulle wil ook politieke seggenskap oor hulleself he.

      2. Mike, Mnyameni is bloot ‘n welwillendheidsgebaar deur die Orania beweging. Daar is geen verdere politieke stertjies daaraan verbonde nie!

        Danté, ‘n kwota vrye gebied sal hoe groter hoe beter wees! Dit sal vir ons net meer beweegruimte gee. ‘n Sterk en kapitaalkragtige Orania sal die aanvanklike dryfkrag agter die stigting van verdere kantonne moet wees.

        Soos wat daar meer dorpe, sê maar met so tienduisend inwoners elk tot stand kom, so sal daar met die belastinginkomste al hoe groter projekte aangepak kan word en hoe gouer sal die punt van afskeiding bereik word.

        Die belangrikste nóu is die uitbou van Orania self!

  3. Dante Strauch

    Ek dink die kwota vrye sone is ‘n goeie idee, maar dit moet nie te groot gebied beslaan nie en verkierslik ‘n plek soos Kimberly uitluit, anders gaan daar die gevoel ontstaan dat ons minderheid Afrikaners ons wil op die meerderheid wil afdwing. Wat ek dink van nog groter waarde sal wees is dat grondeienaars en besigheids eienaars hul eers skriftelik moet verbind tot selfbeskikking voor hul kwytskelding sal ontvang, dan sal baie meer Afrikaners in die gebied ook op die wa spring! Oor die “Afrikaanse profinsie” stem ek saam met oom Ben. Ons moet ook onthou dat meeste van die bruingemeenskap in daardie gebied die ANC ondersteun! Dit sal beperkte waarde he waar taalkwessies ter sprake kom omdat in die eerste plek Afrikaans as taal reeds gedien word bv in skole en waar genoegsame mense van ander taalgroepe voorkom sal hul moet akkomodeer word al is dit in ‘n Afrikaanse streek.

  4. tulp

    “Orania werk! Dit werk as ‘n selfstandige kanton en soos wat dit groter word sal dit ook meer so word. Sommiges beskou dit reeds as die finale bestemming, ander beskou dit as die vertrekpunt na iets baie groters. Vir my sal die ideaal nog kantonne soos Orania, naasliggend aan mekaar, wees.”

    reg so, Ben. Ons noem dit ‘Operasie Redding’. Hande uit de mouwe. Ons moet plakkerskampe toegaan en die boodskap vertel. Ons moet die matrieks in die skole toespreek en vertel: daar is vir julle n toekoms in Suid-Afrika! Moenie wegloop nie, moenie liberaal wees nie of politiek korrek nie. Ons het nie die luxe om so te maak nie. Wil ons lewe, dan moet ons werk en inset. Kom en help en bou vir die volkstaat! –

    1. Mike

      Ek wil hier met Tulp saamstem dat daar meer nodig is om ons jeug wat reeds gekaap is deur die DA/ANC meer bewus te maak van selfbeskikking. Ons konsentreer te veel op die ouer geslag wat in baie gevalle nie meer die wil en die geld het om selfbeskikking verder uit te bou nie.

  5. ‘n Kwotavrye sone, is op die oog af, iets aanlokliks om beleggers mee te lok. Minder inmenging en beperkings deur staatsinstellings is mos nie te versmaai nie. Sake-ondernemings kan ongebonde hul personeel, na eie goeddunke, saamstel. ‘n Gebied waarin Afrikaners hopenlik dus, onbevange, slegs van volkseie arbeid gebruik kan maak.

    Kom ons speel duiwelsadvokaat: Hoe kan andere so ‘n sone tot hul eie voordeel en ons nadeel aanwend?

    Ook: Wat gaan ‘n herhaling van die patroon wat in die ou Suid-Afrika gebruiklik was, naamlik ‘n ‘wit-bestuur’ met ‘n ‘swart-arbeeidsmag, daar verhinder? Kan so iets nie dalk ‘n toevloei van vreemdelinge na so ‘n sone hê nie?

    Kan ‘n kapitaalkragtige lid van ‘n ander etniese groep, soos byvoorbeeld iemand uit die Indiër-gemeenskap, ‘n algeheel Indiër-onderneming daar vestig.

    Oor die algemeen het ek groot respek vir dié spesifieke groep, maar ons oogmerk is die vestiging van ‘n Afrikanerhartland en sou so iets gebeur, kan dit ons planne belemmer!

    Hierdie moontlike stokke in die speke,(daar is seker nog baie) sal natuurlik op ‘n gebied, wat deur ‘n politieke besluit gemaak is, van toepassing wees tensy daar sekere stipulasies gemaak word. Ook sal hoop op ‘n besluit wat slegs ons as gemeenskap, bevoordeel, wensdenkery wees. So ‘n opsie sal vir enige gemeenskap wat daarom vra, beskikbaar moet wees.

    Veronderstel dat ons sou vra dat enige gebied in die Noord-Kaap, wat in die besit van die Orania-Beweging of enige ander Afrikaner volkstaat-beweging kom, as kwotavry verklaar sou word, dan verander die prentjie in sy geheel.

    Nie net sal dit erkenning deur die regering van die Noord-Kaap as ‘n gebied waarin die Afrikaner hom op sy strewes kan toespits, oormerk nie maar dit sal ook vir ander Afrikaner-groepe ‘n duidelike rigtingwyser Noord-Kaap toe wees.

    Gebied sal nogtans nie goedsmoeds toegeken word nie maar die reg om grond in ‘n gebied tot voordeel van ‘n gemeenskap, soos ons, te bekom om dit dan self te ontwikkel, behoort nie as onbillik beskou te word nie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s