Grondhervorming kan ons bevoordeel

Terwyl sekere politici van grondbesit ’n speelbal maak, probeer georganiseerde landbou om dit uit die politiek hou.

Grondbesit word met voedselsekerheid en grondwetlike waarborge oor privaat eiendom verbind, om ’n herhaling van Zimbabwe te voorkom. As die magsverlies van 1994 ontleed word, is dit nie so duidelik dat hierdie die regte benadering is nie.

Voor 1994 het Afrikaners Suid-Afrika oorheers. Dat dit nie volgehou kon word nie, was vir eerlike waarnemers duidelik. Waarmee dit vervang moes word, glad nie. Min Afrikaners kon hulle voorstel dat magsoordrag na die swart meerderheid voordelig kon wees. Die maniere waarop gepoog is om dit te voorkom, sou egter nie die toets van die tyd deurstaan nie.

Onder mnr. PW Botha is swart politieke strewes met geweld onderdruk, terwyl sosio-ekonomiese belegging en hervorming die druk moes verlig. Die regse opposisie het die proses gewantrou, maar kon nie ’n lewensvatbare alternatief voorstel nie.

Mnr. FW de Klerk het na die onderhandelingstafel gegaan, vas onder die indruk van sy vermoë om ’n bevredigende bedeling te beding. Een waarin mag gedeel – en nie bloot oorgedra nie – sou word.

Voorstelle vir ’n drasties verkleinde grondgebied waar Afrikaners seggenskap in enige demokratiese bedeling kon handhaaf, het min geesdrif gewek. Afrikaners kon nie insien dat gevestigde belange aan ’n swart owerheid oorgelewer kon word nie. Boonop was (is) ’n kultuur van swart arbeid so goed gevestig, dat min Afrikaners kans gesien het om daarvan af te sien.

Omdat Afrikaners nie bereid was om belangrike dele van die land aan swart oorheersing oor te gee nie, is die hele land verloor.

Vir baie het troos in die ekonomie gelê. Die mark was vryer as tevore en goeie opleiding het Afrikaners in staat gestel om geleenthede te benut. As die ekonomie in private besit kan bly soos dit is, is welvarende Afrikaners bereid om kulturele uitlewing en welsyn deur burgerlike organisasies te privatiseer. Dit is waarom hulle grondbesit uit die politiek wil hou.

Die probleem is dat ’n omwenteling in grondbesit so onkeerbaar is, as ’n omwenteling in politieke mag twee dekades tevore. Grondbesit is in sy wese ’n politieke saak. Wie grond besit, besit op ’n baie konkrete manier die land.

Daar is ernstige meningsverskil oor die persentasie grond in swart en wit hande en die regering neig om verdagte somme te maak. Tog besit Afrikaners ongetwyfeld ’n groot deel van die land se produktiewe grond. Met ’n regering wat moeilik sy beloftes nakom,  sal dit al meer ’n teiken word.

Om transformasie van grondbesit gelate te aanvaar, sal rampspoedig wees. Om dit teen te staan, sal nie anders wees nie. Deur vernuftig te onderhandel, kan ons steeds oral in Suid-Afrika boer, maar selfstandigheid in ’n deel daarvan verwerf.

As beperkings op Afrikaners in een deel van die land opgehef word (soos in die Moosa-verklaring in vooruitsig gestel) kan die res van die land soos enige ander Afrika-land benader word: ’n Plek met baie geleenthede, maar sekere beperkings.

Verbind dit aan wetgewing oor Spesiale Ekonomiese Sones en skielik is grondhervorming nie meer ’n bedreiging nie, maar ’n opwindende geleentheid.

11 gedagtes oor “Grondhervorming kan ons bevoordeel

  1. Dit maak baie meer sin as die roete wat georganiseerde landbou sedert 1994 gevolg het. Aan die eenkant verset die TLU hulself teen die regering en aan die ander kant probeer AgriSA ens. strategies onderhandel om binne die huidige bedeling ‘n soort status quo te bewerkstellig. Beide is reaksioner en gaan ons nerens kry nie.

    Meer spesifiek, nie een van die twee benaderings skyn lig op die werklike oplossing nie: konsolideer mag in ‘n gebied waar Afrikaners ‘n realistiese kans het om ‘n meerderheid te word en ons grondwetlike reg tot territoriale selfbeskikking uit te voer.

    Die nuwe wetgewing m.b.t. Spesiale Ekonomiese Sones bied vir ons ‘n geleentheid om buite die spelreels van swart ekonomiese bemagtiging hierdie oplossing te konkretiseer en ons werkswyse, soos op Orania vergestalt, uit te brei na nuwe areas binne die aangewese volkstaatgebied.

    Die groot vraag is egter hoe om georganiseerde landbou op dieselfde bladsy te kry!

      1. Wynand Boshoff

        Spesiale Ekonomiese Sones is in die 2013-begroting deur die minister van finansies aangekondig. Die wetgewing is intussen voorberei en word op die oomblik gefinaliseer, na ’n tydperk van openbare voorleggings.

        Die idee is dat daar dele van die land is met ontwikkelingspotensiaal, wat om welke rede ook al, nie verwesenlik word nie. Indien daar ’n vennootskap tussen privaat sektor en plaaslike owerheid, met ’n werkbare ekonomiese plan, ingedien word, kan die minister van handel en nywerheid dit as Spesiale Ekonomiese Sone verklaar. Die gebied word dan van sekere bepalings rakende SEB vrygestel en kry ook belastingtoegewings. Die registrasie moet periodiek hernu word en sal afhang van die mate waartoe die plan verwesenlik.

        Die wet is nie vir ons geskryf nie, maar ons kan dit aanwend.

