Geloftedag: Orania 2013

Dr. Wynand Boshoff het die feesrede waargeneem by die Geloftefees te Orania, 16 Desember 2013. Honderde mense het vanjaar die Geloftefees op die lowergroen oewer van die Oranjerivier bygewoon. Met sy toestemming publiseer ons graag sy skitterende toespraak hier.

Inleiding

’n Geloftefeestoespraak moet altyd oor die storie van die Gelofte gaan. Maar as dit net die storie van die Gelofte van 9 tot 16 Desember 1838 vertel, is dit onvolledig. Daar is ’n voorafstorie, waarsonder ’n Gelofte en ’n Slag van Bloedrivier nooit sou plaasgevind het nie. Daar is ook ’n agternastorie, waarsonder dit nie sou saak gemaak het nie. Ons moet na al drie stories kyk.

Die voorafstorie

Die Afrikanervolk is nie in 1652 gebore, toe Jan van Riebeeck aan die Kaap voet aan wal gesit het nie. Dit was eers twee jaar later, toe die eerste Vryburgers vrygestel is. Die Vereenighde Oost-Indische Compagnie (VOC) wou geld spaar en het die Kaap se hoofdoel, voedselvoorsiening, aan mikro-sakelui uitgekontrakteer. Die VOC sou hom by sy kernbesigheid, handel en die bestuur van handelskolonies, bepaal. Maar omdat hulle swak pryse betaal het en omdat amptenare in hulle vrye tyd geboer en dan met hulleself handel gedryf het, het al meer vryburgers al verder van die handelspos versprei.

Oor die volgende 150 jaar, het hulle ’n lewenstyl gewoond geraak waarin die regering ’n klein rol gespeel het en waar hulle vir hulle welsyn, veiligheid en geluk eintlik maar self moes sorg. Die groep mense, wie se getalle na 1700 slegs drupsgewys aangevul is, het al meer ’n karakter van hulle eie aangekweek. Teen 1800 het hierdie vryburgers, sommige graan- en wynboere nader aan die Kaap, maar die meeste veeboere in afgeleë gebiede, nie aan hulleself as ’n volk gedink nie. Kom ons noem hulle die proto-Afrikaners.

Toe die Kaap ongeveer hierdie tyd Britse eiendom geword het, is dit met gemengde gevoelens ontvang. Minstens was hier ’n regering wat geïnteresseerd was om te regeer; om doeltreffende administrasie te vestig, wette te maak en dit selfs af te dwing. Dit het bestendigheid gebring. Maar die bestendigheid het teen ’n prys gekom.

Selfstandige, selfs eiesinnige, mense moes ’n regering gehoorsaam wat geensins in hulle menings of gewoontes belang gestel het nie, behalwe as hulle dit wou verander. Boonop het dit in ’n ander taal, met ’n ander geldeenheid, ander meeteenhede en ’n neerbuigende gesindheid gepaard gegaan.

Om ’n wye verskeidenheid van redes het hulle al minder tuis gevoel en van die owerheid vervreem geraak. Hulle het geweet dat hierdie owerheid nie gaan verdwyn nie en begin dink aan die een oplossing wat tot dusver die meeste van hulle probleme kon oplos: Hulle moes verder trek.

In 1834 is sogenaamde kommissietrekke in die geheim uitgestuur, om Afrika buite die destydse koloniale grense te verken. Die uitslag was dat die hoëveld noord van die Garieprivier, nog verder noord na die latere Limpoporivier se kant toe, groot belofte getoon het.

Noord van Xhosa-gebied, aan die ooskus van Afrika, was nog ’n aantrekliker gebied. Die Portugese het dit reeds Natalia gedoop, omdat hulle die land op Kersdag die eerste maal gesien het. Noordwes van die kolonie, was die berig, was dit te droog. Voorbereidings om te trek, om die limiete oor te steek, is eers op ys gesit toe spanning aan die Oosgrens nogmaals opgelaai het. Na die oorlog in 1836 afgehandel is, het die trek in beweging gekom.

Selfs voor daardie tyd het die geselskappe van Louis Trichardt en Hans van Rensburg vertrek. Hulle het ’n sakeplan gehad. Dit was bekend dat ’n industrialiserende Europa al meer leer en ivoor benodig het. Hulle sou jag en hierdie kommoditeite aan Portugese handelaars in Delagoabaai, die huidige Maputo, verkoop.

