Afrikaners, liberale waardes en die Wet op Gelyke Indiensneming

Die verskerpte Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming is verlede week deur die Nasionale Vergadering gevoer, met slegs die Vryheidsfront Plus wat daarteen gestem het. Veral onder Afrikaners is daar ’n hewige reaksie.

Oor die laaste dekade en ’n half  het groot getalle Afrikaners veiligheid in liberale waardes gevind, wat die bevolking bloot as mense beskou en volgens meriete beoordeel. Die ontnugtering is dat die Demokratiese Alliansie, wat hierdie waardes oor dekades beliggaam het, nou vir ’n rasgebaseerde wet gestem het.

Miskien bied dit goeie geleentheid om die kitshuwelik tussen Afrikaners en liberale waardes deeglik te beskou.

“Gelykstelling” was vir vorige geslagte Afrikaners ’n afskuwelike gedagte. Hulle was gekonfronteer met die wêreldwye Engelssprekende kultuur, wat die ontluikende Afrikanerkultuur totaal verdwerg het.

Daar was ook die oorweldigende getalle van Afrika se swart volke, teenoor wie Afrikaners hulleself net so moeilik sou handhaaf. Verder is die Engelse liberalisme gewantrou. Dit het verklaar dat almal gelyk was, maar die reëls so geskryf dat jy Engels moes wees om gelyk te wees.

Hiermee is die sentrale swakheid van liberale waardes intuïtief raakgesien: Dit is blind vir hoe kultureel bepaald dit eintlik is; verblind deur die geloof dat ander sienings ideologies gelaai is, maar nie die liberalisme nie.

Liberale waardes berus daarop dat die speelveld gelyk moet wees, sodat net meriete tel. Dit neem nie in ag nie, dat netbal-, gholf- of krieketspelers ernstig benadeel word as die spel rugby is, al is die speelveld gelyk.

Die punt is dat ’n mens ’n gelyke speelveld verkies as jy die spelreëls ken en beoefening van die sport bemeester het. Dan is die regering vir jou die skeidsregter wat op die agtergrond moet bly en bloot sorg dat die reëls gevolg word.

Vir Afrikaners was die metafoor van die staat as speelveld en die regering as skeidsregter ontoepaslik. Die staat, hetsy die Boererepublieke of Suid-Afrika, was ’n verlengstuk van die volk; moes die volk koester en opbou. Afsonderlike ontwikkeling het beoog om ’n soortgelyke staat vir elke volk op te rig, hoewel dié lofwaardige doelwit deur die tradisionele arbeidsverdeling tussen kultuurgroepe ondermyn en uiteindelik vernietig is.

Die vernietiging van die Afrikaneroorheersde staat in 1994 het onder meer gelei tot openbaarmaking van magsvergrype, veral in die laaste dekade daarvan. Individuele Afrikaners, wat intussen tot wêreldklas professionele lui, ambagslui en ondernemers gevorder het, het skielik aanvaar dat die liberales eintlik reg was: Net meriete moes tel.

Die swart bevolking sien dit oorwegend anders. Die staat moet hulle mense koester en ophelp, terwyl blankes, by uitstek Afrikaners, vir alle agterstande verwyt word.

Enige party wat as alternatiewe regering na vore wil tree, moet hierdie sentiment aanvaar en bevorder. Daar kan bloot oor die beste strategieë en aanstellings verskil word.

Wat Afrikaners kort, is nie ’n beter regering nie, maar ’n beter bedeling. Een wat vir kulturele verskeidenheid voorsiening maak. Wat Afrikaners in staat stel om ’n grondgebied met vestiging te bekom. Kortweg, wat die oog op selfbeskikking het.

Afrikaners moet weer leer om aan ons eie kant te wees en as Afrikaners te stem.

10 thoughts on “Afrikaners, liberale waardes en die Wet op Gelyke Indiensneming

  1. A Schlemmer

    Dit is onverklaarbaar tragies, dat Afrikaners basies hulself, in so ‘n ekonomiese, sosiale en politieke gemors gekry het nie. Die huidige situasie dink ek, gaan net erger raak.

    Dit tel egter swaar in ons guns. Ek vermoed Afrikaners gaan nou begin wakker skrik en na werkbare alternatiewe kyk.

