Terug na lokale beheer

In ‘n soeke na ‘n samelewingsorde, waarin dié individue daarin tot hul ‘volle’ reg kan kom, is daar ‘n magdom ordes waaruit ons kan kies en keur om te dissekteer en/of te hibridiseer. Dié ordes is so gevarieerd as wat ons verspreiding wyd is.

Waar lê dié ordes se wortels en hoe weeg hulle teen mekaar op?

Met verloop is ons oor verre landmassas versprei. Op hierdié oer migrasie, genoop deur klimaatsverandering, gebiedsuitputting, oorbevolking of sommer net ‘n swerflus, volg unieke genepoele, rasvariasies en ander kenmerke eiesoortig aan volke.

So evoleer geïsoleerde genepoele en beskawings elk hul eie koers in!

Vroeë tye se klein groepe was grootliks onbewus van mekaar se bestaan. Elk, lokaal onder beheer vanuit die eie onmiddellike kring, het rustig hul gang gegaan. Groot magsugtige groepe se mettertydse koms en hul bemoeienis met die kleineres se sake, was die begin van volke se interaksie. Die grotes het die kleineres en ook mekaar, as die geleentheid hom voordoen, geplunder.

Is dié hardhandige wisselwerking die natuur se manier om te keer dat isolasie nie tot stagnasie lei nie? Is dit hoe isolasie, in die regte verhouding tot blootstelling, voorsorg tref sodat rasse en etniese groepe hul unieke eienskappe behou maar tog ook blootstelling aan invloede van buite kry? Word genepoele, deur middel van seleksie en/of hibridisering, so verbeter?

In ‘n natuurlike proses neem ons instinkte die leiding en sodoende hou hierdié seleksie- en hibridiseringsprosesse voordeel in. Daarenteen is ‘n polities gedwonge proses van integrasie selde voordelig, eerder afbrekend!

Die mens is avontuurlustig: waar oorlog en stryd dié lus nie bevredig nie, soek hy ander uitlaatkleppe. Lokkende verre horisonne is so ‘n uitlaatklep. Die blou berg moet oor!

So het Marco Polo koers gevat die Ooste in en is met vertellings van ‘n wonderwêreld doer vêr, terug. Sy stories van groot rykdomme en allerhande aanloklikhede het verbeeldings geprikkel en dié Westerse wêreld aan die beweeg gekry.

Dié “wondere van die Verre-Ooste” was dus die vonkie wat die moderne Westerse wêreld se vuurtjie maak brand het. Almal wou daarheen!
Die gevolg? ‘n Verowerende en dominante Weste wat in sy gierigheid als voor hom platgevee het!

Volgens die geskiedkundiges Dan Sleigh en Piet Westra in hul boek “Die aanslag op die slaweskip Meermin, 1766” word die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), naas die meer moderne Ford-motormaatskappy en Microsoft se rekenaarstelsels, deur UNESCO beskou as die maatskappy wat die grootste invloed op die mensdom gehad het.

Historiese gebeure soos die staatkundige Franse Revolusie en die Industriële een in Engeland se invloed op die moderne wêreld moet nie geringskat word nie. Hulle hoort hier saam.

Laasgenoemde twee se bydrae het kort op die hakke van die eerste een, naamlik op die van die maatskappy, die VOC, gevolg.

Die VOC het, met mag en mening die oseane bevaar, Europeërs na al die aarde se uithoeke toe versprei en meer goedere uit die Ooste terug Europa toe gebring as al sy mededingers saam!

Van 1602 tot 1795 het die VOC 4785 skepe Ooste toe gestuur teenoor, sy grootste mededinger, die Engelse Indiese Kompanjie, se 2690 skepe. In dieselfde tydperk het hul skepe 2.5 miljoen ton goedere terug Europa toe gebring, terwyl die Engelse skepe ‘n halfmiljoen ton gebring het.

Gedurende hierdie tydperk het hulle sowat ‘n miljoen Europeërs Ooste toe vervoer, terwyl die ander Europese nasies gesamentlik sowat 880 000 Europeërs daarheen geneem het. Sodoende het hulle die saadjie van vandag se “Global Village” geplant.