  2. Wat is die gevoel van grondeienaars in die voorgetelde Noord-Wes korridor wat as volkstaat gebied geidentifiseer is?

    Daar was mos onlangs ‘n beraad waarop daar ‘n tipe van federasie van grondeienaars in en om Orania asook insluitend ander boere en grondeienaars in die lewe geroep is.

    Kan hierdie voertuig nie uitgebou word en daar aan Afrikaners wat dan in die volkstaatgebied wil vestig/belê inligting beskikbaar gestel word van wie om te kontak om samewerking as daar nie net op Orania gefokus wil/kan word nie?

    Sou graag meer wou weet rondom dit.

    1. Quintin Diederichs

      Ja, ‘n paar boere van Fraserburg hou van die ideaal wat ons in Orania nastreef en het selfs aangesluit by Vry Afrikaner. Die gedagte is juis om ‘n forum te skep wat ‘n netwerk van volkstaat-gesinde Afrikaners in die Noord-Wes Korridor bymekaarbring.

      Carel Boshoff het aan my genoem dat die Federale Forum vanuit hierdie gedagte ontstaan het. Hoe ver dit al gevorder het weet ek nie. Sal weer bietjie met hom gesels hieroor.

      My persoonlike mening is dat die oorgrote meerderheid van die Afrikaners wat grond besit in die aangewese volkstaatgebied nie eens bewus is dat ons ‘n volkstaat hier wil vestig nie. Daar word heeltemal te min gedoen om hulle in te lig en aan boord te kry. Ek wys nie vingers na enigiemand toe nie – daar is eenvoudig nog te min hande om volkstaters hiermee te help!

  3. Jan

    Ek sien die markkragte veroorsaak die vorming van megaboerderye:
    Markkragte soos misdaad migrasie het tot gevolg oorgrensparke en natuurbewaringsgebiede rondom nywerhede. Grensdrade word geknip en klein subekonomiese plase gekonsolideer in groot ekonomiese eenhede.
    Meganisasie dwing konsolidasie van plase af.

    Wat met die meenthuiskomplekse gebeur gebeur ook nou met die landbou.

    Orania bied ‘n skitterende oplossing tov eiendomsreg en teen vervreemding. Naamlik ‘n aandeleblokskema waar die houermaatskappy eerste opsie het om te koop teen die markwaarde. Maw die waarde van kapitaalgroei / ontwikkeling word gewaarborg en eienaarskap word bestuur.

    Die regering bestuur maar net hierdie wetenskaplike tendens en behoort erkenning te kry daarvoor.

    Orania en Kleinfontein se posisie word versterk in die proses.

    1. Jan, jy maak ‘n paar goeie punte. Net een vragie vir jou rakende:

      “Die regering bestuur maar net hierdie wetenskaplike tendens en behoort erkenning te kry daarvoor.”

      Verwys jy na Orania se regering of Suid-Afrika se regering? Indien die laasgenoemde kan ek nie lekker kloutjie by die oor kry nie…

      1. Jan

        Quinten ek probeer aansluit / uitbrei by Wynand se argument dat die landbou evolusie sal plaasvind met of sonder die Sentrale regering se wysheid onder dwang van die markkragte. Die beste wat hulle kan doen is om na hul raadgewers soos Wynand [!} te luister en die tendense te bestuur. Hulle weet baie goed dat dit ook die tuislande en stamgebiede en trustgebiede insluit onge-ag rasloos en kleurloos.

        Voor alles moet mense kan eet dan klere dan kommunikasie voordat hulle karre kan koop.

        Hier moet TLU en ander blanke belangegroepe baie mooi wetenskap en ideologie/ sentiment onderskei.

        Wat is oorhoofse kostes en wat is profyt?

        En die Spesiale Ekonomiese Zones is al klaar uitstekende suksesse in die vorm van oorgrens parke. Selfs die Grens van die Ooskaap tussen die see en Suurberge is ‘n skitterende oplossing vir eeue se grenskonflikte en misdadige migrasies.

        As Orania net nog ‘n omringende natuurbewaringsgebied kan bykry … dan is ons voor in die koor van streeksontwikkeling en selfbeskikking.

        Of hoe?

      2. Inderdaad!! Dankie vir jou verduideliking – dit maak baie sin.

        Afrikaners kan beslis deksels goed boer. Vraag is of ons boere sonder goedkoop swart arbeid sal kan boer. Die antwoord hierop sal nee bly vir solank as wat daar nie ‘n groot hoeveelheid opgeleide, hardwerkende en eerlike Afrikaners is wat in diens geneem kan word op hoogs gemeganiseerde plase nie.

        Dit is skokkend om te hoor hoeveel boere al probeer het om Afrikaners in diens te neem, maar dan eindig dit in ‘n gemors a.g.v. die werkers se laksheid, onbetroubaarheid, oneerlikheid, gebrek aan respek ens.

        Die jong Afrikaners wat wel ‘n aanwins vir ons boere kan wees, werk vir vet salarisse op plase in Amerika en Australie.

        Dit is regtig ‘n onderstebo deurmekaarspul!!

    2. Ek weet spesifiek van ‘n paar groeteboere in Alldays waarvan die een broer in Engeland werk en die ander op ‘n Amerikaanse boer se plaas in Kansas werk en meer geld verdien as wat hulle met hul eie boerdery in SA kan genereer.

      Hulle gebruik dan ook die geld om hul SA erfplaas in stand te hou en te verbeter en ‘n bestuurder te bekostig.

  4. SM Biehl

    ‘n Bedreiging wat ons moet aanspreek en verreken is dat ryk boere wat hulle grond in die noorde vand ie alnd verkoop en ter wille vvan veiligheid grond in die Karoo en langs die Oranjerivier opraap, nie hulle arbeidspraktyke verander nie en dus nuwe probleme skep waar hulle reken hulle gaan van die probleme ontsnap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s