Orania tot die Weskus

Soveel het gebeur sedert ek vyf jaar gelede nog probeer sin maak het van derdejaarse rekeningkunde, besigheidsbestuur en die Britse maatskappywet, aangebied deur droë Engelse proffies in Londen. In my wildste studente drome sou ek nooit kon raai dat ek alles wat ek oorsee op universiteit geleer het eendag gaan toepas om ’n volkstaat te help bou nie.

Om te glo in Afrikanervryheid is een ding, maar om dit prakties uit te voer is makliker gesê as gedaan. Die idee dat die Afrikaner deur  die ANC regeer word, het nooit by my aanklank gevind nie – tog maak dit nie saak hoeveel optogte ons in Londen teen die ANC gehou het nie, op die ou end moet ‘n konkrete oplossing by die meerderheid Afrikaners begin posvat anders gaan ons nes die Rhodesiërs van ouds uitdraai.

Met hierdie wete het ek in 2010 Orania toe getrek om te help bou aan die konkrete oplossing: ‘n Afrikaner Republiek.

Dit is maklik om jou ideale te deel met ander en om vir ure te filosofeer daaroor, maar om woord by daad te sit neem ‘n ander vorm aan in Orania. Hier het jy ’n  oplossing georiënteerde denkwyse nodig. Sukses in Orania hang af van jou vermoë om progressief en kreatief te dink en doen in beide jou privaat sowel as jou professionele lewe.

Omrede ek vir lank in Engeland gebly het, het die skuif Orania toe nie soseer my privaat lewe beïnvloed nie, want daar doen mens ook alles self – huisskoonmaak, skottelgoedwas, stryk, tuinmaak ens. Uit ’n professionele oogpunt gesien sal daar altyd ‘n behoefte wees vir een of ander produk of diens. Mens se verbeelding bepaal hoeveel geleenthede jy kan raaksien en ontgin en glo my, daar is baie!

Wat Orania aanbetref is dit lekker om te sien hoeveel verbruikers in die omliggende gebiede en in die stede afhanklik begin raak van produkte en dienste wat ons hier vervaardig. Die “Produk van Orania” stempel begin sy stem dik maak.

Ons moet nooit ekonomiese ontwikkeling oorkompliseer nie. Die eenvoudige waarheid is dat enorme ekonomiese ontwikkeling van die volkstaat beteken dat die Afrikaner weer in staat gaan wees om sy regmatige plek tussen die onafhanklike volke en nasies van die wêreld in te neem.

Orania het al ’n vêr pad gestap om ’n nuwe ekonomie onder Afrikanerbestuur te vestig. Waar Orania begin het met enkele besighede staan ons nou op die punt waar ons intieme winkelsentrums en moderne kantoorspasie ontwikkel. Dit het wel 23 jaar geneem om tot op hierdie punt te kom, so ons moet vir onsself vra hoe ons ekonomiese ontwikkeling in so ’n mate gaan versnel dat ons oor die volgende kwarteeu groter of selfs totale onafhanklikheid bereik.

Myns insiens lê die sleutel tot sukses in vervaardiging en uitvoere. Ons moet goedere en dienste kan lewer wat onvervangbaar is en wat vergelykbaar is met markleiers in ‘n wye reeks industrieë. Ons moet vinniger en beter wees as die res en die kwaliteit en prys moet reg wees.

Hierdie proses het reeds begin deur o.a. skaars voedselsoorte soos pekanneute op Orania te verbou. Die rou produk kan net so uitgevoer word en dit kan ook gebruik word as ’n bestanddeel in talle produkte wat ons in Orania vervaardig en dan met ’n veel hoër winsgrens as die rou produk-self uitvoer.

In die eerste plek teiken ons afsetgebiede so naby as moontlik aan Orania. Kimberley, Hopetown, De Aar en Bloemfontein beskik nou wel nie oor dieselfde koopkrag as Pretoria of die Kaap nie, maar dit kos minder om voorraad op die handelaars se rakke te kry, kompetisie is minder en dit stel vervaardigers in staat om eers op ’n kleiner skaal volhoubare markte te vestig. Daarna kan groter markte in Suid-Afrika met gevestigde goedere en dienste betree word. Die laaste stap is natuurlik grootskaalse toetrede tot internasionale markte.

Vervaardiging en uitvoere van volkstaat produkte is nie beperk tot Orania nie. Ondernemings wat sukses in Orania behaal gaan van die eerstes wees wat uitbrei na toekomstige volkstaatgroeipunte. ’n Klerewinkel wat op Orania tot stand gekom het en gegroei het deur skoonheidsprodukte en binnehuisversieringitems te vervaardig, word ’n franchise sodra hy ’n winkel oopmaak in ’n nuwe volkstaatdorp. Met die intreeslag word werk geskep, goedere beskikbaar gestel in ’n nuwe mark en is dit moontlik vir Afrikaners om daar te vestig.

Ons glo die Weskus hou vele geleenthede in vir toekomstige volkstaat ontwikkeling. Elke omgewing bied sy eie unieke uitdagings en geleenthede. Dit sal kortsigtig wees om net op Orania te fokus, terwyl dit sinneloos sal wees om Orania van ontwikkeling te ontneem sodat daar nuwe nedersettings op die Weskus gevestig kan word.

