Wat sal Afrikaners hoop gee?

Wat sal Afrikaners in die huidige tydsgewrig hoop gee? Ons glo dat die Allerhoogste die beskikker oor die lotgevalle van volke en nasies is. Aan die ander kant weet ons nie wat in Sy raadsplan bestaan en of daar steeds vir die Afrikaner ’n rol in is nie.

In die Albeskikkende Wil van God het volke in die verlede tot stand gekom en weer verdwyn. Dit pas ons dus om in nederige afhanklikheid oor ons gesamentlike toekoms alle inligting op die tafel te sit en oordeelkundig aan ons toekoms te beplan.

Dalk moet ons eers kyk wat Afrikaners van hoop beroof. Terwyl onlangse ondersoeke toon dat talle individuele Afrikaners stoflik beter daaraan toe is as twintig jaar gelede, het Afrikaners as groep geen mag nie.

Afrikaners is ’n klein minderheid wat regoor die land versprei is en in elke munisipale gebied ’n minderheid is. Daarop word gereageer deur bloot die instrumente van die regstaat toe te eien en as individue te koop, te ontspan, te stem, te werk en te leef.

Regsaksies word aanhangig gemaak, nie om kollektiewe regte te beding nie, maar om individuele regte te handhaaf.

Individuele optrede het inderdaad positiewe gevolge. Die oplewing in die Afrikaanse musiek en – rolprentbedryf is standhoudend en breek die een rekord na die ander. Afrikaanse kultuurfeeste neem steeds in gewildheid toe. Afrikaanse skole lewer uitmuntende prestasies.

En tog word Afrikaans uit die hoofstroom van regspraak, beroepswêreld en akademie geskuif. Afrikaners floreer, maar Afrikanerskap is as’t ware iets van die verlede, volgens ’n neiging wat steeds toeneem.

Kulturele erkenning wen wêreldwyd veld. Selfs in Afrikalande soos Etiopië en Kenia is grondwette gewysig om kultuurgroepe te erken en vir hulle behoeftes voorsiening te maak.

Hoekom kan Afrikaners nie formele erkenning afdwing nie?

Die antwoord lê in ons geografiese verspreiding. Nêrens kan Afrikaners sê: “Baken vir ons hierdie provinsie, streek of selfs munisipaliteit af, sodat ons selfbeskikking kan beoefen.”

Die enigste uitsondering is Orania waar ’n duisend Afrikaners meer politieke seggenskap oor hulleself het, as sametrekkings van tienduisende elders in die land. Selfs daar moet die skikking nog in wetgewing bevestig word.

In Europese kolonialisme was daar oorwegend drie moontlikhede:

1. Die Europese bevolking wis die inheemse bevolking uit, soos in Australië en Noord-Amerika,

2. ’n sterk mate van integrasie tussen die Europese en inheemse bevolking vind plaas, soos in Suid-Amerika, of

3. die Europese bevolking skiet nooit werklik wortel nie en word met bevryding uitgedryf, soos in Asië en elders in Afrika.

Afrikaners verteenwoordig ’n vierde moontlikheid: Om as permanente minderheid voort te bestaan. Histories gesien is die langtermyn oorlewingskans van so ’n groep nie baie goed nie.

Wat sal dan op menslike vlak vir ons hoop gee?

Twee keer in die verlede het ’n klein groepie Afrikaners die verloop van sake ingrypend gewysig. In die eerste helfte van die negentiende eeu en dieselfde deel van die twintigste eeu sou Afrikanerskap in ’n Engelse identiteit ingevloei het. Die Voortrekkers en die Nasionaliste het hierdie verloop gestuit en omgekeer.

’n Klein groepie Afrikaners wat die voorwaardes vir oorlewing raaksien en daaraan voldoen, kan weer die geskiedenis wysig.

20 thoughts on “Wat sal Afrikaners hoop gee?

  1. Ek weet nie wie almal op Dinsdae Donkerland op KykNET volg nie, maar dit vertel ons geskiedenis op ‘n heel gebalanseerde wyse. Ek stem nie met alles saam nie, maar om deesdae ‘n reeks met ‘n oorhoofse Afrikaner tema op die kassie te sien is so skaars soos hoendertande.

    Dis opvallend dat Deon Opperman duidelik uitbeeld in die storie dat elke geslag Afrikaners sedert die Voortrekkers vir hulself afgevra het of daar hoop is vir ons volk. Mens kry die indruk dat die Afrikaner sedert sy volksgeboorte in Afrika op ‘n reistog is na ‘n spesifieke bestemming. Deur die eeue word ons volk gekonfronteer met oorlewingskrisisse wat ons vorm en versterk. Ek glo hierdie vorming is besig om ons stadig maar seker te omskep in ‘n volk wat waarlik vry gaan wees.

