Regering stoomrol voort met hidrobreking in Karoo

hidrobrekingHidrobreking in die Karoo: die gevaar wat skaliegasontginning inhou vir die omgewing

Indien hidrobreking in ‘n perfekte omgewing sou plaasvind, sou dit reeds ‘n yslike risiko wees. In Suid-Afrika, met sy skaars waterbronne en ‘n regering wat in die proses oënskynlik geld bo bewaring stel, kan dit rampspoedige gevolge inhou, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor minerale bronne.

Adv. Alberts sê die VF Plus sal daarom die proses van hidrobreking om skaliegas te ontgin, steeds op elke manier moontlik teenstaan in die belang van toekomstige generasies van die land. Die weg vir die ontginning van skaliegas is op 10 Oktober gebaan toe Susan Shabangu, minister van minerale bronne, die tegniese regulasies gepubliseer het vir die ontginning van onder meer skaliegas in die Karoo en elders in die land.

Adv. Alberts wys daarop dat selfs ‘n kundige op die gebied soos prof. Gerrit van Tonder, hidroloog van die Universiteit van die Vrystaat, luidens mediaberigte toegee dat ‘n gebied waar hidrobreking plaasvind, weens water en grondbesoedeling vir die toekoms ‘afgeskryf’ kan word.

“Die VF Plus sal sorg dat die stemme van die boere en die inwoners van die gebied gehoor word. Die Khoisan-mense het reeds met die VF Plus gesels en het aangedui dat hulle ook sterk daarteen gekant is. Ons hou ook ons opsies oop om regsaksies te ondersteun wat die proses wil stuit.

“Ons waarsku lank reeds dat hidrobreking vergelyk kan word met die skade wat ‘n kernontploffing aanrig. Dit is onherstelbaar.”

Die VF Plus het aangedui dat daar sprake is van sowat 600 000 ha in die Karoo wat vir hidrobreking opgeoffer gaan word. Die party argumenteer dat gas vir slegs 20 jaar verskaf gaan word.

“Maar wat gebeur daarna? Gaan die geldkrane na twintig jaar werklik net toegedraai word? Of gaan die regering bloot verdere eksplorasie toelaat?”

Die regering sê hy wil 20% gratis aandeel in alle hidrobrekings-nywerhede hê en dat hy dalk kan besluit om sy belang tot 50% te vergroot. Net vir die huidige kyk ons na ‘n bedrag van meer as R90 miljard vir die staat.

Hierdie proses is weereens so hardhandig deurgestoomroller dat ‘n mens onwillekeurig parallelle trek met die multimiljardrand-wapentransaksie en die publiek sal nie kwalik geneem kan word as ernstige kommer ontstaan oor die deursigtigheid van die proses nie.

“Selfs in hierdie stadium is dit skreiend dat die staat erken hy gaan 20% neem vir elke lisensie. Dit bewys dat die regering vir eie belang hierby betrokke is en dat dit nie werklik gaan oor die belange van Suid-Afrika en sy inwoners nie,” meen adv. Alberts.

“Die regering moet eerder daarop fokus om die land se bestaande minerale hulpbronne te ontgin en ten volle te benut. Ten spyte van die land se minerale rykdom, het die regering dit reggekry om die industrie so swak te bestuur dat Suid-Afrika nie veel beleggings trek om dit te ontwikkel nie,” sê adv. Alberts.

Vryheidsgesinde Afrikaners in die aangewese volkstaatgebied verwelkom die VF Plus se reaksie en begin nou ook hul stemme voeg by die groeiende teenkanting wat gebied word teen hidrobreking in die Karoo.

Alhoewel die geteikende gebiede vir hidrobreking tans buite die volkstaatgebied val, is dit belangrik vir volkstaters om deeglik kennis te neem van die regering se planne, betrokke te raak by die gesprek en nuwe bondgenote te vind in die proses.