Die Franse Revolusie, op sy beurt, het die einde van kleiner selfstandige gemeenskappe aangedui. Met die kreet van Liberté, Egalité, Fraternité (vryheid, gelykheid en broederskap) moes almal onder die beheer van een sentrale regering kom, m.a.w. een nasie, een taal, een vlag. Onder dié waan, was nasiebou nou die gonswoord en so is die “nasiestaat” gebore.

Waar volksvorming vroeër ‘n natuurlike evolusionêre proses was, is dit sedertdien meer die produk van politieke manipulasie. Die omvang van die skade wat so aangerig word, ‘n skade wat hedendaagse “liberales” misken en ontken, sal die tyd ons nog leer.

Die Industriële Revolusie in Engeland, anders as die Franse Revolusie, was nie intern gewelddadig nie maar hebsug en geweld loop altyd saam. Die massa produksie van goedere, het die begin van welvarendheid vir Westerse gebruikers ingelei. Almal wou in dié welvaart deel en nywerhede het Europa oorspoel. ‘n Ongekende aanwas in bevolking het gevolg wat op sy beurt die vraag na grondstowwe verhoog het. Iemand moes voorsien en die kolonies het lês opgesê!

Koloniale magte se gewelddadige optredes, beide teen inwoners van die gekoloniseerde gebiede asook teenoor mekaar, het die openbare valbyl vertonings in Frankryk na kinderspeletjies laat lyk! Slawe se bydrae in die voorsiening van rou materiale en die gepaardgaande handel in slawe was op ‘n hoogtepunt.

Terug by die volgende rolspeler, die Ford-motormaatskappy. Met die massaproduksie van motors het Henry vir Janalleman op wiele gekry. Met vyftienmiljoen model T-Fords wat die swak paaie van die tyd kon oorleef, het afstande vinnig gekrimp. Vandag se netwerk van paaie waarmee ons so gemaklik vanaf punt A na punt B toe beweeg, is die uitvloeisel van die massa geproduseerde motorkar.

Dankie Henry?

Dan was daar Microsoft se rekenaarstelsels wat ‘n rekenaar in elke huis en in elke tweede skoolkind se kamer besorg het. Met die druk van ‘n knoppie of die kliek van ‘n muis is mense nou wêreldwyd aan’t gesels. Enige inligting oor enige onderwerp is oombliklik beskikbaar op die monitor voor jou. Sake transaksies word oor landsgrense daagliks op die internet beklink.

Ons is en word ingelig soos nog nooit tevore nie. Ons het kontak met afgeleë groepe in vêraf lande. Ons kan met mense wêreldwyd, vanaf ‘n gemakstoel in eie huis, gesels! Ons kan vastelande oorkruis met ons motors. Ons het vryhede soos nog nooit tevore nie: of het ons?

Al dié veranderinge het die wêreld holderstebolder getref en ‘n chaotiese teelaarde vir grootskeepse despote, was die nalatenskap. Magsmisbruik vind nou op ‘n globale vlak plaas.

Gedryf deur despote se gevestigde/selfsugtige belange word hul invloedsfere met mag en mening verdedig. Op hierdie tydstip gebeur dit in Sirië sensasioneel so! Meer subtiel vind dit deurentyd hier om ons en oral plaas.

Het die Britte, Franse, Spanjaarde, Portugese of wie ook al werklik hul kolonies, met al hul gevestigde belange daarin, net so met dié se onafhanklikwording prysgegee? Ek glo nie so nie! Dis eerder ‘n geval van ratte binne ratte, plaaslike despote se toutjies word, op hul beurt, deur globale despote getrek. Onder dekmantels word daar lustig voort gekonkel!

Die naam, Edward Snowden, is deesdae op almal se lippe! Sy sonde? Deur die deksel van despote se geheimhouding net so effens te lig word daar nou op hom, soos op ‘n wilde dier, jag gemaak!

Plaaslik verloop die Anglo/Amerikaners se planne met ons alles behalwe seepglad, die ANC se onbeholpenheid skep te veel probleme! Hul oplossing: span steeds ANC-akademici as bruikbare idiote in om die etniese Afrikaner te elimineer maar skep terselfdertyd ‘n opposisie soos die DA om ‘n regeringsoorname te poog!

Engels is die medium waarmee hulle dit vir hulself maklik maak.

Die dwingende vraag is: Hoe slaan ons dié misbruike hok?

Eie Afrikaner-gemeenskappe, soos die in Orania, is die ooglopende oplossing! Lokaal beheerde gemeenskappe is die teenvoeter vir despote se vergrype in groot eenheidstate of taalinvloedsfere waar hulle gemeenskappe ongemerk binnesluip en dan van binne af rysmier!