    Die een element van vryheid waaroor ons nog nooit waarlik beskik het nie is om vry te wees om self te skep, d.w.s. om met eie arbeid self ‘n land tot stand te bring en dit met eie arbeid in stand te hou. Daar is hier en daar gevalle waar Afrikanerarbeid ingespan is om infrastruktuur te skep, maar nog nooit op die skaal wat dit gaan verg om ‘n eie volkstaat te skep en onderhou nie.

    Die Afrikaner van die 1800’s het die geleentheid gehad, maar het gekies om eerder goedkoop swart arbeid in te span om die land te bou. Daar was min Afrikaners en baie gewillige swart hande wat die werk wou doen vir die sekuriteit van ‘n daaglikse bord kos en ‘n dak oor hul koppe. Dit het almal gepas. Toe ontwaak die swart arbeid se politieke bewussyn en die resultaat was katastrofies vir Afrikaner selfbeskikking.

    Ja, ons het foute gemaak en daardie foute het gelei tot oorloe en onderdrukking wat ons net versterk het. Dus glo ek dit was noodsaaklike foute en dat dit ons voorberei het vir die uitdagings wat vir ons in die toekoms wag. Ons bestemming is ‘n volkstaat en al hoe meer Afrikaners is op pad daarheen.

    1. Ek sekondeer jou beslis…!!!

      Laat dit dan ‘n uitdaging wees aan mede Afrikaners om binne hul vermoë skouer aan die wiel te sit of op te gaan in die geskiednisboekke as ‘n voetnota dat hulle niks behalwe die “ontwerpers” van apartheid was nie.

      om aan te sluit by Wynand se slotparagraaf kwoteer ek graag vir Margaret Mead: “Never doubt that a small group of thoughtful, committed citizens can change the world. Indeed, it is the only thing that ever has.”

    2. Andries Vorster

      Die gereformeerde roepingsbewustheid is die basis van ons volksbestaan en daarom ook van sy voortbestaan. Die Christen se hoop is gewortel in God. Aangesien hy glo dat daar die Allerhoogste beskikker het hy hoop, want sy God beskik ALLE dinge.

      Wat sal ons hoop gee? Ons moet terugkeer tot God en dan sal ons weer hoop he. Hoop en geloof is twee kante van dieselfde munt, jy kan nie die een he sonder die ander nie.

      So ‘n terugkeer tot God sal die individu, en daarom ook die Afrikanervolk, nie ledig en onvrugbaar net laat wag op die wederkoms nie, maar hard laat werk om God se Woord en Wet op alle lewensterreine toe te pas. Dus sal die Afrikaner dan weer, soos sy voorsate, hoop vind in die gehoorsame toepassing van God se Woord op alle vlakke van sy volksbestaan.

      Dan soek hy nie ‘n Volkstaat om bevry te wees Swartoorheersing, swak dienslewering, oneffektiewe polisiering, ensovoorts nie. Nee, hy beywer hom vir ‘n Volkstaat waar hy vry kan wees om God te dien volgens Sy Woord en om daarin juis ‘n voorbeeld te wees vir die volke rondom hom, juis ook tot hulle behoud en redding.

      Is dit nie die roepingsbewustheid waarmee ons voorouers die onsekerheid van ‘n barbaarse kontinent met hoop kon trotseer nie?

    1. Mossie

      Hoe kan die Afrikaner ooit weer iemand vertrou wat homself as leier wil voorstel? En al val ‘n ware leier uit die lug uit, wat moet hy doen om vertroue te verdien?

      Is dit nie dalk tyd om nuwe politieke stelsels te bekyk wat nie fokus op ‘n enkele persoon in leiersposisie nie?

  2. Frik Lotz

    Daar is n goeie stuk oor die 2014 verkiesing deur dr. Pieter Mulder op Maroelamedia,kyk by Die Groot Debat. Puik geskryf en die moeite werd om te lees. Gaan kyk gerus.

  3. Hannes van der Merwe

    Stevofmeier is net daar vir sy eie saak en gebruik die Afrikaner sentiment juis vir daardie soort wat nie erns maak met hul verhouding tot die grote God van hemel en aarde nie – soos Anfries Voester dit duidelik stel.

  4. Mike

    Wat sal Afrikaners hoop gee? Kortliks as meer van die talle onnodige afrikaner organisasies hulle verskille opsy skuif en bymekaar staan om een doel te bereik, met een plan, en een beleid sodat die verwarring wat hulle onder die gewone afrikaner veroorsaak uitgeskakel kan word.

