Laat ons minder oor selfbeskikking kibbel

Afrikaners wat glo dat selfbeskikking noodsaaklik is, het verskillende idees oor wat dit behels of hoe die pad daarheen loop.

Daar is twee vervlegte lyne waarlangs verdelings loop:

– Interne teenoor eksterne selfbeskikking, oftewel die vraag of kultuurregte binne Suid-Afrika voldoende is en of soewereine onafhanklikheid die mikpunt is.

– Uitoefening van selfbeskikking waar Afrikaners tans woon, of in betreklik onontwikkelde gebied wat met dié doel ontwikkel en bevolk word.

Die probleem is nie verskillende sienings nie, maar dat ooreenkomste deur verskille verdwerg word.

Die Suid-Afrikaanse bedeling maak nie voorsiening vir etniese verskeidenheid nie. Die “amptelike” Suid-Afrika bestaan uit ’n massa Engelssprekende individue. Hulle is toevallig oorwegend swart, maar hulle kulturele identiteit is ’n streng private aangeleentheid en word na-ure bedryf. Die besef dat dié bedeling kultureel noodlottig mag wees, bind ons saam.

Swart etniese groepe het nog ’n mate van erkenning. Die wet op tradisionele owerhede erken sekere etniese aspekte en verskans dit wetlik. Menseregte moet voorkom dat Afrikaners (soos ander Suid-Afrikaners) individueel veronreg word, maar daar is geen wetgewing wat gesamentlike optrede bemiddel nie. Daar is wel ’n uitdaging: Skep ’n werklikheid en vra dán erkenning. Die strewe word grondwetlik erken, maar die resultaat hang van onsself af.

Afrikaners het dus geen vorm van selfbeskikking nie. Nie intern nie en ook nie ekstern nie. Dit beteken dat enige seggenskap wat beding word, ’n deurbraak sal wees. Vir een Afrikaner sal formele gesag oor byvoorbeeld onderwys of veiligheid genoeg wees, of munisipale status vir Orania of Kleinfontein, terwyl ’n ander nie sal rus voor daar ’n Afrikanerrepubliek is nie. Tog sal die pad na ’n Afrikanerrepubliek by talle mylpale verbyloop.

Republikeine kan nie bekostig om die mylpale te minag nie en ander hoef nie deur die republikeinse strewe bedreig te voel nie. As daar oor elke gestalte van selfbeskikking gejuig kan word, hoef diegene wat met verskillende gestaltes tevrede is, mekaar nie te verwyt nie.

Waardering vir elke gestalte van selfbeskikking beteken nie dat onrealistiese verwagtings skielik gekoester kan word nie. Afrikaners behoort, waar hulle ook al in Suid-Afrika woon, sekere kultuurregte te hê, soos seggenskap oor onderwys, deernisgevalle (welsyn) en veiligheid. Waar Afrikaners ’n nietige minderheid is en die moontlikheid om dit te verander nie bestaan nie, is republikeinse vryheid uitgesluit. Nou en in die toekoms.

Om vryheid te herwin, sal wesenlike opofferings verg. Nie alle Afrikaners hoef daaraan deel te neem nie, maar daar is ’n kans dat alle Afrikaners daardeur bevoordeel sal word. Ander kultuurregte behoort verwerf te word, omdat dit ’n beste praktyk vir multiëtniese state is. Alle Afrikaners sal daarby baat, ook die wat republikeinse vryheid aktief nastreef.

Die Vryheidsfront Plus hoef nie op verskillende pilare te bou nie, maar op die enkele basis van selfbeskikking.

9 gedagtes oor “Laat ons minder oor selfbeskikking kibbel

  1. “Daar is wel ’n uitdaging: Skep ’n werklikheid en vra dán erkenning. Die strewe word grondwetlik erken, maar die resultaat hang van onsself af.” Hoor hoor!

    Dit is vir my die enigste regverdigbare manier! Dit is ook die enigste manier waarop ons trots sal kan wees! Dit is ook die enigste manier waarmee ons ons bestaansreg kan bewys.

