Om as Afrikaners te stem

Die stelling is al gemaak dat Afrikaners weer moet leer om as Afrikaners te stem. Dit moet veel meer inhou as net ’n stem vir die Vryheidsfront Plus; dit moet spreek van ’n totale bewussyn van die penarie waarin Afrikaners verkeer en dat politieke mobilisasie ’n noodsaaklike deel van die herstelproses is.

Om die huidige situasie ’n penarie te noem, is dalk lig gestel. In die wêreldgeskiedenis tree etniese groepe soms sterker na vore en soms tree hulle terug, maar soms verdwyn hulle ook.

Verdwyning kan die gevolg van fisiese uitwissing, opname in ander groepe en ’n kombinasie van die twee wees. Fisiese uitwissing word deur lae geboortesyfers, sowel as etniese suiwering (volksmoord) veroorsaak. Opname in ander groepe kan volg op die teenwoordigheid van ’n sterker kultuur in die groep se land, of op migrasie na wêrelddele waar ander kulture oorheers.

Afrikaners is tans aan ’n besonder lae geboortesyfer, ernstige misdaad wat soms volksmoord genoem word, oorheersende teenwoordigheid van die Engelssprekende wêreldkultuur en emigrasie onderhewig. As beroepswedders op die Afrikaner se kans om oor vyftig jaar nog ’n herkenbare kultuurgroep te wees moes wed, sou die syfers nie bemoedigend gewees het nie.

Drie van die vier negatiewe faktore hou direk met politieke onmag verband. Die regering kon ‘n besluit om die kommandostelsel af te skaf, met politieke mag afdwing. Politieke mag sal nodig wees om iets soortgelyk te herbou. Die ontstellende moordsyfer op boere, polities of krimineel geïnspireerd, sal andersins voortwoed.

Die regering en alle politieke partye, buiten die VF+, aanvaar dat Suid-Afrika se kulturele verskeidenheid oorbrug moet word deur Engels as openbare taal te gebruik en ander tale tot privaatlewens te beperk. Sonder politieke mag sal die openbare agteruitgang van Afrikaans nie gestuit word nie. Afrikaners, wat moeilik in twee wêrelde leef, sal toenemend verengels.

Emigrasie impliseer gewoonlik ’n negatiewe opvatting oor die bestel waaruit vertrek word. Nie alle emigrante is noodwendig polities bewus nie, maar ’n omgewing wat Afrikaners weer tuis laat voel, sal moeilik sonder een of ander vorm van politieke mag bereik word.

Om iets saam te doen, is in die wydste sin van die woord ’n politieke daad. Afrikaners sal verskeie politieke dade moet verrig. In lande wat deur etniese burgeroorlog gelouter is, soos Kenia en Etiopië, stel politieke mag aan etniese groepe beskikbaar, om die eenheid van die staat te behou.

Die Suid-Afrikaanse regering en al die opposisiepartye buiten die VF+, beywer hulle vir die teenoorgestelde benadering.

Afrikaners moet moontlike politieke dade evalueer en die belowendste daarvan uitvoer. Vanselfsprekend sal mense se keuses verskil. Meerderheidsbesetting deur belegging om selfs hervestiging in Orania of elders in die streek, is een van die nuttigstes. Nog een is om buite-parlementêre politieke organisasies te steun.

Een wat noodsaaklik is, is om vir die VF+ te stem. Indien ’n meerderheid Afrikanerkiesers die VF+ steun, sal die boodskap vir elke waarnemer duidelik wees. Dan kan politieke mag vir Afrikaners in alle raadsale beding word, terwyl die opbouproses op die grond voortgaan.

Die toekoms is moontlik, maar nie vanselfsprekend nie.

32 gedagtes oor “Om as Afrikaners te stem

  1. Andries Vorster

    Wynand. Sal die Vryheidsfornt ‘n uitgesproke Noord-Kaap Volkstater as provisiale kandidaat in die Noord-Kaap stel? Dan kan ons Afrikaners aanmoedig om in die Noordkaap te gaan registreer en daar te stem. Dit is na my mening die enigste moontlikheid om miskien ‘n verskil te kan maak. Dit gaan heelwat moeite en tyd vra maar ek dink dit is ten minste die moeitwerd om ondersoek te word.