Deur die aftakeling van minderhede het die lomp nasiestate hul beslag gekry en so word hulle dan ook in stand gehou. Dis nie iets waaruit die individu of individuele groep voordeel trek nie. Vreemd hoe, veral uit ons eie akademiese geledere, verdediging van die logge eenheidstaat kom en toegewings wat tot ons ondergang sal lei gevra word. ‘n Goeie illustrasie van hoe tersiêre instellings gebruik word om despote se voetsoldate op te lei?

In die groter prentjie is menslike verskeidenheid die groot verloorder! Die klieks aan bewind is die enigste bevoordeeldes.

So ‘n kliek kan ‘n geldmag wees met die politici onder hul beheer, dit kan ‘n sosialistiese kliek met beheer oor die geldmag (solank as wat die geld hou) wees. Dit kan ook godsdiens groepe wees.

Die Katolieke kerk het ‘n lang geskiedenis as politieke rolspeler, vroeër blatant, nou subtieler. Groot faksies in die Islamitiese wêreld speel vandag ‘n geweldadige rol in wêreld politiek. Weereens is dit ‘n geval van taalgrense vêr anderkant die lokale wat sake vir sulke despote vergemaklik.

Sterk taalgrense, soos sterk gebiedsgrense, is ‘n gemeenskap se sekerste skanse. Wie toegang deur dié grense verkry, moet dit by die groep self kry en nêrens anders nie.

Aanslae teen gemeenskappe sal daar altyd wees! Dis net die mees betrokke en bes ingeligte gemeenskappe wat sulke aanslae oorleef.

Die VOC het die wêreld help klein maak maar met die holderstebolder daarvan het verwringing gekom! Ons, hul nasate, moet met lokalisering soos die in Orania, die balans tussen die komponente van beheer in óns samelewing, herstel.

Daarin lê ons sin en betekenis en daarmee skep ons ‘n voorbeeld vir ander vrygeeste om te volg!

8 thoughts on “Terug na lokale beheer

    1. Andries Vorster

      Dankie Ben vir ‘n baie interessante artikel. Ek hoop werklik dat Orania daardie voorbeeld kan wees waarvan jy praat. Die realiteit is egter dat lokalisering alleen nie die oplossing is nie. Selfs op lokale vlak kan mense se vryhede ernstig aan bande gele word deur magshonger individue en instansies. En dikwels met sogenaamd ‘baie goeie redes’. My oproep dus: Terwyl ons besig is om te werk na ‘n Volkstaat, kom ons beywer ons vir nie net vir lokalisering nie, maar vir desentralisering. Hoe minder wette, strukture en beheerliggame, hoe meer geleenthede vir die individu, en uiteindelik vir die gemeenskap van individue, om self verantwoordelikheid op te neem en werklik vry te wees.

      1. Andries, vir my is lokalisering sinoniem met desentralisering.

        Stel jouself ‘n gebied, sê maar die Thembilihle munisipaliteit wat ongeveer 8000 vk.km. groot is, opgedeel in tien vyftien Orania’s, voor.

        Elk dorp/distrik daarin funksioneer as ‘n selfstandige kanton. Oorkoepelende liggame word net per geleentheid aangestel om gedeelde strukture op te rig of in stand te hou. Die laaste sê bly by die kantonne waar elk ‘n vetoreg behou re besluite wat hulle direk raak.

        So werk Switserland en so sou die VSA gewerk het as ene Lincoln dit nie met geweld omgekeer het nie!

        Die uitgangspunt is dat geen beheerliggaam meer sê as die van die plaaslike bestuur mag en kan hê nie.

        So ook moet elke dorp/distrik se bestuur, deur die bewoners met behulp van ‘n billike prosedure, voor stok gekry kan word.

        Magsmisbruik is die probleem. Voorkoming van magskonsentrasie is ‘n goeie vertrekpunt tot die oplossing daarvan!

