Afrikaners in buiteland kan nou vir selfbeskikking stem

In ‘n mediaverklaring het die Vryheidsfront Plus die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op die Kieswet vandag verwelkom.

Dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor binnelandse sake, het gesê dat die wysiging bepaal dat alle Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland aanstaande jaar in die algemene verkiesings sal kan stem.

Dr. Mulder het vandag in die parlement gesê dit is ‘n “historiese dag en ‘n groot sukses” wat die VF Plus behaal het vir duisende Suid-Afrikaners in die buiteland wat wil stem in die algemene verkiesing van 2014.

Die wetswysigings vandag was ‘n opdrag van die Grondwethof aan die Parlement. Dit het gevolg nadat die VF Plus die kwessie dat Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland nie mag stem nie, suksesvol na die Grondwethof geneem het. Die Grondwethof het beslis dat die stemreg om praktiese redes net op nasionale vlak en nie op provinsiale vlak kan wees nie.

Die Demokratiese Alliansie het teen die wet gestem. Dr. Mulder het gesê hy is “verstom” oor die DA se optrede aangesien dit mense in die buiteland aanstaande jaar hul stemreg kan ontneem. As die wet nie nou aanvaar word nie as gevolg van die DA se optrede of deur hofsake vertraag word, verval hierdie opsie vir alle Suid-Afrikaners in die buiteland.

Wysigings wat nou aan die Kieswet aangebring gaan word, sal Suid-Afrikaners in die buiteland toelaat om nuut as kiesers te registreer in die land waar hulle tans woonagtig is. Dit was voorheen nie die geval nie.

Oor die DA se optrede het dr. Mulder gesê dié party besef al te goed dat mense in die buiteland nie stemreg op provinsiale vlak sal kry nie as gevolg van die grondwethof se uitspraak en praktiese oorwegings.

“Julle weet dit. Dit is opportunisties. Die DA speel hier om stemme te werf deur die indruk by die publiek te probeer skep dat hy vir hulle veg.”

“Wees net een keer eerlik en erken die poging gaan nie slaag nie. Ek kan net hoop dat die DA hieroor tot sy sinne gaan kom,” het dr. Mulder gesê.

Die VF Plus het onlangs heelwat media aandag gelok met die bekendstelling van sy nuwe embleem en herbewoorde missie. Die party het sy steun vir Afrikanervryheid opnuut bevestig deur sy missie in lyn te bring met internasionaal aanvaarde riglyne met betrekking tot selfbeskikking.

Deur homself te herposisioneer om dieselfde regte ook vir ander kulturele minderhede op te eis, het die VF Plus die ou drogbeeld dat dit ‘n “rassistiese party” is die nek ingeslaan. Deur minderheidsregte te bevorder, word die Afrikaner se taal- en kultuurregte ook bevorder sonder dat dit as eksklusief vir wittes gebrandmerk kan word.

Die Afrikaner se saak word versterk deur brûe te bou met ander kultuurgroepe wat soortgelyke strewes het. Bondgenootskappe baan die weg vir groter aanvaarding en erkenning.

Afrikaners in die buiteland wat die ideaal van Afrikanerselfbeskikking koester kan help om te bewys dat daar toenemende steun vir hierdie strewe is deur te registreer vir die komende verkiesing en hul kruisies langs die VF Plus te trek.

6 thoughts on “Afrikaners in buiteland kan nou vir selfbeskikking stem

  1. Frik Lotz

    Die DA voel vere vir die Afrikaner en al hoe meer mense begin dit te besef.Die enigste party wat veg vir die Afrikaner is die VF Plus,nie die DA nie.Die tyd vir Afrikanerselfbeskikking is hier en netso moet ander minderhede ook opstaan vir hul regte en dit opeis.Hoe meer minderheidsgroepe aandring op hul reg op selfbeskikking,hoe meer druk gaan daar kom op die ANC en hoe meer paniekerig gaan die DA word.Laat ons opstaan en selfbeskikking tot wasdom laat kom!

  2. Om te dink… as al die Afrikaners in die buiteland vir die VF Plus stem, dan kan die party heelwat nuwe manne in die parlement kry wat hul stemme daar kan dik maak vir Afrikaners se regte, taal en kultuur. Daar sal ook sterker opgestaan kan word teen konsepwetgewing wat Afrikaners kan benadeel en met meer LP’s wat die volk se reg tot territoriale selfbeskikking bevorder, gee ons beslis ‘n tree in die regte rigting.

      1. Goeie punt Wim… ek dink egter dit help om meer Afrikaners in SA te kry om vir die VF te stem, wetend dat hulle hierdie tipe van suksesse kan behaal ten spyte van hul grootte. En al stem net 1 Afrikaner in die buiteland vir die VF, is dit ‘n stem wat hulle andersins nie sou kry nie. Die VF het niks om te verloor nie want hulle gaan nie daarop uit om die grootste opposisie party te wees nie. As hulle nog een of twee LP’s kan aanstel danksy +- 80 000 ekstra stemme (nasionaal), dan is dit ‘n reuse sukses. Die punt is dat die VF met 4 LP’s tans meer die die Afrikaner gedoen kry as die DA met 67 LP’s…

  3. abraham

    Ek verstaan nie hoekom die DA hierdie wet teenstaan nie. Ek twyfel of meer as ‘n kwart van die buitelanders vir die VF+ sal stem – dis nou as hulle die moeite doen om te gaan stem. Die DA kan mos baie stemme inpalm met hierdie wet, al is dit net op nasionale vlak, of hoe?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s