    1. Wynand Boshoff

      Die VF se provinsiale leier in die Noord-Kaap is mnr Nic Aldrich, inwoner van Orania en ywerige volkstater. Hy is vanself eerste op ons lys. Die ander posisies moet nog gevul word, maar ons het verlede week gereorganiseer – almal op die partyraad val in daardie kategorie.

      Die punt dat die wêreld Afrikaners se tevredenheid met die bedeling aan VF stemme meet, kan nie ontken word nie. Daar is nog maatstawwe, maar hierdie een is beslis belangrik.

      Die VF is nie bo kritiek verhewe nie. Ek beywer my ook vir ’n meer selfbeskikkingsgerigte benadering. Nietemin voel ek daar tuis en vind dit ’n sinvolle plek om my deel vir ons ideaal te doen.

  2. Die probleem met die Afrikaner is dat hy alle vertroue in leierskap verloor het. Die verraad van FW de Klerk en Johan Heyns sal nog in die toekoms baie bespreek kan word maar dit kom daarop neer dat alles waarin die volk geglo het-en met hul afsondering en grensdiens verdedig het, verraai is deur dit as ‘n sonde teen God te verklaar. Selfs die wat FW en en die verligtes ondersteun het is nou weeskinders want die NP het verdwyn, die eksperiment met die Nuwe “verligte” Suid Afrika het klaaglik misluk-selfs Helen Suzman is op haar sterfbed diep terleurgesteld dood oor die mislukking van die ANC. Die FAK en die Voortrekkers is nou veelrassig en basuin gelykheid uiten dis die probleem. Die Afrikaner het en kan homself nie as “gelykes” sien nie. Nie na 40 jaar se propaganda as ‘uitverkorenes’ nie. Dis so goed jy vertel ‘n Jood die Bybelgeskiedenis is ‘n versinsel en hulle is glad nie so spesiaal as wat hulle gedink het nie. Dis eintlik presies dieselfde. Christen Afrikaner en Moslem is gelyk gestel. Maar die Kerk het dan gese dis die Antichris? O nie meer nie. En allah en God is gelyk. Al verbied die Moslem geloof dat Allah ‘n seun kan he. Maar almal is gelyk. En almal is reg. En niemand is verkeerd nie-behalwe die Afrikaner Rassis en sy Boere geskiedenis.
    En niemand skree juis Hokaai nie. Niemand stuur die kerk hel toe oor hul gatomswaaiery nie. Niemand verdedig die beleid van groot Apartheid nie. Die kind is met die badwater uitgegooi. Nie eers die VF+ nie. Hulle is stiller as Agriforum en Solidariteit. As Solidariteit vandag politieke party word verdwyn die VF+ more.
    Om terug te keer. Die Afrianer is a-polities. Hy vertrou geen politikus nie. Behalwe Helen Zille-sy maak darem haar bek oop. En sy erken as sy fouteer het-‘n eienskap wat mense waardeer al sal sy NOOIT my stem kry nie. Waarom het die VryheidsfrontPLUS nooit van Radio Pretoria iets help maak nie? Maar dan ook-Flip Buys en twee oud regters op die Direksie van Radio Pretoria kon nie eers die Icasa lisensie reg verstaan nie! As jy my vra is die VF+ ‘n studente-organisasie.
    Google weier oor die naweek om Afrikaans as advertensietaal te erken met 6 miljoen sprekers-en Lithuanian word erken met minder as 3 miljoen sprekers. Ek wag is spanning vir reaksie uit enige Afrikaanse geledere-VF+, FAK, Regslui vir Afrikaans, ens. Niks op die VF+ se webtuiste nie. Behalwe as ek dit gemis het. Dis die mislikste kleinskrif ingedrukte webtuiste wat ek nog ooit gesien het. As jy iets oor Afrikaner selfbeskikking wil lees moet jy regtig soek daarvoor. Die DA in teenstelling het ‘n verkiesingsgerigte webblad wat baie gebruikersvriendelik is.
    Wonder of moderne Afrikaners nie hierdie subtiele verskille agterkom nie en liewers in die toekoms wil leef as in die verlede nie.

