Hoe rugby ons erfenis help vorm het

Wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland teen mekaar rugby speel, is dit altyd ’n groot toets, volgens alle betekenisse van die woord. Vir Nieu-Seelanders is dit die grootste wedstryd van die jaar. Net soos vir die Nieu-Seelanders, word min Afrikaners koud gelaat daardeur. Dit belig ’n interessante deel van die Afrikaner se identiteit.

Die rol van rugby in ons sosiale lewe kenmerk ons onmiskenbaar as eertydse deel van die Britse ryk. Terwyl sokker wêreldwyd posgevat het, het rugby slegs in sogenaamde dominiums van die Britse ryk werklik algemene inslag gevind. Dominiums was dié kolonies wat sodanig deur ’n Westerse bevolking beset is, dat Brittanje selfregering daaraan toegeken het. Tussen die twee wêreldoorloë is die dominiums, Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Suid-Afrika se status as gelyk met die Verenigde Koninkryk erken.

Die Verenigde Koninkryk was weer Engeland, Ierland, Skotland en Wallis, met Ierland wat later onafhanklik geword het. Op enkele uitsonderings na, klink dit na ’n lys van lande wat gereeld vir die eindrondte om die William Webb Ellis-trofee meeding.

Rugby en sokker het saam met delwers en amptenare na Suid-Afrika gekom en was eers ’n spel wat tot Engelssprekendes beperk was. Die krygsgevangenekampe van die Tweede Vryheidsoorlog het veel gedoen om rugby onder Afrikaners gewild te maak. Spanne tussen Boerekrygers onderling of teen Britse soldate was gewilde afwisseling in dié vervelige bestaan. ’n Mens kan jou voorstel dat wedstryde tussen Boerekrygers en Engelse soldate die oorlog net op ’n ander manier herhaal het. Miskien is dit goed dat veldoortjies nie beskikbaar was vir toeskouers om te hoor wat spelers en die skeidsregters mekaar toegevoeg het nie.

Dit is miskien die rede waarom rugby, met sy taai, fisieke aard, onder Afrikaners posgevat het, terwyl sokker bloot ontspanningspel gebly het. Rugby is inderdaad een van die min geleenthede wat redelike denke en billikheid op die agtergrond geskuif kan word, ten gunste van rou emosie en lojaliteit. Niemand verwag om ’n ander te oorreed om van span te verwissel nie. Die pittighede wat ander spanne se ondersteuners toegevoeg word, is meer vermaak as gesprek.

In die ou Suid-Afrika was rugby ’n gewilde nasiebouer. Alle regerings tot 1994 het gepoog om Afrikaners en Engelssprekende blankes tot ’n samehorige eenheid saam te snoer. Ook provinsialisme moes afgeskaal word. Dat albei groepe in alle provinsies die nasionale rugbyspan kon ondersteun, het veel gedoen om ander verskille te oorbrug. Tans word dit weer gebruik, om alle Suid-Afrikaners, ook van ander rasse en kulture saam te snoer.

Nieu-Seeland is die een opponent vir wie die Springbokke altyd lugtig is. Dit is interessant, want dié grootliks landelike staat is op ander terreine nie die rykste of sterkste presteerders nie. Maar soos tydens die Tweede Vryheidsoorlog, kom van die mees gedugte stryders met die mees fisieke aanslag, juis daarvandaan.

Rugby is so ’n integrale deel van Afrikanerkultuur, dat ’n toekoms daarsonder amper ondenkbaar is. Dit is die enigste geleentheid wat Afrikaners kon oortuig om die woorde van die nuwe Nasionale Lied van Suid-Afrika te leer. As ’n mens ernstig oor die voortbou van Afrikaneridentiteit en -selfbestuur is, moet mens solank dink hoe om rugby in diens daarvan te stel.

4 gedagtes oor “Hoe rugby ons erfenis help vorm het

  1. A Schlemmer

    Alles is baie waar in hierdie artikel. Ongelukkig is rugby (onder andere) gebruik om die Afrikaner te verkoop. Voor en tydens die 1994 verkiesings.

  2. Jan

    Rugby is die enigste sport waar daar plek is vir alle talentloses. Van groot tot klein – almal kan saamspeel want niemand het balvaardigheid nodig nie omdat die bal ovaal is.. Daar is waarskynlik nie ‘n ander sportsoort wat meer sosiale lewensvaardighede soos spanbou ontwikkel as rugby nie. Elke outjie moet sy ding doen op sy manier..
    En dis ook baie terapeuties tov fiksheid en frustrasies!! Vir spelers sowel as toeskouers.
    Spreek boekdele dat die Boere hierdie beskawingsnorm wêreldwyd uitvoer.
    Gunstige klimaat is natuurlik in SA se guns.
    Maar as ons ons politiek soos rugby kan speel sal ons almal wen..
    Hoe vorder Orania se klub?

    Rugby sê iets van die Boere se inbors – dat ons weet hoe om met vreemdes saam te speel en om te wen.

  3. Die oorsprong van ons volk 1. Die bestaan van die Afrikanervolk, ofte wel die Boerevolk, is aan die internasionale volkeregemeenskap bekend. In hierdie verklaring verwys ons na dié volk as die Boere-Afrikanervolk. 2. Hierdie volk het ontstaan uit nedersetters vanuit Wes-Europa wat hulle gedurende die 17de eeu aan die suidpunt van Afrika gevestig het. Hier het hulle ontwikkel tot ‘n volk met ’n bepaalde taal, geskiedenis, Bybelse geloof, afkoms, tradisie, eie waardes, kultuur, vaderland, eie identiteit en etiese bewussyn, wat hom van alle ander volke op aarde onderskei.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s