Die twee geselskappe het kontak gehou, maar weens die Van Rensburg-trek se kwistige gebruik van ammunisie en gestookte vrugtesap, het die Trichardt-trek hulle as ’n veiligheidsrisiko beskou en op ’n armlengte gehou. Saam het hulle die Soutpansberge bereik, maar die Van Rensburgs se voorrade het kritieke vlakke bereik en hulle wou dringend van hulle velle en ivoor ontslae raak. Ammunisie was so skraps dat hulle nie vir die pot kon jag nie en trekvee het min geword.

Sonder dat die Trichardts geweet het, is die Van Rensburgs geheel en al uitgemoor. Die Trichardt-trek wou ook Delagoabaai bereik, maar is op enkeles na aan malaria oorlede.

Teen hierdie tyd het die groter trekgeselskap van Hendrik Potgieter al oos van Bloemfontein by Thaba ‘Nchu saamgetrek. Potgieter het selfs by Trichardt besoek afgelê, voor die noodlottige tog na Delagoabaai. Potgieter was vuur en vlam vir vestiging in hierdie vrugbare gebied, noord van die invloedsgebied wat die Britse Ryk verklaar het. Sy ekonomiese plan was ook op handel met die Portugese gegrond, maar het meer op veeteelt en landbou, en minder op jag staatgemaak.

Op pad terug met die goeie nuus, is hy egter deur Matabele-troepe, wat hierdie landstreek met ’n ysterhand regeer het, ingehaal en aangeval. Die walaer by Vegkop, naby vandag se Heilbron, het doeltreffende beskerming gebied en die aanval kon afgeweer word. Hulle trekvee is gebuit, maar die Barolong van Thaba ‘Nchu het tot hulle redding gekom.

Intussen het die getalle by Thaba ‘Nchu aangegroei. Gerrit Maritz en Hendrik Potgieter was spoedig die sterkste leiers: Maritz as talentvolle administrateur en selfgeleerde regsman en Potgieter as knap militaris. Saam het die twee leiers na die gebied noord van die Vaalrivier getrek en daarin geslaag om die Matabele se mag te breek. Die skrikbewind sou voortaan in die huidige Zimbabwe voortgesit word, maar uit die Trekkers se oogpunt was die probleem opgelos.

Volgens Potgieter is die Trek se bestemming beveilig en bestendigheid kon tot hulle bestaan terugkeer. Maritz het egter geglo Natalia was die bestemming. Terug by Thaba ‘Nchu het getalle steeds aangegroei en die uiters charismatiese Piet Retief het met ’n groot geselskap by hulle aangesluit. Hy is tot “Gouverneur”, met ander woorde, militêre en burgerlike hoof, verkies. Vir Maritz was daar plek in sy regering, maar Potgieter is tot geen amp verkies nie.

Potgieter wou met Trichardt beraadslaag en het versoek dat op sy terugkeer gewag word voor die Trek teen die Drakensberge af versit. Hy kon Trichardt nie kry nie, onbewus dat die geselskap reeds vergaan het en teruggekeer. Daar vind hy dat die Trek reeds Natalia toe vertrek het en sluit skoorvoetend by hulle aan.

Die storie

Geloftefees se storie begin waar die Trekkers Natalia binnetrek. Met die kommissietrek onder Piet Uys is vasgestel dat daar plek beskikbaar was en dat die Zulu-koning bereid sou wees om te onderhandel. Nou is alle onderhandelinge egter deur Piet Retief gelei.

Dingaan het as’t ware vir die kantlyn geskop en as voorwaarde gestel dat Retief vee moes herwin wat ’n Sotho-hoof in die Malutiberge, Sekonjella, van hom gesteel het. Retief het gedink hy bewys goeie trou deur dié ekspedisie spoedig af te handel, maar vir Dingaan het dit onrustig gestem; hyself kon geen hond haar-afmaak teen dié gedugte vyand nie. Retief met sy perdekommando het dit ontstellend maklik laat lyk.

Verder het sy verteenwoordigers, wat Retief vergesel het, vertel dat Retief uiters hardhandig met Sekonjella gewerk het. Op die vraag of hulle Dingaan ook só sou behandel, het Retief bevestigend geantwoord. Hulle sou, as Dingaan nie woord hou nie. Hy het gedink dit was ’n tydige waarskuwing, sonder om die gevaar vir homself in te sien.

Met die terugkeer by Dingaan is die grondtransaksie, die sogenaamde Retief-Dingaan traktaat, onderteken. Dingaan was onrustig oor die mag van perdekommando’s en gewere. Hy het herhaaldelik gevra of Piet Retief die enigste Piet was wat die wit mense gelei het. Retief, kort en donker, het nie besef watter kontak Piet Uys, lank en blond, tevore met Dingaan gehad het nie.