    Dus ons plig by die Orania Beweging, om nou die fakkel te dra, en vir ons mense die weg te wys na vryheid! Nou meer as ooit!

  2. Vir almal wat nog nie TONY LEON se reaksie in gister se BEELD gesien het nie:

    “As die DA nie sy steun aan die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming onttrek nie, is die party so goed soos ’n tweede ANC.”

    So het Tony Leon, voormalige DA-leier, gister gesê te midde van grootskaalse verwarring en ontevredenheid in DA-geledere en by ondersteuners nadat die party die omstrede wysigingswetsontwerp – wat die afdwing van raskwotas in die werkplek versterk – in die parlement gesteun het.

    “Dit is ’n vurk in die pad. Jy kan nie nie-rassig wees en terselfdertyd rassigheid steun nie.

    “As dit ’n fout was, is dit een ding, maar dan moet hulle dit regstel en verduidelik, anders het ons twee weergawes van die ANC en kiesers het geen werklike keuse nie.”

    Leon het ge-“um” en ge-“ah” oor of hy steeds vir die DA sal stem in die 2014-verkiesing as die party nié sy besluit omkeer nie. Uiteindelik het hy net gesê: “Wel, ek sal nie vir enige ander party stem nie.”

    DA-leiers in verskeie provinsies het aan Beeld gesê hulle het die laaste tyd talle oproepe van ongelukkige DA-ondersteuners ontvang. Een het gesê sy foon lui onophoudelik.

    “Boere, sakelui, gewone mense, almal wil hê ek moet verduidelik. Hulle is baie ongelukkig. Ek hoop nie ons gooi nou baie van die liberale beginsels weg waarvoor die DA geveg het nie.”
    ’n Ander een het gesê daar is “ ’n onrustigheid” onder DA-lede wat ontevrede is met die besluit.

    John Kane-Berman, voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het gesê dit lyk al hoe meer asof die ANC se rassebeleid in die DA “wedergebore” word. ’n Nuwe vorm van rassemanipulasie is nie ’n goeie alternatief tot apartheid nie.

    James Myburgh, redakteur van die aanlynpublikasie Politicsweb en voormalige DP (Demokratiese Party-) parlementêre navorser, het ook skerp kritiek uitgespreek in ’n artikel getiteld “Het die DA homself deur die brein geskiet?”.

    Lindiwe Mazibuko, DA-leier in die parlement, was gister nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar het die DA se besluit in ’n artikel in The Star verdedig.

    Sy het gesê die DA steun gelyke indiensneming wat die nalatenskap van apartheid regstel en aan almal werkgeleenthede gee.

    Volgens Mazibuko beteken dit nie die DA steun ál die klousules in die wysigingswet nie.
    Die DA sal druk uitoefen sodat dié klousules waarvan hy verskil, verander kan word wanneer dit voor die Nasionale Raad van Provinsies dien.

    Helen Zille, partyleier, kon nie gister vir kommentaar bereik word nie. Sy het nog op geen navrae oor die kwessie gereageer nie.

    . . .

    Die wet
    In breë trekke dwing die Wet op Gelyke Indiensneming raskwotas in die werkplek af.
    Kritici meen die jongste wysigings versterk die regering se vermoë om gelyke indiensneming af te dwing en kan die ekonomie kniehalter.

    Die volgende is van die belangrikste wysigings tot die wet wat pas deur die parlement goedgekeur is:

    • Wanneer ’n werkgewer van onregverdige diskriminasie beskuldig word, rus die onus op hóm om te bewys daar was geen diskriminasie nie.
    • Boetes teen ondernemings wat die wet oortree, word verhoog van tussen R500 000 en R900 000 tot R1,5 miljoen tot R2,7 miljoen of ’n maksimum van 10% van die onderneming se omset.
    • Ondernemings met 50 of meer werknemers moet indiensnemingsverslae nou jaarliks by die departement van arbeid indien, pleks van elke twee jaar.
    • Volgens die oorspronklike 1998-wet moes die direkteur-generaal van arbeid die getal toepaslik gekwalifiseerde kandidate wat vir die pos aansoek gedoen het, in ag neem wanneer bepaal word of ’n werkgewer gelyke verteenwoordiging toepas. Dié bepaling val weg in die wysigingswet.
    • Werknemers verloor hul reg om teen ’n nakomingsbevel te appelleer.
    • Buitelanders kwalifiseer nie as begunstigdes vir gelyke indiensneming nie.

