Pretoria in Oktober 1931 tot stad verklaar

Op 14 Oktober 1931 is Pretoria amptelik tot stad verklaar. Dit sou die Afrikanerstad by uitnemendheid word en vir vele ’n simbool van Afrikaners se oorheersing van Suid-Afrika – positief of negatief. Nadenke oor die wese van ’n stad, maak die geval van Pretoria uiters aktueel.

’n Nedersetting word ’n stad as dit tot een verklaar word – deur koning of regering. Die historiese wortel van die woord beteken dieselfde as “burg”, met ander woorde ’n versterkte, ommuurde nedersetting. Die Engelse “city” is ’n afkorting van “citadel” wat dieselfde beteken.

Om ’n nedersetting te ommuur, vereis omvangryke vermoë. Gewoonlik sal die bevolking redelik groot wees, met ’n sterk gevoel van eiewaarde. Dit kan ook ’n daad van opstand of aggressie wees, wat verklaar hoekom toestemming daarvoor nodig was.

Kyk byvoorbeeld na die stryd wat Nehemia in die Bybel moes voer, teenoor Sanballat en Tobija se beskuldigings dat die opbou van Jerusalem se muur opstand teen die regering was.

Die vermoë om ’n stad te ommuur, sou beteken dat daar vermoë en behoefte tot selfregering was. Soms was ’n stad totaal vry, soms betreklik vry binne ’n groter staats- of ryksverband en soms het ’n aantal vrystede oor afstand heen ’n verbond gesluit.

’n Samelewing met die vermoë tot selfregering en selfbeskerming, vertoon gewoonlik ook ’n kulturele diepgang. Daarom dat ’n katedraal, groot kunswerke, museums en soms selfs ’n paleis, stede dikwels kenmerke.

Anders as die verwagting, is groot getalle nie altyd ’n vereiste nie. Die kleinste stad in Amerika, Shafer in Minnesota, het eenduisend vyf en veertig inwoners, volgens die sensus van tweeduisend en tien.

Pretoria is in 1855 as hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek gestig. Groei was stadig en vir byna die eerste honderd jaar het dit ’n landelike, hoewel effens kosmopolitiese, karakter gehad. Daar was min Afrikaners met die vaardighede vir landsregering en handel, sodat die hoofstad deur mense van allerlei Europese agtergronde bevolk is.

Na die Tweede Vryheidsoorlog, veral met status as administratiewe hoofstad van die Unie van Suid-Afrika sedert 1910, het die karakter al meer Engels geword.

Met die Universiteite van Suid-Afrika en Pretoria, die Uniegebou, sierlike stadsaal, Kerkplein met verskeie pragtige geboue, groeiende ekonomie, teaters en talle ander tekens van groei en diepgang, het Pretoria in 1931 stadstatus verkry. In der waarheid was dit erkenning vir vorige prestasies, meer as ’n prestasie op sigself.

Met ’n groeiende akademie (ook byvoorbeeld die WNNR en die RGN), staatsdiens en semi-staatsinstellings, waar Afrikaners die oorwig van posisies gevul het, het Pretoria by uitstek Afrikanerstad geword. Dit is dieselfde instellings wat tans gebruik word om die staat te transformeer na die ANC se model.

Om te dink dat Pretoria steeds ’n Afrikanerstad is, is louter wensdenkery. Dit mag wees dat sekere dele van die stad deur Afrikaners oorheers word, maar die verslawing aan goedkoop arbeid het Afrikaners van ’n stad beroof.

Uiteindelik word ’n stad se karakter deur die oorwig van sy inwoners bepaal. Afrikaners moet ’n stad hê, maar sal dit steen vir steen moet herbou.

4 thoughts on “Pretoria in Oktober 1931 tot stad verklaar

  1. Dit is die belangrikste stelling wat ooit gemaak is (m.b.t. die Afrikaners): “Dit mag wees dat sekere dele van die stad deur Afrikaners oorheers word, maar die verslawing aan goedkoop arbeid het Afrikaners van ’n stad beroof.Uiteindelik word ’n stad se karakter deur die oorwig van sy inwoners bepaal. Afrikaners moet ’n stad hê, maar sal dit steen vir steen moet herbou.”

  2. Vir interessantheidshalwe, toe daar in die 19de eeu op Pretoria besluit is as hoofstad van die Zuid-Afrkaansche Republiek, het die nedersetting se status toe nie by implikasie verander na ‘n stad toe nie? Hoekom het hulle Pretoria eers amptelik tot stad verklaar in 1931 as dit reeds vir dekades lank ‘n hoofstad van ‘n land was?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s