  3. “Die toekoms is moontlik, maar nie vanselfsprekend nie.”

    Ek stem saam Wynand!

    Ek hoor vanoggend ‘n predikant op die radio preek en hy haal toe die volgende aan, rofweg vertaal: “Elke mens is die meester van sy eie keuses, maar elke mens word dan ook die slaaf van daardie keuses..”

    As mens dus kies om slegs ‘n toeskouer te bly en jou deelname weier, sal daardie keuses jou dan ook laat ervaar wat onvermydelik is.

    Mens kan vir ure en ure, selfs maande met individue deel en aan hulle probeer verduidelik dat dit futiel is om weer die wiel te herontwerp, maar hulle sal aan elke liewe rede dink oor hoekom ons as volk dit nie sal kan regkry om weer vry te wees nie.

    Verskoning wissel van Orania wat ‘n klein stowwerige gehuggie tussen êrens en nêrens is en die feit dat dit in die middel van die woestyn is tot dat ons reg het op die hele SA as ons land.

    Ons het juis ook diesulkes nodig om juis aan ons nageslagte te wys hoe dit nie gedoen moes word nie…..

  4. Theo

    Briljant gestel,Andre,ek kon dit nie beter doen nie! Wat help dit om vir die Vryheidsfront te stem,wattere verskil gaan hy maak in die parlement,wie gaan luister?En hHelen Zille,wat voel sy vir ons,daar is geen verskil tussen haar party en die Anc nie! Nee,ons toekoms lê buite parlementêr,,of by Oranië!

    1. Quintin Diederichs

      Theo, ek stem nie heeltemal saam nie. Die VF verdien die krediet vir die feit dat ‘n buite parlementere roete, soos Orania, gevolg kan word. As dit nie vir die VF was nie, dan sou die reg tot territoriale selfbeskikking nie vandag in die grondwet gestaan het nie. Orania sou dus onwettig wees en in 1996 (toe hy nog op sy swakste was) waarskynlik ‘n onoorkombare regsaanslag in die gesig gestaar het en saam met die kommandostelsel verdwyn het.

      Verder het die VF vroeer vanjaar daadwerklik ingetree om Kleinfontein se saak te beredder toe Tswane se burgemeester op die oorlogspad was. Die VF het dit ook reggekry om ons reg tot selfbeskikking te internasionaliseer deur UNPO aan boord te kry. Sover ek verstaan gaan UNPO eersdaags besoek afle in Suid-Afrika spesifiek om o.a. plaasmoorde en die meriete van Afrikaner selfbeskikking te ondersoek. Dit is sowaar ‘n reuse sprong in die regte rigting!

      Ek kan aangaan en aangaan om jou vraag te beantwoord… “wat help dit om vir die VF te stem?” As hulle soveel gedoen kan kry met slegs 4 Afrikaners in die parlement, dink net wat hulle kan doen as ons daai syfer verdubbel! Komaan, ons hoef mos nie soos ‘n spul volstruise met ons koppe in die sand te staan terwyl ons die volkstaat bou nie! Dis ons mense daai en hulle doen baie vir ons – so kom ons help hulle deur een keer in 5 jaar ‘n kruisie langs hulle te trek sodat hulle met hul werk kan voortgaan.

      1. Mike

        Quintin ek wil met jou verskil hier ek haal aan “Orania sou dus onwettig wees en in 1996 (toe hy nog op sy swakste was) waarskynlik ‘n onoorkombare regsaanslag in die gesig gestaar het en saam met die kommandostelsel verdwyn het”.
        “Verder het die VF vroeer vanjaar daadwerklik ingetree om Kleinfontein se saak te beredder toe Tswane se burgemeester op die oorlogspad was”

        Orania en kleinfontein is privaat grond dit is nie toeganklik vir die publiek sonder die toestemming van die eienaars nie, maw vanuit ‘n regsoogpunt kan die regering niks aan hulle doen nie.