Sy antwoord was dus dat hy die enigste een was. Die Piet wat so van gestalte kon verander, het Dingaan nie gerusgestel nie. Boonop het sy halfbroer en voorganger, Shaka, toe hy deur Dingaan vermoor is, gewaarsku dat wit mense die land van hom sou verower. Die gevolg was dat hy ’n fyn hinderlaag uitgewerk het. Retief en sy manne moes hulle perde en gewere buite die kraal laat en binnekom om die transaksie saam met die Zulu’s te vier. Hulle sou bier drink en krygsdanse bewonder.

Met die opdrag: “Maak dood die towenaars” het Dingaan se soldate Retief en sy manne wreed vermoor.

Dingaan was nie klaar nie. Die Trekkers se walaers moes aangeval en uitgemoor word. Geïsoleerde groepies, wat sommer al plase begin uitkies het, is eerste uitgewis. Enkeles het weggekom en die hooflaer gewaarsku voor die aanval hulle getref het. Die verdediging was suksesvol, maar het net tydelike verligting gebring. 1838 het vir die Trekkers noodlottig begin, maar die ergste het voorgelê.

Die Trekkers, wat besef het dat Retief waarskynlik dood was, het vir ’n magstryd voorberei. Piet Uys en Hendrik Potgieter sou ’n strafkommando lei, maar hulle kon nie ooreenkom wie sou eerste in bevel wees nie. Elkeen sou dus maar sy eie manne lei. Dit sou ’n perdekommando wees en hulle sou die Zulu-hoofstad aanval. Maritz sou die burgerlike regering in die laer behartig.

Die strafkommando het by Italeni in ’n hinderlaag van die Zulu’s beland. Die twee leiers kon nie ooreenkom hoe om die situasie te hanteer nie. Gevolglik het elke leier dit met sy manne na goeddunke hanteer. Uys-hulle het aangeval, terwyl Potgieter-hulle ’n veilige afstand gehou het. Uiteindelik kon Uys se manne ternouernood ontvlug, hoewel Piet en sy seun Dirkie, gesneuwel het. Was die mislukking die skuld van Uys se oorywerigheid, of van Potgieter se belangeloosheid? Die kommando het gou as Vlugkommando bekend geword. Potgieter het sy laaste bietjie geesdrif vir Natalia verloor en terug Transvaal toe getrek, waar hy uit die staanspoor wou vestig.

Maritz het met ywer aan die werk gespring, omdat hy seker was Dingaan sou hulle verknorsing aangryp. Hy het uit al die ervaring tot op datum besluit dat ’n perdekommando in dié ruie wêreld nie ’n voordeel was nie. ’n Suksesvolle strafkommando sou met waens moes uittrek, wat ’n bewegende fort sou wees.

Die Zulu’s het met steekassegaaie aangeval, wat beteken dat ’n fisiese hindernis die deurslag kon gee. Elke nag sou laer getrek word, maar die openinge tussen waens moes vinnig en doeltreffend versper word. Maritz, ’n gesiene wamaker voor sy vertrek uit Graaff-Reinet, het veghekke laat maak wat op die waens vervoer en binne minute aangebring kon word.

Lopers (koeëls) is vervaardig en gewere is in orde gebring. Alle moontlike voorrade is vooruit voorberei, sodat die strafkommando slegs uit weerbare mans kon bestaan en vinnig kon beweeg. Maritz, die burgerlike leier wat militêre verantwoordelikhede nog altyd aan ander afgestaan het, het ’n omvattende krygsplan ontwerp en was gereed om dit uit te voer. Toe sterf hy na ’n kort siekbed. Alle erkende leiers was dood of weg en die trek na Natal het gelyk of dit net vir Dingaan se genadeslag gewag het.

Nog ’n vooraanstaande boer van Graaff-Reinet, Andries Pretorius, was op pad om met sy geselskap by die Natalse Trekkers aan te sluit. Hy is inderhaas laat roep om sy geselskap alleen te laat en die strafkommando te kom lei. Sy reputasie as sterk krygsman het hom uit die Oosgrens gevolg en dit was nie moeilik om die Trekkers se vertroue te wen nie. Hy kon die sin van Maritz se planne insien en het dit afgerond. Teen die einde van 1838 kon die tweede strafkommando, wat later die Wenkommando genoem is, in die rigting van Dingaan trek.

Die gemoedstoestand in die kommando was alles behalwe gemoedelik of vol bravade. Militêr het die Zulu’s hulle as die Trekkers se meerderes bewys, so het dit gelyk. Zulu-getalle was bykans onbeperk, die Trekkers s’n uiters beperk. Die primitiewe voorlaaier gewere kon eenvoudig nie ’n oormag met steekassegaaie teëhou nie.