    1. Andries Vorster

      Mike, ek dink die querilla-taktiek het in die verlede goed gewerk en bly maar ons beste wapen teen die ‘joiners’ en verraaiers in Afrikaner geledere. Groot organisasie kan maklik gekaap of oneffetief gemaak word. Kies maar vir jou een van die ‘talle onnodige afrikaner organisasies’ waarmee jy jou kan vereenselwig en waar jy met oortuiging jou bydrae kan lewer.

      1. Mike

        Andries as daar besluit was op guerilla taktiek dan sou ek dit miskien kon aanvaar het maar daar bestaan nie so-iets nie. Met dit in gedagte veroorsaak die verwarring dat baie afrikaners nie meer wil deelneeem nie, ander beskuldig mekaar, andersdenkendes stig ook doelbewus nog meer organisasies, moedeloosheid laat die afrikaner DA stem en afsydig staan en so kan ek aangaan.

        Een of twee groter organisasies wat saamwerk kan nie so maklik soos die hordes kleintjies wat met voorbedagte rade geskep is infiltreer word nie, so daar is voordele en nadele ek dink die nadele met die “guerilla taktiek” is meer as die voordele.

    2. Anti ANC

      Wie sou jy se val onder die onnodige organisasies Mike? Wat vir een persoon onnodig is kan vir iemand anders weer baie nodig wees. Geen volk slaan een rigting in nie of volg een beleid nie. Die verwarring wat onder die gewone Afrikaner bestaan is as gevolg van ‘n apatiese houding wat lei tot ‘n gebrek aan belangstelling in die wereld om hulle. Mense wat nie opsoek is na oplossings nie kom verward voor. Eintlik is hulle maar net oningelig. Mens kan nie die blaam hiervoor op die skouers van Afrikaner organisasies pak nie.

      1. Mike

        Anti ANC daar is nou nog ‘n interresante gesprek op die praag werf, ek pos vir jou een van die skrywers se kommentare op die skrywe van JH du Toit “Ons Egste Vrese”

        william • 3 hours ago −
        Die tyd vir splintergroepies is verby. Ons moet uit een mond praat. Daar moet n vergadering bele word en alle groepe moet hulle trots sluk en byeenkom. Breedweg gesproke is die ideaal dieselfde. Ons hoef nie te baklei en dwars te trek nie . Tyd is nie aan ons kant nie. Ek glo ons beskik oor die vermoee om saam te staan. Ons voorouers het ten spyte van hel en swaarkry bo uitgekom. Ons is dit verskuldig aan ons kinders, kleinkinders en die geslagte wat nog kom. Ons as blankes is na meer as 300 jaar net so inheems in Suid Afrika as swart mense.

  5. Goeie dag . Ek praat namens myself en ek glo daar is baie Afrikaners wat nes ek voel . Ek werk nou al die afgelope 30 jaar in die mynbedryf en huidiglik verdien ek n bo gemiddelde selaris . Ek wil baie graag met my huisgesin verhuis en deel word van die volkstaat maar wat doen ons daar vir werk en behuising ? Vir ons sal dit wees soos n vreemde land . Ons het twee seuns wat doofstom is, en kinders en kleinkinders versprei vanaf Mpumalanga tot onder in Natal . Is daar plek vir ons in die volkstaat ? Gelukkig vir ons het ons nie kinders wat werkloos is nie . Ek dink daar is duisende Afrikaners wat in dieselfde posisie sit . Ek kan sien dat dinge vinnig besig is om agteruit te gaan in die land van ons en die vraag bly by my op kom ………IS DAAR PLEK VIR ONS IN DIE VOLKSTAAT …..?????????

    1. Dagse Arthur. Dis altyd lekker om die vraag wat jy hier vra te beantwoord. Eerstens, ja – hier is baie plek vir julle in die volkstaat!

      Die tweede vraag “wat doen ons daar vir werk en behuising?” kan net jy beantwoord. Ons kan vir jou ‘n riglyn gee, maar jy moet self kom kyk wat jy hier wil doen en waar jy wil bly. Hier is altyd huise in die mark, of jy kan self vir jou ‘n huis bou. Hier is ook geleenthede vir familiebesighede, of as jy regtig vir ‘n baas wil werk is hier ook dikwels poste wat oopgaan.

      Kom kyk vir jouself. Wees positief en dink kreatief – jy sal nie spyt wees nie!

  6. Terug pieng: Afrkaners te dun op die grond versprei? | VolksNuus vir Afrikaners

  7. Terug pieng: DRUM reports on Red October | VolksNuus vir Afrikaners

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s