      2. Mike, privaat grondbesit is een ding, territoriale selfbeskikking is geheel en al iets anders. Sonder artikel 235 sou Orania en Kleinfontein nie kon aanvoer dat beide territoriale enititeite is waarin die Afrikaner taal- en kultuurgemeenskap hul grondwetlike reg op selfbeskikking uitvoer nie.

        Het jy al gehoor van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur wat vroeer vanjaar aanvaar is? Hierdie wet is juis daargestel om die land se demografiese samestelling binne alle woongebiede, privaat ontwikkelings in kluis, toenemend te weerspieel. Orania en Kleinfontein sou vandag geen voet gehad het om op te staan om nie-Afrikaners uit te hou indien daar nie voorsiening gemaak was vir territoriale selfbeskikking in die grondwet nie.

        Ons kan ons sterre dank dat die VF hierdie deur vir ons oopgemaak het en dit vir ons oophou. Mense wat nie hierdie punt wil insien nie lyk vir my maar baie soos bedorwe ondankbare kinders.

  5. j

    Ag ja wat ek sal maar vir die VF stem
    Ons het mekaar nodig binne en buite die parlemoer en waar ook al.. Soos my pa vir ma gesê het: Jy is lelik maar jys MYNE!! met baie liefde..

  6. Ek ondersteun Quintin. Ek en my familie stem VF+ maar ons verwag so bietjie meer. Hoekom is daar niks van die UNPO besoek op die VF+ se webblad nie-of wag hulle vir Beeld om dit te publiseer? Of die DA om kapsie te maak? Die nuus op die VF+ se tuisblad is tans die volgende: Daar gaan opnuut gesoek word na fossiele by wieg van die mensdom (WOW) Dis nou om die ewolusie teorie te staaf-baie belangrig-veral vir VF+-dan is daar ook ‘n voorbladberig oor diere wat verwar word deur mense se kleredrag in ‘n BRITSE DIERETUIN-Wie is hierdie mense? Lees hulle ooit Vry Afrikaner-en gaan iemand hulle vra?

  7. Nou is ek sommer moerig. As ‘n leier nie ‘n ogie kan hou op sy EIE webtuiste nie hoe gaan hy enigiets anders regkry? Watse stupid splitscreen ontwerp gebruik hulle ook nog? Daar is ook nie ‘n soekblok nie. Wie word betaal om sulke swak ontwerp te doen? Of mag mens nie vra nie?

    1. Mike

      Andre ek stem saam met jou hierop. Die vraag op so baie afrikaner kiesers se lippe is waar is Pieter Mulder hoekom sien ons hom nooit hoekom hoor ons nooit iets van hom nie en dit is geldige vrae.

  8. Mike

    As ek die situasie reg lees dan is ek feitlik seker daarvan dat daar binnekort ‘n nuwe afrikaner politieke party sy verskyning gaan maak. Soos dit blyk wil hierdie party meer fokus op afrikaner selfbeskikking wat volgens hulle nie meer die VF se hoof doelwit is nie.

    1. Mike, dis pure onsin om nog ‘n Afrikaner party te gaan stig. Dis absoluut vals dat Afrikaner selfbeskikking nie meer die VF se hoofdoelwit is nie. Hulle is egter in ‘n situasie waarin hulle honderde ander kwessies ook moet aanpak. Dis die reels van die speletjie. Jy dink sekerlik nie dat mens parlement toe gaan en die heeldag, aldag daar kan gaan sit en praat oor Afrikaner selfbeskikking nie.

      Dis naief verby om te dink dat alle Afrikaners wat moontlik vir jou gaan stem net selfbeskikking wil bevorder. Die man wat oorweeg om vir jou te stem se kind is dalk nog in ‘n Afrikaanse skool (wat volgens hom Afrikaans moet bly), hy ry dalk daagliks op die N1 tussen Pretoria en Johannesburg en wil nie e-tol betaal nie, sy broer sit dalk nog in Londen en wil stem, sy pa boer dalk nog en moet beskerm word (fisies, finansieel, en beleidsgewys) ens. ens.