      2. Vlaanderen heeft ook een vergelijkbare probleem tegenover Franstalige Socialisme van Wallonie dat de algemeen Centrum Rechts niet wenst. De 2 Grootste partijen van Vlaanderen gaan nu naar de verkiezingen van Mei 2014 met een poging om van Federaal België naar Confederale België te gaan… voor meer plaatselijk onafhankelijkeihd en zelfbestuur te geraken. Ik adviseer u ook een kijkje op de website van European Free Alliance, een alternative vereniging van Volkeren en Culturen zoals Scotland, Vlaanderen, Sudtyrol… die ook meer zelfbestuur willen. Misschien kan uw Vrijstaat als Special Guest lid worden ? persoonlijk heb ik een complete holistic ”Social contract voor Noordeuropa” op punt gezet. U zal het vinden op http://www.hansaseminar.zxq.net groetjes uit Vlaanderen. Andre.

  1. Werklik interessant. Dis ongelooflik om die syfers van die VOC se bedrywighede te sien. Hierdie klas van inligting is verseker nie alombekend nie – so ja, dankie hiervoor oom Ben!

    Lokalisering moet hand aan hand loop met ‘n sterk privaat sektor om sodoende groei en burgers se vryhede te optimeer. Die owerheid se rol moet beperk wees tot die bestuur van munisipale dienste, handhawing van wet en orde en minimale regulering sover dit standaarde aangaan. Hierdie standaarde moet egter bepaal word deur ‘n ekstensiewe konsultasie proses met rolspelers in die privaat sektor wat spesialiseer in ‘n bepaalde veld.

    Volksdemokrasie is ononderhandelbaar en dis ons plig as burgers om te sorg dat ons nie van hierdie model afdwaal nie. Volksdemokrasie gepaard met ‘n opgevoede en produktiewe samelweing en ‘n ekonomies regse benadering is mynsinsiens die kern bestanddele wat vryheid, voorspoed en stabiliteit verseker.

    Die alternatief is die Kubaanse model van kommunistiese lokalisering. Almal het dalk genoeg kos om te oorleef, maar daar is ‘n ernstige gebrek aan individuele vryheid, media vryheid, handelsvryheid ens. Hoe groter die owerheid se invloed word, hoe nader beweeg ons aan hierdie afgrond – en dit moet ons ten alle koste vermy.

    Orania bied vir entrepreneurs ‘n vryemarkekonomie om te floreer. Dis eintlik ‘n skande om te sien hoe min Afrikaner-entrepreneurs tans die skepping van hul eie welvaart in lyn bring met volkstaatontwikkeling. Nie eens 1% van alle Afrikaner-entrepreneurs het al iets tasbaar om te wys in Orania nie. Daar is gelukkig al hoe meer mense wat alles in ons vermoë doen om ‘n verskil te maak in hierdie verband.

    Dis uiters belangrik om Orania se privaat sektor daadwerklik uit te brei en terselfdertyd ‘n goeie verhouding met die owerheid te handhaaf. Geen intelligente Afrikaner sal hom of haarself ooit (weer) vrywilliglik onderwerp aan ‘n hoogs sentralistiese owerheid soos bv. PW Botha se NP-regering nie.

    Dis om hierdie rede dat Vry Afrikaner ‘n onafhanklike ontwikkelingsfonds in die lewe geroep het en die volle bedrag van elke lid se aansluitingsfooi hierin belê met die gevolg dat entrepreneurs en privaat ontwikkelaars wat ‘n tekort aan inlegkapitaal het, daadwerklik bemagtig word wanneer hulle betrokke raak by volkstaatontwikkeling.

    1. Daar moet natuurlik gewaak word teen magstrukture in die vorm van ongelyke kapitaal verspreiding. Dit kan net deur ‘n groot poel van mededingende ondernemers voorkom word!

      Ondernemerskap is hier die wagwoord!

      1. Presies. Dis waarom elke suksesvolle ondernemer hom- of haarself op meriete uit moeilike omstandighede presteer het.

        Ek het uit ervaring geleer dat die Volkstaat heelwat vinniger sal groei sodra daar ‘n bron is wat broodnodige kundigheid en kapitaal daarstel vir nuwe entrepreneurs in ruil vir aandeel in hul ondernemings, met dien verstande dat hulle oor ‘n tydperk van maks. 5 jaar die ekwiteit wat hulle afgestaan het (in ruil vir inlegkapitaal) weer kan terugkoop teen werklike markwaarde. So ‘n ondernemer sal natuurlik gekeur word op grond van sy besigheidsplan en markomstandighede wat risiko bepaal. Kapitaal verspreiding is dus direk gekoppel aan meriete.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s