ANC: politieke meesters

zumalema

Ek is nie een vir samesweringsteorieë nie, maar wanneer mens iets verdag oplet wat jy kan substansieer met feite, dan volg die waarheid gewoonlik kort op die hakke van die leuen.

Die wêreld is in oproer oor Julius Malema se nuwe party. Sy suiwer revolusionêre Economic Freedom Fighters (EFF) mag dalk lagwekkend voorkom, maar hulle het in ‘n baie kort tydperk ongelooflike steun onder die swartbevolking gemonster.

In ‘n onlangse meningspeiling van die Sowetan het een uit vier jong Suid-Afrikaners aangedui dat hulle vir die EFF gaan stem. 30% van die swart jeug het gemeen hulle ondersteun Malema, terwyl slegs 35% lojaal teenoor die ANC sal bly.

Die EFF se Facebookgroep het reeds 34 649 lede terwyl die DA staan op 27 968 en Agang op 22 982. Van al die politieke partye in Suid-Afrika, is slegs die ANC se Facebookgroep (38 599 lede) groter as dié van die EFF. Neem in ag dat Malema se teikenmark juis die rekenaarlose armes is met beperkte tot geen rekenaarvaardighede en R 5 “pay as you go” toegang tot selfone. Sienende dat sy EFF reeds so goed vaar op sosiale media, gaan dit dwaas wees om hul gewildheid onder die armste van die armes in die plakkerskampe te onderskat.

Wat beide Agang, onder leiding van dr Mamphela Ramphele, en die EFF in gemeen het, is dat albei onlangs van die ANC afgestig het. Met die volgende algemene verkiesing oor minder as ’n jaar van vandag af, maak politieke ontleders en joernaliste ’n groot ophef van al hierdie interessante verwikkelinge in die Suid-Afrikaanse politiek.

Dit herinner my aan ’n soortgelyke verwikkeling net voor die 2009 algemene verkiesing toe Terror Lekota en kie met ‘n hengse fanfare uit die ANC uitgestap het en COPE loop stig het. Hulle het uiteindelik met sowat 7% van die stemme weggestap.

Almal aanvaar maar dat Lekota, Ramphele en nou ook Malema om verskeie geloofwaardige redes nie meer gelukkig is by die ANC nie en derhalwe voel dat hulle die land beter kan regeer. Dus stig hulle af en begin elk ’n nuwe party. Dis tog logies.

Die gevestigde opposisie en media beskou dit as baie goeie tekens wat aandui dat die ANC tog kwesbaar is en ons net ’n bietjie moet vasbyt terwyl die monster homself verskeur. Dis ook logies.

Myns insiens is die ANC se sterkste wapen juis die feit dat hulle altyd en deur almal onderskat word.

Ons praat hier van gesoute politici wat dekades gelede vir ’n baie goeie rede deur Amerikaanse en Britse universiteite sowel as die Kremlin identifiseer was en jare se opleiding ondergaan het. Hulle is nie aan bewind van ’n land met van die meeste minerale hulpbronne in die wêreld omdat hulle onnosel is nie. Hulle mag dalk onnosel voorkom – en dis juis die strik waarop ons keer op keer trap.

Dis geen geheim dat die moderne westerse demokrasie ’n formidabele mislukking in Afrika is nie. Die stelsel is nie ontwerp vir on- en halfgeskoolde massas wat van die ellende krepeer nie, tog skenk westerse state miljarde rande elke jaar om dit in Afrika te implementeer.

Ek glo die ANC het die perfekte resep gevind om mag te behou binne ’n quasi moderne westerse demokrasie sonder om ‘n diktatorskap teweeg te bring. Dit is so eenvoudig, tog geniaal.

’n Nadere ondersoek sal waarskynlik kan bepaal wanneer hulle dié revolusionêre strategie ontdek het. Vir eers is dit belangrik om stap vir stap te verstaan hoe die stelsel werk:

  1. Skep ’n geloofwaardige stryd, sweep die massas op en verkry hul steun (1913 tot 1994)
  2. Neem beheer van ’n staat deur sovêr moontlik vreedsaam op te tree (1994)
  3. Nadat die bevrydingsbeweging deur die massas verkies word as die regerende party, moet leierskap gedurig hande wissel tussen lede van die binnekring (1994 tot op hede)
  4. Skep opposisie uit eie geledere wat die onafhanklike opposisie se rug breek (2008 en 2013)
  5. Behou invloed oor skyn-opposisie en verseker magsposisie (teoreties)

Kyk weer na die drie bewegings wat van die ANC afgestig het:

  1. COPE het basies dieselfde beleid as die ANC. Al verskil is dat hulle hulself aanbied as beter implementeerders van dié beleid.
  2. Agang is beduidend minder sosialisties ingestel en bied ’n meer westers-liberale beleid.
  3. EFF is beduidend Marxisties ingestel en bied ’n nasionalistiese (en nasionaliserende) beleid.

Al drie verteenwoordig ANC kaders wat sentraal, links en regs binne hul eie beweging staan. Nie COPE, Agang of die EFF het ’n realistiese kans om die ANC by die stembus te klop nie, maar gaan wel die politieke speelveld op so ’n wyse verander dat die bestaande onafhanklike linkse opposisie, soos die DA, ’n voetnota van hul eie links-liberale stryd word.