  9. Federale Vryheidsparty? FVP. Federalisme is elke provinsie vir homself en die staat neem oorhoofs verantwoordelikheid vir Verdediging, Onderwys, ens. Kan nie in Suid Afrika werk nie. Al die provinsies is nie gelyk nie-Gauteng se belastinggeld oorheers die staatskas en dit ontwikkel ander provinsies. Noordwes en Noord Kaap is nie lewensvatbaar nie maar kan nie afgesny word nie want Suid-Afrikaners woon daar. Reeds verwerp deur die beste breinkrag in SA in 1910. Sterkte. Hoekom nie ‘n Volkstaat Party stig nie. Noem die ding by sy naam-of is dit so ongewild dat die idee ‘n skuilnaam moet kry?

    1. Andre, om die meerderheid Afrikaners agter een party te kry gaan beteken dat mens elke kwessie moet aanspreek wat vir Afrikaners belangrik is. Vat nou maar die volgende 5 kwessies en rangskik dit in volgorde (van minder tot meer belangrik) sover dit die hoofstroom Afrikaner aanbetref: kwotas in sport, rastellende aksie, volkstaat, misdaad en plaasmoorde.

      ‘n Party wat homself posisioneer om die meerderheid Afrikanerstem te kry kan eenvoudig nie net fokus op die volkstaat nie, maar kan wel ander kwessies gebruik om die argument vir die volkstaat te bevorder. Ek sou graag wou sien dat die VF meer doen in hierdie verband, maar dit sou politieke selfmoord wees om net op een kwessie te fokus en te verwag dat die volk dan agter jou gaan staan.

      Ongeveer 30 000 Afrikaners het aan die VVK verkiesing deelgeneem. Daardie verkiesing het gewentel om slegs een kwessie en dis vryheid. 30 000 is nie genoeg om eens ‘n enkelle setel in die parlement te kry nie. As 500 000 Afrikaners aan die VVK verkiesing deelgeneem het dan sou dit ‘n hele ander saak gewees het, nie waar nie? Dan sou mens die argument kon maak dat die volk hoofsaaklik in een ding belangstel en dis ‘n volkstaat. Ons is nog baie ver van daai punt af.

      1. Weet jy wie is die meeste verbaas oor daai 30,000 stemme? Daai 30,000. Wanneer hou hulle die volgende een? Wed jou dis dan 60,000. Maar dan moet dit sommer volgende maand wees-en die maand daarna-en die maand daarna-dan vat elke ou net een ekstra ou saam. Maar ek wed jou hulle sit in sak en as oor hulle NET 30,000 gekry het.

      2. Dit het ongeveer R 5 000 000 gekos om die VVK verkiesing te hou. Daar was skaars genoeg geld om een te hou, wat nog van een ‘n maand!?!

        Daarteenoor kos dit die VF Plus, soos enige party, ‘n deposito van R 620 000 by die OVK om deel te neem aan ‘n nasionale verkiesing. Jou stem vir die VF word gesien as ‘n stem vir sy missie, d.w.s. selfbeskikking. Jy gee hom ‘n mandaat om jou in parlement te verteenwoordig en namens jou selfbeskikking te bevorder op die politieke terrein.

        Dit is vir my duidelik dat mens baie meer gedoen kry vir selfbeskikking, en met baie minder geld, om elke 5 jaar deel te neem aan die nasionale verkiesing as om jou eie verkiesings te hou…

        ‘n Nuwe party gaan minimum R 3 000 000 moet begroot vir plakkate en hul verkiesingveldtog. Onthou hoe min plakkate COPE in 2009 gehad het? Lekota-hulle moes elke plakkaat uit hul eie sake betaal. Goed, hulle het beslis seker gemaak dat hulle elke sent dubbel en dwars terugkry omdat hulle meer as 1 300 000 stemme op hulself getrek het.

        Ek wonder net of die Afrikaners wat so vinnig is om nuwe partye te wil stig besef dat hulle heel moontlik nie een setel gaan kry nie, hul deposito gaan verloor en vir jare en jare lank gaan afbetaal aan skuld… maar nou ja, spyt kom altyd te laat!