    Om op pasellas staat te maak is om die rol van bedelaar te aanvaar! Die feit dat Orania bestaan bewys dat ons dit nie op vreemdes se pasellas staatmaak nie!

  2. Barend van der Merwe

    Die Vryheidsfront plus bou op die Nkandla pilaar waar daardie party se leier dien in die Nkandla kabinet as adjunkministertjie van Landbou, Bosversier en Speserye

    1. Wynand Boshoff

      Barend, die argumente vir of teen dr. Mulder se aanstelling is goed bekend. Wat my pla is die neerhalende aard van jou aanmerking. Ek het twee jaar gelede aktief by die VF+ betrokke geraak. Goeie, jarelange vriende het soortgelyke uitsprake gemaak en bygevoeg dat alles in die VF+ net oor mense en hulle posisies gaan, dat gewone lede min van ’n sê het en dat jy moet konkel as jy iets wil regkry.

      Na 9 vergaderings van die Federale Raad kan ek konstateer dat dit twak is. Gesprekke is op ’n hoë vlak, al stem ek nie met almal saam nie en almal nie met my nie. Ek het van die verkeerde kant ingekom (my goeie vriende het net voor my betrokkenheid met ’n groot lawaai die party verlaat en dit aktief begin ondermyn). Ek het my herhaaldelik teen die aanstelling uitgespreek, hoewel ek dit as feit aanvaar en gestel het dat ons die twis agter ons moet laat en met die werklikheid daarvan handel.

      Dalk moet jy ophou om mense na te praat en self ondersoek instel.

  3. Frik Lotz

    Kulturele en territoriale selfbeskikking is nodig.Die een hoef nie bo die ander verkies te word nie. Die VF Plus is die vaandeldraer van minderheidsregte en selfbeskikking. Selfbeskikking vir volke is die enigste oplossing vir Suid Afrika. Ja,dis onnodig dat Barend so neerhalend en minagtend van dr. Mulder en die VF Plus praat. Ek het dieselfde aanmerkings van hom ervaar op die Afrikaanse Opinieplatform. Mens kan mos op n ordentlike manier jou standpunt stel sonder om neerhalend teenoor ander te wees. In elk geval,laat ons met 2014 se verkiesing soos een man uitgaan en vir die VF Plus stem. Dis nog die enigste politieke party wat Afrikaners se belange op die hart dra.

    1. Ouma

      Ek stem saam Fritz Ek sien Dr Mulder as ‘n baie ordentlike en opgevoede persoon. Hy is ook een van die mees ervare parlementslede in SA. Hy is nie ‘n kruiper soos hy uitgekryt word nie, maar vat die ANC m.b.v adv. Alberts aan. Meer as wat hy in die media erkenning kry. Ek sal so graag wil sien dat die bitterheid en verdeeeldheid wat ons saamstaan in ons vryheidstrewe in die wiele ry sal verdwyn. Elkeen is geregtig op sy eie mening en hoe meer ons positief op elkeen se welmenende pogings reageer hoe sterker kan ons staan in die ongunstige omgewing waarin ons moet oorleef

      1. Ek wonder nogal wie sy kritici in sy posisie sou wou sien! ‘n ANC lid met ‘n Afrikaanse van soos Hanekom of du Toit?

        Hy doen goeie werk vir die boere. Wees bly hy is daar, kom ons hou hom daar!

  4. Jan

    Ag natuurlik moet ons die VF+ steun – dis al wat ons het!![ Met gebreke en al.]

    In politiek werk dit so: Die party is net so sterk as wat sy steun is.- nie andersom nie.
    Selfbeskikking en vryheid is basseer op die kernbeginsel van selfwerksaamheid. Niemand sal die selfbeskikking vir ons kom gee nie – nie die buiteland nie en ook nie die regering nie. Ons sal dit self moet doen.

    Die spook wat die afrikaners se gees en siel verteer is natuurlik [en verstaanbaar] die van wantroue paranoia. [wie kan mens vertrou?]

    Laat ons tog kalmeer en weer mekaar se vertroue wen, is my bede.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s