Die ANC kan bekostig om soveel as 15% steun af te staan aan hierdie drie bewegings en steeds die mag te behou deur ’n volstrekte meerderheid stemme in te palm. In die geval van die 2009 algemene verkiesing het die ANC slegs 3.79% steun verloor alhoewel COPE  7.42% van die stemme op hulself getrek het.

Ek voorspel dat die DA baie seer gaan kry in die komende algemene verkiesing. Ongeag hoe ywerig die DA hul beleid in lyn bring met die ANC en hoeveel swart lywe hulle in blou hempies gaan prop, die gematigde maar rasbewuste swart, Indiër en bruin kiesers gaan hul stemme vir Agang gee, die opstandige arm swart en bruin kiesers sal hul eie bloed gebruik as dit moet om hul kruise langs Malema se gesig te trek, die verbitterde swart en bruin kiesers sal vir COPE nog ’n kans gee en die res, bestaande meestal uit Zoeloes, gaan lojaal bly teenoor Nkosi Zuma.

Om uit eie geledere opposisie te skep is ’n meesterskuif van die ANC en skyn nuwe lig op uitlatings soos “ons sal regeer tot Jesus eendag terugkom”.

Wat die Afrikaner aanbetref, dit is nou duideliker as ooit tevore dat hy met sy broek om sy enkels staan. Afrikaners sal weer vir die DA stem in die hoop om sterk opposisie en beter dienslewering te probeer bewerkstellig ten koste van hul taal, kultuur en reg op selfbeskikking.

Die Vryheidsfront Plus mag dalk weer by die 150 000 stemme draai, maar gaan persentasiegewys terugsak. Moenie verwag dat al die luidrugtige anti-DA Afrikaners skielik hul steun vir die VF gaan gee nie. Die meeste van hulle boikot, braai en kla buitendien liewers op stemdag as wat hulle vir ’n pro Afrikaner (taal, kultuur en selfbeskikking) beleid gaan stem.

Die ANC is politieke meesters en hoe vinniger ons dit besef, hoe beter vir ons. Dis ironies dat Afrikaners ’n internasionaal aanvaarde en grondwetlike proses tot territoriale selfbeskikking kan volg om onsself van hul greep te bevry, maar dat slegs ’n handjie vol van ons tans betrokke is om daaraan gestalte te gee.

12 thoughts on “ANC: politieke meesters

  1. Insiggewende artikel Q. Soos altyd is jou slot paragraaf vir my die treffendste! Die Groot Trek sal hopelik nie eendag plaasvind a.g.v. die agteruitgang van Suid-Afrika nie, maar die vooruitgang van Orania, toekomstige groeipunte, ekonomiese werklikhede en die nuwe kultuur van selfwerksaamheid wat ons hier kweek. Die res sal volg.

    Orania voorwaarts!

  2. Dante Strauch

    Ek glo daar is waarheid in jou teorie Quintin, die anc moet net passop dat so ‘n plan nie ‘backfire’ nie. Amper soos die NP gedink het hulle kan gaan onderhandel, die weste sover kry om sanksies te lig, die swart massas asook die wit kiesers tevrede te stel en nogsteeds mag behou, toe ontplof dit in hulle gesigte en verdwyn sommer van die toneel af. Al hierdie klein afgestigte partye sal mooi saamspeel solank hulle nie noemenswaardige steun kry nie, maar as hulle eers bloed geruik het sal hulle net so vinnig teen ouboet anc draai terwille van mag en selfverryking. Alhoewel ek glo dat die anc nog lank aan bewind sal bly.

    1. Dis waar Dante – ongeag of die teorie reg is of nie, die werklikheid is dat daar nou 2 nuwe swart politieke partye bygekom het en dat hulle die idee van ‘n wit dominante opposisie in Suid-Afrika finaal en al in die argiewe gaan wegstoor.

      Ten spyte hiervan het die Afrikaner steeds die reg tot selfbeskikking as reddingsboei om aan vas te klou en ons bes te probeer om die werklikheid van Orania uit te brei en sodoende vir onsself ‘n volhoubare toekoms in Afrika te bewerkstellig. Ons moet dit nie oorkompliseer nie – ons moet dit net doen!

  3. Hoe affekteer dit in die eerste plek die geloofwaardigheid van die media self onder verskillende bevolkings- en belangegroepe, en daardeur ook uiteindelik die geloofwaardigheid van politieke partye? Daar is immers ‘n beginsel in bemarking, dat iemand hom sal verset die oomblik as hy agterkom daar word probeer om hom te beïnvloed. En die alternatiewe inligtingsbronne, soos die kuberruim, wat mense wat nie self agterkom hulle word beïnvloed het nie, dit deeglik onder die neus vryf, word al hoe doeltreffender.