  10. Vragie: Hoe betrokke is Dr Mulder op Orania?
    Stelling: Goeie nuus-Orania maak ‘n streekkantoor in Pretoria oop!
    Opinie: Ek praat liewers met iemand oor Orania wat vuur en vlam daaroor is as met iemand wat eintlik meer besorg is oor tolgeld.
    Voorstel: Maak vir jou ‘n bankrekening oop by Oranjekas-Vriendelike diens in Afrikaans-elke keer!

    1. Dr. Mulder is baie betrokke by Orania. Hy is een van die oprigterslede van die Vryheidstigting (Orania Beweging) en was vroeer vanjaar by die Burgerraadsitting. Hy is ook ‘n aandeelhouer van VAB en is daadwerklik betrokke by Orania se ekonomie. Daaroor is daar geen twyfel nie.

      Kyk, dr. Mulder sal self vir jou se dat ek nie een van sy grootste bewonderaars is nie. Ons kom goed oor die weg en als, maar ek maak geen geheim daarvan dat ek voel dat hy deur die jare te veel aandag skenk aan reaksionere politiek en te min aan selfbeskikking. Hy is wel ‘n politikus by uitstek en as een van sy kritici (dws ek) vir jou se dat hy ‘n ware volksman is, dan moet jy maar weet dat ek nie so ‘n stelling sou maak as ek hom nie goed genoeg geken het nie. Ja, ek is nie ‘n “Mulder-man” nie, maar vet weet, hy is darem pakke pakke beter as elke joiner wat uit die NP en KP oorgestap het DP/DA toe.

      Mens stem immers nie vir Pieter Mulder nie, mens stem vir die beleid en beginsels van die party wat hy lei. Leiers kom en gaan, maar die party bly egter die kern waarvan elke persoon wat vir hom stem ook deel is.

  11. Frik Lotz

    Stem vir die VF Plus en maak die party sterker. Daar is baie kwessies wat aangespreek moet word en selfbeskikking is maar een daarvan. Mens kan nie net op selfbeskikking konsentreer nie,want daar is baie dinge wat Afrikaners daagliks raak.Dis ook belangrik dat daar na minderheidsregte gekyk word in sy geheel en ander groepe moet ook inspirasie kry vd VF Plus om op te staan vir hul regte. Daar moet druk op die ANC gesit word op alle fronte en met alle kwessies moet hul gekonfronteer word. Netso moet daar aksies binne en buite-parlementêr plaasvind. Die VF Plus is die deel wat dit binne die politieke stelsel moet doen en om effektief te wees moet hul versterk word. Dit moet gedoen word deur vir die VF Plus te stem. Dis mos duidelik dat minderhede n beter toekoms verdie en nie die ANC of DA kan dit bied. So,sorg dat jy gaan stem en maak die regte keuse.

  12. Dirk Hall

    Ek kan nie stem vir enige (Afrikaner)-party nie! Daar is geen party wat ‘n daadwerklike oplossing het nie! Nie een wat ‘n werkende model het n ie sou daar ooit in geslaag kon word om selfbeskikking te bereik. Almal hou die selfde ou akademiese modele voor as syne dit waarop so ‘n onafhanklike staat bedryf sou word. Westerse vrymark. Ga Dan bly ek waar ek is. Dit is tyd dat ondersoek moet word waarom die Afrikaner nie ernstig is om selfbeskikking na te streef nie. Die antwoord is te vind in die gebrek aan ‘n aanvaarbare politieke, ekonomiese en sosiale bestel. Sit iets op die tafel wat aantreklik is. Enige bestaande stelsel sal niks doen om my posisie te verbeter nie. Die gevaar van enige bestaande stelsel is of fasisme of kommunisme. ‘n Volkstaat sal net kan slaag as daar ‘n alternatief is. Alternatief in die politie, die ekonomie en die sosiale welstand van so ‘n staat. In die huidige stelsels wereldwyd en ook plaaslik is daar geen vrees meer vir die burgers nie. Maak dit dus regtig saak wie die onderdrukker is? Ek dink nie dat daar veel weerstand sal wees nie sou daar ‘n werkbare alternatief op die tafel geplaas kon word. Dit sal egter ‘n radikale verandering in AANVANKLIKE eiendoms- en ekonomiese stelsel moet wees!