Of die gedagte om ’n Gelofte aan God af te lê by Wasbank of Danskraal na vore gekom het, of dit Sarel Cilliers of Andries Pretorius se idee was, of almal dadelik ingestem het en of daar weerstand was, is alles nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is dat ’n groep manne hulle lot in God se hande geplaas het, toe hulle self geen raad gehad het nie. Hulle het God nie vir hulle toegeëien nie, hulle het in beskeidenheid hulleself aan God gegee. Van 9 tot 16 Desember is die Gelofte herhaal.

Saterdagaand 15 Desember is laer getrek in afwagting van ’n geweldige aanval die volgende dag. Die gevegsterrein is met oorleg gekies. Die wesenlike van Zulu-aanvalstegniek was om naby genoeg te kom dat hulle vernuf met steekassegaaie die vyand kon vernietig. ’n Sloot wat by ’n rivier aansluit sou hierdie soldate se spoed breek en die skaal ten gunste van die gewere swaai. Die walaer en veghekke het hulle funksie doeltreffend verrig.

Die kruit, wat maklik in die vogtige weer kon nat word en weier om te vuur, het droog gebly. Skeptiese historici kan die verloop van hierdie veldslag, die Slag van Bloedrivier, aan goeie strategie aan Trekker-kant, swak besluite aan Zulu-kant en ’n bietjie toeval toeskryf, maar die Trekkers het geen twyfel gehad nie: God het hulle gebed verhoor.

Die agternastorie

Die veiligheid wat met Bloedrivier en die afhandeling van die veldtog behaal is, was iets wonderlik. Militêre optrede is met onderhandelings opgevolg en ’n bondgenootskap is met Dingaan se opvolger, Mpande, gesluit. Die Republiek van Natalia is gevestig met hoofstad, Volksraad en bewerkte plase. Tog het dit net enkele jare gehou, voor dit voor die aanslag van die Britse Ryk moes swig. Die meeste Trekkers is oor die Drakensberge terug na die land wat Potgieter vroeër beveilig het.

Die Trekkers is deur ’n vuuroond van lyding, maar ook deur ’n leerskool van bevryding. Deur nog baie jare se ervaring en foute moes hulle leer dat vryheid nie net is om kettings van onderdrukking te breek nie. Vryheid is om saam te werk. Mense wat vir mekaar min liefde koester, moes medewerkers word. Die nageslag van die Trekkers en ander Afrikaners wat later aangesluit het, kon hierin slaag.

Die Groot Trek het gemengde grondslae gelê. Langs die rots van vasberadenheid en deursettingsvermoë was ’n sandkuil van eiesinnigheid en koppigheid. Langs die rots van lojaliteit was ’n sandkuil van blindelingse navolging. Langs die rots van waaksaamheid was ’n sandkuil van agterdog. Langs die rots van selfwaardering was ’n sandkuil van wantroue in alles wat anders was. Maar die belangrikste is dat die som daarvan ’n grondslag was waarop gebou kon word. Soms het dit gelyk of die hele gebou in die sandkuile sou wegsak, maar uiteindelik is baie van die sand tot steen gebind en het dit die matelose geweld van die Britse ryk geverg om die gebou te sloop.

… en wat daarvan?

Ons het na die storie vooraf gekyk, na die storie self en die storie agterna. Maar wat dit beteken dit vir Orania in 2013?

Die Afrikaner se tweede gebou het in 1994 in duie gestort. Dit was ’n imponerende gebou, maar die sandkuil van vreemde arbeid was te groot. Baie Afrikaners vind woonplek in die murasies, lap dit hier en daar en maak dit nogal gerieflik, maar kan dit nie weer tot ’n gebou met samehang herstel nie. Orania het dit op hom geneem om grondslae te lê. Die skaal is beskeie, maar hoë vakmanskap word nagestreef.

Ons streef daarna om rotse in ons grondslae in te bou. Maar wat is die sandkuile waarop ons onbewustelik bou? Watter soort gemeenskap bring ons tot stand? Is dit ’n gemeenskap waar elkeen se bydrae verwelkom en gekoester word? Is dit een waar iemand wat val opgehelp word? Is dit een waar meningsverskil ’n uitdaging is om denke te slyp? Of maak ons toe in ons eie kringe, rondom ons eie gedagtes, soekende na ons eie belang?

Wie grondslae lê, dra groter verantwoordelikhede as ander. Laat ons die taak wat ons onsself opgelê het, waardig wees.

Baie dankie.