14 gedagtes oor “Regering stoomrol voort met hidrobreking in Karoo

  1. A Schlemmer

    Hopenlik net 20 jaar dan is alles verby…. Maar wat gaan van ons geliefde Karoo oorbly. Ek dink om dit suksesvol te beveg sal soos poep teen donderweer wees. Maar ons moet probeer!

  2. Dante Strauch

    Ek waarsku al lankal oor skaliegas. Die probleem is dat die grondeienaar bitter min regte het. Die minerale regte behoort aan die regering en hulle verkoop dit aan wie hulle wil en jy as oppervlak eienaar kan hulle nie keer om op jou grond te ontgin nie. Ek weet want daar was al prospekteerregte op ons plasie. Feit is as daar skaliegas is gaan dit ontgin word of ons daarvan hou of nie! Ons uitdaging is eerder hoe ons die hele situasie tot voordeel vir ons vryheidssrewe kan benut! Miskien iets soos alle plase wat amptelik die Volkstaat gedagte steun en die arbeids beginsels toepas gevrywaar word van hidrobreking omdat dit ons poging tot selfbeskikking sal vernietig. Dan sal daar eweskielik baie meer boere volksaters word en duisende hektaar byvoeg.

    1. Marna

      Sorg dat jy aansoek doen om ñ verkennende studie op jou eiendom te doen, in Engels genoem ñ Reconnaissance Permission Application (RPA). Dit verhoed dat enige iemand enige ander tipe aansoek soos ñ Prospekteerregaansoek (PRA) of Mynregaansoek (MRA) op jou eiendom kan indien…

  3. Frik Lotz

    Ek stem 100% saam met Anton. Daar gaan geweldige skade aan die omgewing aangerig word wat nooit weer sal herstel nie. Dan lyk dit ook of die regering geld uit die storie wil maak. Dit gaan dus net oor eiebelang en die boere en omgewing is nie belangrik nie. Hierdie ding moet met hand en tand beveg word.

  4. Marna

    Dele val in beoogde gebied, maar groot dele is direk aangrensend…. Maar veral die vervoer van groot toerusting sal ons direk raak… Ek het in 2011 hieroor praatjies in Orania gelewer…

  5. Marna

    1. iemand asb vir my laat weet waar die beoogde volkstaat se grense loop?
    2. Hoe is dit bepaal?
    Want dit volg beslis nie bestaande administratiewe grense nie….

    1. Ek dink ons sal slegs besliste antwoorde kry van waar die volkstaat se grense presies gaan wees as ons ‘n tydreisiger kan kry om vanuit die toekoms vir ons te kom meedeel waar die grense toe uiteindelik getrek is…. 🙂

  6. Dante Strauch

    Marna dankie vir die inligting ek sal uitvind daaroor. Quintin ek dink dit is ‘n goeie idee om weer oor die hidrobreking te gesels in Orania met ‘n paar kenners. Verstaan my reg, daar is niemand wat meer gekant is teen hidrobreking en meeste tipes mynery as ekself nie. Ek sien watter ongelooflike omgewingskade dit veroorsaak en ook al die sosiale euwels wat met so iets saamgaan, so teenkanting is die eerste opsie. Maar ons moet nie naief wees oor die goed nie, dit sal goed wees as daar ook ‘n plan B is, oor hoe Orania volle voordeel kan trek indien dit realiseer.

  7. jan

    Oor grense en hidrobreking.
    Onhou u dat oom Carl verwys het na ‘n studie wat gevind het dat die Oranjerivier se loop totaal verander kan word deur die poort by Prieska oop te maak. Dan sal die hele Verneukpas oa oorstoom en die water suid-oos waarts loop en weer in die oorspronklike loop by die Augrabies uitkom… Dit was glo die oorspronklike loop…
    Dink net die potensiaal………

  8. Die beste wat die Karoo bewoners kan doen is om gereed te maak vir die ontginning. Tyd dat ons koppe by mekaar sit om uit te vind hoe kan ons ‘n deel van die koek kan kry.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s