  13. Jan

    Kom nou Dirk met jou gedagtes van ekonomie en eiendom?

    Want voor ons oge gebeur presies dit. Milton Friedman se postulaat van ‘n vryemark is erg teoreties / akademies. Daar is ‘n spektrum van moontlike ekonomiese modelle tussen suiwer Marxisme en Miton Friedman se ‘Capitalism and Freedom’ … Dr Verwoerd se Prof Sadie het die wonderlike goud standaard [ekonomiese sweet spot] getref met beheerde markte saam met veelvolkige demokrasiese vryhede. Dis iets tussen Marx en Milton.. Duitse Nasionaal sosiialisme saam met kapitalistiese eiendomsreg is ook ‘n wonderlike kragtige ekonomiese model.
    Nou ontwikkel megaboerderye in die plek van mega -myndorpe. Megaboerderye met aandeelhouers of eienaars of die beste – aandele blokke met ‘n moedermaatskappy met eerste opsiehouer teen die markwaarde. So kapitaalgroei word gewaarborg deur die houermpy. Baie soos Aftree-oorde.

    Die grensdrade van plase word geknip en arbeid ge-outomatiseer soos GPS trekker ‘autopilots.’

    Maar geen vreemde arbeid is die toekomstige reddingsbeginsel. Vryheid wat ons sal herwin soos wat ons dit verloor het.

    Die beginsel van self werksaamheid is alles omvattend en sluit alles in veral ook oa
    Politiek – want geen binnelandse of vreemde sal jou politities red nie
    Regspleging sal ons self moet doen want ons is bevry van slawerny van voogdyskap oor swartes.

    1. Jan

      En daar vergeet ek om die kernbeginsel te noem naamlik dat ‘n politieke model by ‘n bypassende ekonomiese model moet pas. want politieke vryheid en ekonomiese vryheid is die twee kante van dieselfde munt – interafhanklik.. Ons heil lê beslis meer by ‘n beheerde mark van sosialisme.soos wat Dr Verwoerd se administrasie so voortreflik bewys het.

  14. Dirk Hall

    Ek dink ek word bietjie verkeerd verstaan. Laat ek myself as volg uitdruk. Dit is ons almal se strewe om weer selfregerend te wees. Daar is egter nie ‘n model in eenvoudige taal wat dit vir die nie akademiese burger verstaanbaar maak nie.

    Daar moet iets op die tafel kom wat minder akademies is en die plan op ‘n verstaanbare wyse uitspel dat die leek dit ook verstaan.

    Dit sluit die volgende in –

    Hoe kry ek plek in so ‘n “staat”?
    Hoe raak dit my huidige en toekomstige finansiele posisie?
    Hoekom moet ek uit my huidige skuif na so ‘n staat toe? Wat is die wortel – behalwe selfbeskikking. Wat maak dit vir my die moeite werd om na so gebied te skuif?

    Hier word gedink aan stelsels soos – vergeed selfbeskikking as sulks –

    politiek
    finansies
    sosiale waarborge – huidige geslagte en nageslagte
    omgewings waarborge

    Landbou met presisieboerdery beperk die nodigheid van hande arbeid. Wie is die eienaar van die GPS trekker? Wat se arbeid is daar na alles in landbougrond omskep is en alle trekkers is op GPS? Wie koop met wat? Wat is daar behalwe boerdery?

    In watter mate kan so ‘n gebied bevolkingsaanwas hanteer?

    Jan ek moet jou die erkening gee. Jy dink amper reg. Sou dit nie bedoel was om sarkastie te wees nie.

    Wat kort is ‘n plan met ‘n tydlyn. Nie nodig vir ‘n vaste datum nie, Daar moet iets wees voortspruiten uit al die gesprekke. Iets om aan mede burgers te gaan verkoop sodat hulle kan inkoop. Nie almal lees die web nie. Nie almal woon vergaderings by nie. Daar moet meer wees sodat voetslodate dit kan verkondig.