Wanneer entrepreneurs in staat is om ontwikkeling deur Orania te kanaliseer Weskus toe, dan vergroot hulle hul inkomstebronne en bring hulle die skepping van hul eie welvaart in lyn met die totstandkoming van ‘n volkstaat – en dat ons volkstaat ‘n kuslyn moet hê is ononderhandelbaar!

Met Vry Afrikaner se toetrede tot volkstaatontwikkeling is ek meer optimisties oor die toekoms as ooit te vore. Dis waarlik interessante tye waarin ons leef en die geleenthede is legio. Afrikaners wat tans nie in ’n posisie is om huis en haard te verskuif nie, kan aansluit by Vry Afrikaner en sodoende ons kollektiewe vermoë vergroot om vanuit Orania ‘n lewenskragtige ekonomie in die aangewese volkstaatgebied te vestig.

Die vryheidsideaal is nie iets wat deur enkelinge uitgevoer kan word nie. Soveel as moontlik Afrikaners moet betrokke raak, soos wat ek betrokke geraak het, en help waar hulle kan om te bou op die bestaande suksesse. Eers het ’n handjie vol bewys dat dit kan werk, daarna het tientalle dit verder bewys, vandag bewys honderde dit – môre moet duisende dit bewys.

As ek terugdink aan die jare wat ek oorsee studeer en gewerk het, is ek dankbaar dat ek vandag terug in Afrika kan wees en daadwerklik betrokke is by die skepping van ’n nalatenskap vir die volgende geslag Afrikaners.

Prof. Carel Boshoff het ons geleer dat elke geslag verantwoordelikheid moet neem vir sy eie tyd. Hoe meer Afrikaners ons kan inspireer om hierdie waarheid te verstaan, hoe vinniger gaan ons saam kan staan onder ons eie vlag in ’n Republiek wat ons waarlik verdien om ons eie te noem.

Lees meer oor Vry Afrikaner hier: www.vryafrikaner.za.org

12 gedagtes oor “Orania tot die Weskus

  1. Willem van As

    Ek werk op die oomblik in Korea en het gister ‘n paar rand oorbetaal om my huis in Orania af te betaal. Kan nie wag vir die dag wat my huisie daar afbetaal, opgeknap en “off grid” is sodat ek kan trek nie (dan kan ek begin werk aan ‘n aardskip erf). Ek probeer ook sover moontlik van al die beleggings moontlikhede wat julle beskikbaar maak gebruik te maak/ondersteun. Dankie vir als wat die Oraniers daar vir ons moontlik maak. Dit is lekker om al die ontwikkeling in Orania dop te hou. Daar lê opwindende tye voor!

  2. Johann Lock

    Dit is ook baie belangrik dat ons, ons kinders en kleinders die waarde van van ons ouers en grootouers moet leer, my oupa was “Ceylon” toe verban omdat hy nie sy volk wou veraai nie. Vir hom was sy God, sy taal, sy volk en en sy familie hoogste prioriteit. Ek het my kinders die waarde van Afrikaner geleer, en leer ook my kleinkinders wat dit beteken om Boere Afrikaner te wees ek weier om te vlug na buite land ek sterf liewer in my land.

    1. Naas

      Liewe Johan, as jy sterf kan jy niks meer doen nie. Ons ouens, vir wie dit moontlik was/is om te ‘vlug’, beteken ontsaglik baie vir julle wat daar is en bly. Ons dra finansieel by en bevorder die saak van die Afrikaner oral in die wereld. Afrikaners is oral in aanvraag want hulle is hardwerkend en betroubaar en, soos Quintin en Rozanne, gaan baie van hulle terugkeer. My twee kinders, 20 en 23, wil graag in die toekoms in Orania gaan woon. Hulle wil nie ‘terug’ gaan nie want daar is niks om na terug te gaan nie. Hulle wil Orania toe gaan!

      1. Dis presies hoe ek dit ook gesien het. Ek wou nie terug SA toe gaan nie, ek wou Orania toe gaan. Vandat ons die Vry Afrikaner Ontwikkelingsfonds op die been gebring het, het talle Afrikaners in die buiteland by Vry Afrikaner aangesluit. Ek kan dus getuig dat daar meer Afrikaners in die buiteland is wat die vryheidsideaal ondersteun as wat meeste mense dink. Hul bydrae is goud werd en die feit dat hulle mense oorsee inlig oor ons omstandighede en saak maak van hulle ambassadeurs.

        Mens moet ook net verstaan hoekom baie vryheidsgesinde Afrikaners hier in Afrika negatief is oor hul volksgenote wat geemigreer het, want groot getalle Afrikaners in die buiteland voel regtig ‘n veer vir ‘n toekomstige volkstaat en sommige van hulle is selfs daarteen gekant. Die slegste soort is die wat JA gestem het in 1992, toe gevlug het en nou vir ons wil vertel dat ons van die pad af is omdat ons ons vryheid wil herstel. Daar is niks laer as daai soort gemors nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s