  3. Frik Lotz

    VF Plus het teen die wet gestem en toon duidelik hul dra die Afrikaner se belange op die hart en is ernstig oor minderhed en minderheidsregte. Gaan stembus toe in 2014 en stem VF Plus.

  4. Douglas Lewis

    Volgens die nuwe logika is die staat wel suksesvol, al is dit nie volgens die norme van Westerse sukses nie. In ‘n bestel en kultuur waar meriete nie tel nie en waar individuele verantwoordbaarheid nie vooropgestel word nie, moet daar noodwendig ander uitkomstes verwag word. Die moderne staat wat Suid-Afrika geword het kon alleen volgens die riglyne van ‘n beskawing ontwikkel wat ‘n bepaalde peil van rasionele kulturele ontwikkeling bereik het. Dit is my mening dat die Afrika-kultuur nie oor die meganismes beskik om dié tipe rasionaliteit, wat die funksionering van ‘n modern staat vereis, vol te hou nie. Dit sal onvermydelik tot degenerasie en disintegrasie van die staat lei.

      1. Dante Strauch

        Ek weet nie of jy al in Botswana was nie, maar ek het al n groot gedeelte van die land gesien en ek dink nie dit is so voortvarend soos daar baie voorgegee word nie. Dis ‘n land met enorme minerale hulpbronne en ‘n baie klein bevolking. So daar is groot geld in omgang en dit sien jy op plekke, maar meeste dorpe lyk maar soos die vervalle landelike SA dorpe. En onthou die minerale word deur groot korporasies met ‘n multi-nasionale werksmag ontgin. Insluitend baie Afrikaners! My pa self het die afgelope twee jaar by Botswana se grootste diamantmyn gewerk, en sy indruk was die volgende: Afrika-tyd is in Botswana uitgedink!

      2. Jy is reg Dante – dit was ook my waarneming van Botswana se platteland toe ek laas daar was. Nietemin, wat ekonomiese groeikoers, werkloosheidsyfer en stabiliteit aanbetref sou ‘n land soos Griekeland al hul moussaka inruil om vandag in Botswana se posisie te wees.

      3. Dante Strauch

        Onthou ek nou iets van Ghana ook. Ek weet min van die land so ek wil nie sommer gevolgtrekkings maak nie, maar ‘n baie goeie vriend van my (ook ‘n Afrikaner) het daar ook twee of drie jaar gewerk. Hy is deur ‘n groot kettingwinkelgroep genader om ‘n groenteboerdery daar te begin omdat daar absoluut niks plaaslik te koop was nie, so hy wat Afrikaner is moes wes-Afrika toe om te gaan kos produseer omdat die lokale bevolking nie meer as bestaansboerdery gevorder het nie.

  5. Hennie van Kimberley

    Ek en my vriende het die DA vir jare gesteun maar meer en meer besef dat die DA nie die belange van minderheids groepe op die hart nie, nie eens te praat van die blanke Afrikaner nie. Die DA is niks anders as ‘n ANC-lite nie, ‘n Blanke Afrikaner verraaiersparty.
    Die laaste strooi is die sogenaamde “fout” met die wet op gelyke indiensneming. Zille se verskonings is soos flou soos ‘n kerslig op die maan – die boodsakp is uit en finaal !
    Nou stem ons liewer vir die FV+ en tweede op die lys is Agang !!

  6. In godsdienstige liberalisme word die Bybelse feit heeltemal ontken dat die Here grense tussen volke gestel het. ‘n Teks soos die volgende word óf geïgnoreer óf heeltemal verdraai: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand. 17:26). Hierdie “grense” het tog baie belangrike implikasies – nie net volkekundig en staatkundig nie, maar ook taalkundig en godsdienstig. Die evangelie moet aan elke groep in sy eie taal- en kultuurverband verkondig word, omdat dit benewens die redding van individue ook daarop ingestel is om gesins- en volksinstellings te verchristelik, te onderskraag en te versterk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s