  4. Ek het dit ook nognie hardop gese nie Quintin maar ek het reken ook ou Juju kry dalk nog van sy opdragte by Z. Dis boeiende teater wat hier voor ons afspeel en meeste Afrikaners skree nog “ons lief Madiba” op Nuus24. Hulle koop die skouspel. Ons besef nie eers ons broeke sit op ons enkels nie. Dis ons grootste probleem. En terwyl ons nou spekuleer, jy herinner ons dat die kaders in die VK/VSA opgelei/gebreinspoel is… sien hulle het by die meester-manipuleerders geleer: Die Anglo-Amerikaanse wereldorde was nie lus vir nog ‘n morsige konfrontasie met die Boere nie, toe skep hulle hulle eie “drones” in die vorm van die huidige stel puppets wat die land “regeer”. Een van hulle magtigste wapens is Engels. Ek sien Afrikaners wat nog al die jare Afrikaans praat oor die sosiale media praat deesdae Engels met mekáár. Dis spesifiek vir my kommerwekkend dat dit nóú gebeur wanneer ons mense paraat moet wees. Hulle aanvaar dit net gedweë. Julle ouens in Orania is uniek, julle is bewus. Pas julle op, die uiteindelike volk hoef nie groot te wees nie!

  5. Mike

    Quintin jy’s heeltemal reg met jou stelling dat die DA die grootste verloorder in die volgende verkiesing gaan wees dit was ook met die stigting van Agang my gevoel gewees want dit is net logies ‘n swarte stem nie vir ‘n witte nie en nog minder vir ‘n wit vrou. Ek is oortuig daarvan dat Agang die amptelikke opposisie gaan word in die 2019 verkiesing en dit sal ook weer dink ek die gevolg hê dat minder wittes die DA sien as die oplossing maar sal eerder selfbeskikking sal begin nastreef. Ons moet ook hierdie gebeure gebruik tot ons eie voordeel.

  6. jan

    Goeie draad argumente – julle vebaas my telkens met julle eerlikheid en gewone wyshede.

    Maar miskien moet ek tog maar vertel dat Cope die projek van NIA /MI was. Ek ken die karakters persoonlik wie met die stigting van Cope betrokke was.:Alles om te probeer voorkom dat die ANC ‘n 2/3 meerderheid kry en die grondwet verander.

    Ek steur my net so min en net so veel aan die RSA politiek as wat dit Orania raak. Die Nuwe RSA is die vreemde land wat na MY toe gekom het pleks van my vlug na Parazania toe.

    Dit kos net ‘n gedagte- omskakel [mindswitch] om te bly waar ek is en presies te doen wat ek in Parazania sou gedoen het.nl

    Begin onder op die ekonomiese leer en doen jou werk self.

    En daar is enorm voordele om te bly ipv om te gly – vanwee die koste aan die trek en onmeet bare koste van diaspora ballingskap. Wanneer jy besluit dat jy jou geliefdes nooit weer sal sien nie.

  7. Ek het nog altyd gese dat die anc meesters is met propaganda rondgooi. Die artikel maak sin. Die media doen sy deel om die anc op ‘n “pedastal” te hou want daar is ekonomiese voordele vir hulle daarin.

    As die mense werklik besef hoe word alles en almal gemanupileer deur die media sal niemand meer koerante lees nie. Daar is immers ander bronne om objektiewe inligting te soek.

    Ek stem saam met die broek op die kniee , omdat die afrikaner steeds dink dis veiliger om polities korrek op te tree in plaas van wat reg is. Kyk bv na die Woolworths geval, ‘n geblaf en geen werklike optrede ens ens.

    Ek het vrae oor Orania. My probleem is, hoe lewensvatbaar is dit, gegewe die ligging en hulpbronne> Ons kan tog nie almal op ‘n hopie sit en dink ons kan ekonomies lewensvatbaar wees nie?

    Die beeld wat deur Orania uitgedra word is ook nie bemarkbaar nie. Daar moet opnuut gekyk word na ‘n bemarkbare produk wat vir die deursnee afrikaner ‘n oplossing sal wees.

    Ons is deel van ‘n land waar individue nie onafhanklik kan funksioneer nie. Hoe kan die Orania ‘n beeld skep wat meer aanvaarbaar is vir die gemiddelde afrikaner?

    1. Naas

      Liewe Bloedbek, ek wil net vir jou vra: ‘Is jy ‘n vreemdeling in Jerusalem?’ Ek is 13 jaar terug uit SA en woon in die UK. As ek destyds behoorlik navorsing gedoen het, het ek beslis na Orania geskuif as wat ek hier in die UK van voor af begin het. Jy hoef maar net by die Orania beweging aan te sluit (vir die belaglike bedrag van R40/maand) en die blaadjies wat hulle stuur, lees om te weet wat aangaan. Orania en wat ons mede Afrikaners daar doen IS die oplossing vir selfbeskikking. So, hou op vrae vra en raak betrokke.

  8. Frik Lotz

    Dis tyd dat die Afrikaner begin wakkerword en besef die DA voel vere vir die Afrikaner en selfbeskikking.Kyk hoe het hul opgetree by Kleinfontein.Die Afrikaner moet begin besef die Vryheidsfront is die enigste party wat ernstig is oor minderheidsregte en selfbeskikking,en die Afrikaner se belange op die hart dra.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s