    Dit kry ek nie op al die webwerwe wat ek al ooit gelees het nie. Ja die internasionale reg en die vervloekte grondwet word aangehaal as sou daar ‘n kans is vir onafhanklikheid. Dit is egter steeds debateerbaar! Alles wel. Ek moet ‘n burger wat reeds skepties is oortuig van ‘n beter bestaan.

  15. Dirk-Jy is reg-maar Sosialisme is vir die Afrikaner ‘n vloekwoord-klink soos kommunisme. Om nie eers van Nasionaal-Sosialisme te praat nie. Maar dis presies wat ons nodig het. Dis wat Israel beoefen-hulle noem net nie die naam nie. Baie mense het mos gese-Ons moes net van Afsondelike Ontwikkeling gepraat het-en dit nooit Apartheid genoem het nie.

  16. Van Israel gepraat-die ooreenkomste is verbasend-ons gaan ook nou deur ‘n Volksmoord gevolg deur ‘n Diaspora. en dis die Jode in die Diaspora (Europa en die VSA) (Australie) wat dit moontlik maak vir Israel om te oorleef. Trek of nie trek nie-jou lotsgebondenheid is by jou Volk-anders is jy niks. Laat dit ons wekroep wees:

    “As jy rykdom liewer het as vryheid en die gerustheid van onderdaanskap liewer het as die besielende stryd om vryheid, keer dan huiswaarts en laat ons in vrede. Ons soek nie jou raad of jou hulp nie. Buk omlaag en lek die hand wat jou voer. Mag die nageslag vergeet dat jy ooit ons volksgenoot was.”

    Dit is die weg van eer:
    Om, net soos eertyds, trou te wees aan vaarlandsbloed, aan vaarlandsgees,
    aan vryheids-ideaal!
    Geen woord verpand is bindend woord as oormagsdwang en onskuldsmoord die woord vir ons bepaal. (JFE Celliers)

  17. Gemsbok

    Die VF+ se grootste uitdaging is sy gebrek aan organisasie.

    Om kompeterend in verkiesings te wees is daar ‘n aktiewe tak in die omgewing van elke kiespunt (of kiespunte waar Afrikaners stem) nodig. Taklede moet kiesers aanry om te registreer, hulle drempels deurtrap om die party se strategie aan hulle te verduidelik, hulle aanry om te gaan stem en die wat self aankom met koffie, tee, koekies en geselskap by die stempunte ontvang.

    Sien, kiesers moet oortuig word dat die leierskap van ‘n party hul eie party kan lei en inspireer, voordat hulle vir die party sal stem.

    Die DA se suksies was nie sy “slaan terug” slagspreuk nie, maar die organisasie wat hy van die stomme NP-leierskap kon afrokkel.

    Die VF+ se grootste struikelblok is sy leierskap wat reken dat hy verder met ‘n mediabeleid kan kom as met takke.

    Die VF+ het ‘n geskiedenis dat hy sy lede wat die hardste werk om takke te stig en organisasie te bou, vervreem en verjaag. Dit sluit voormalige lede en ampsdraers soos Kallie Kriel, Cornelius Janse van Rensburg, Willie Spies, Pieter van der Westhuizen en talle ander in wat hul vermoens bewys het deur van ander organisasies suksesse te maak.

    Indien die VF+ nie met die volgende verkiesing daarin kan slaag om uit die DA se onlangse rasseflater munt te slaan nie, sal sy ondersteuners ernstige vrae aan sy leierskap moet vra, want anders sal hulle ten beste irrelevant word, en ten slegste ‘n verleentheid vir die beeld van Afrikanervryeid.

  18. ANC krete teen die destydse tuislandbeleid was o.a. “Julle wil ons verdeel om ons te verswak en te oorheers!” Dit is ‘n sosialistiese kreet, hulle wat d.m.v politieke mag, alles wil maak werk. Dit is die kreet van die wat selfhelp vermy en ‘n gratis etekaartjie soek! As dit vir hulle ‘n straf was dan kan hulle ons gerus ook so straf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s