6 gedagtes oor “Geloftedag: Orania 2013

  1. Duisende Afrikaners het die Geloftediens by die Voortekkermonument bygewoon. Die boodskap was een van die Afrikaner se verootmoediging voor God en om Hom toe te laat om die toekoms van die Afrikaner te bepaal. Dit was ‘n baie emosionele dag en het ‘n groot indruk gemaak op almal wat daar teenwoordig was.
    Die vertelling van die geskiedenis voor die Slag van Bloedrivier was nie so volledig nie maar in die teenwoordigheid van die Monument ook seker nie so nodig nie aangesien alles in beeld daar is.
    Baie goeie toespraak Dr Boshoff.
    Die Afrikaner het egter geskitter is sy afwesigheid by die grootste gebeurtenis hierdie jaar in Suid-Afrika naamlik die roudienste vir Nelson Mandela.
    Die Afrikaner is verteenwoordig deur FW de Klerk!
    ‘n Kransie vanaf Dr Verwoerd se nasate sou darem ‘n indruk van formaat op die wereldverhoog gemaak het en Orania forever op die map gesit het maar helaas-‘n verspeelde kans.

    1. Mike

      Andre FW de Klerk is die rede hoekom daar nie ‘n krans vanaf die afrikaner aan Mandela se roudiens was nie sou ek sê. Jy sal nooit die afrikaner kan oortuig dat NM of enige ANC lid van enige waarde vir hulle is nie om die eenvoudige rede dat die ANC gesorg het vir die einde van selfbestuur van die afrikaner en mede verantwoordelik is vir duisende moorde op afrikaners. FW de Klerk moes iets meer vir die afrikaner beding het by hulle soegenaamde onderhandelings met die ANC maar hulle is totaal uitgelag en huis toe gestuur met nog die hoed in die hand.

  2. Puik toespraak!! Dit was sowaar ‘n plesier om dit eerstehands te kon beleef. Daarna het almal die 4de vers van Die Stem gesing… As Afrikaner voel mens sommer weer herlaai na die Gelofte so nederig herdenk word en jy sulke stof tot nadenke saam met jou in die toekoms in kan neem. Trots Afrikaner!

  3. Willem van As

    Baie interessant, dankie hiervoor. Ek hou veral van hierdie:

    “Oor die volgende 150 jaar, het hulle ’n lewenstyl gewoond geraak waarin die regering ’n klein rol gespeel het en waar hulle vir hulle welsyn, veiligheid en geluk eintlik maar self moes sorg. Die groep mense, wie se getalle na 1700 slegs drupsgewys aangevul is, het al meer ’n karakter van hulle eie aangekweek. Teen 1800 het hierdie vryburgers, sommige graan- en wynboere nader aan die Kaap, maar die meeste veeboere in afgeleë gebiede, nie aan hulleself as ’n volk gedink nie. Kom ons noem hulle die proto-Afrikaners.”

    Is ek dan reg om te se dat die proto-Afrikaners klassieke liberale/anargiste was?

    Dankie vir die nuwe huis wat julle daar in Orania vir ons bou.

  4. dickdavel

    Asseblief gaan stem in hierdie verkiesing.

    Indien u soos ek die vryheid van die Afrikaner-Boervolk begeer, selfbeskikking en volkskonsolidasie nastreef, neem asb deel aan die verkiesing.

    SELFBESKIKKING van my volk is vir my so belangrik, dat ek bereid is om my lewe daarvoor te gee. Selfbeskikking moet op alle tereine nagestreef word, interne- sowel as eksterne-selfbeskikking.

    Ekonomiese selfbeskikking:

    Sosiale selfbeskikking:

    Kulturele selfbeskikking:

    Strategiese(geografiese) selfbeskikking:

    Polikieke selfbeskikking:

    Opvoedkundige selfbeskikking:

    Morele maatskaplike selfbeskikking:

    Christelik-nasionalistiese selfbeskikking:

    Handhawing en beheer(selfbeskik) van volksveiligheid, onafhanklik van vreemde beskerming:

    Om apaties te wees oor enige van die bogenoemde, is selfmoord en teenstrydig met ons selfbeskikkingsideaal. Die wat teenspraak lewer oor enige vorm van selfbeskikking, veral om ons volk te ontmoedig om deel te wees aan aksies om selfbeskikking te bevorder.. is n volksmoordenaar en pleeg verraad teen homself. Hiermee eis ek dan my volk se selfbeskikkingsreg op deur deel te wees aan alle vorme van selfbeskikking. Om nie deel van die politieke bestel te wil wees om jou selfbeskikking op te eis en te bewys van jou erns daartoe, is dus na my mening, teenstrydig met jou begeerte na selfbeskikking.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s