Laat ons ook nie oor instellings kibbel nie

’n Onlangse rubriek het gepleit dat diegene wat hulle vir selfbeskikking beywer, minder oor die gestaltes daarvan kibbel. Hierdie keer word gepleit dat ons ook minder oor instellings kibbel. Die veelvuldige instellings wat hulle vir die Afrikaner se voortbestaan beywer is nie ’n probleem nie. Die neiging om die son nie oor die ander te sien skyn nie, is.

Anders gestel: Meningsverskil is ’n goeie ding. Verdeeldheid kom wanneer aanhangers van een standpunt eis dat almal hulle insig moet deel.

Hierdie pleidooi val nie uit die lug nie. Daar is twee instellings wat op massasteun van Afrikaners ’n beroep doen en wat onbeskaamd Afrikaners se posisie bevorder. Dit is die Vryheidsfront Plus as politieke party en die Solidariteit Beweging. Die VF+ opereer binne die parlementêre bedeling en die relatiewe (sowel as absolute) afname in Afrikaners se getalle bemoeilik sy taak met elke verkiesing. Nogtans glo die party dat die parlement en ander wetgewers waarde het.

Die Solidariteit Beweging het uit die vakbond, die Mynwerkersunie, gegroei. Na die voorbeeld van die Histadrut, ’n Israeli-vakbondbeweging wat ’n groot rol in die vestiging van Israel gespeel het, het Solidariteit tot ’n omvattende volksbeweging gegroei. Benewens die vakbond, het nuwe instellings soos AfriForum, Helpende Hand, Soltech, Akademia en verskeie ander tot stand gekom. Ou bekendes, soos die FAK en Radio Pretoria, is ook deel daarvan, terwyl die Orania Beweging ooglopend in die wentelbaan beweeg.

Die vraag word al meer gevra of die Solidariteit Beweging enige vorm van steun aan die VF+ in die komende verkiesing gaan gee. In die verlede het die twee instellings verskeie aksies gesamentlik aangepak en in minder ingeligte kringe word min onderskeid getref. Solidariteit het egter oor die laaste paar jaar moeite gedoen om afstand tussen homself en die VF+ te skep. ’n Tema wat herhalend in die gesprek rondom samewerking-of-nie voorkom, is die vraag wat Solidariteit het om daaruit te wen. Anders gestel, die VF+ kan by samewerking baat, maar nie Solidariteit nie.

Wanneer die Afrikaner in ’n bestaanskrisis verkeer – en dit is nie ’n oordrywing nie – behoort die vraag nie te wees wat tot watter instelling se voordeel sal wees nie. Die vraag moet wees watter optrede op die lange duur vir die Afrikaner die grootste voordeel sal inhou.

Daar is tans twee soorte politieke partye: Die eerste groep sien die Suid-Afrikaanse grondwet as die beste denkbaar en maak aanspraak dat hulle dit in hulle hande die veiligste is. Dit is alle partye buiten die VF+. Dan is daardie VF+, wat aandring dat ’n land met etniese verskeidenheid, soos Suid-Afrika, ’n grondwet moet hê wat dit weerspieël.

Iemand wat met die Afrikaner se toekoms gemoeid is, kan nie deur hierdie keuse koud gelaat word nie. Enige wegblystem of stem vir ’n ander party, gee die boodskap dat Afrikaners gelukkig in die Suid-Afrikaanse bedeling is en hoogstens ’n beter regering soek. Is dit wat die Solidariteit Beweging glo?

Net ’n dwaas sal nalaat om die reusagtige werk wat die Solidariteit Beweging doen, lig te skat. Nogtans staan die vraag: Is iets net die moeite werd om te doen as dié beweging dit binne sy werksbestek sien? Hoeveel etniese bewegings wêreldwyd minag die parlementêre forum? Kom, laat ons minder oor instellings kibbel en elk sy rol laat speel.

6 gedagtes oor “Laat ons ook nie oor instellings kibbel nie

  1. Jan

    Ja wat ek het laaankal vrede gemaak om vir die VF te stem – want wegbly is ook stem.
    SELFBESKIKKING is om te loop stem – niemand anders sal en kan dit vir jou doen nie – jy moet dit self doen dan oefen jy jou selbeskikkingsreg uit.en dan is jy vry – want jy doen dit self.

  2. Gemsbok

    Vir solank as wat net ‘n klein minderheid van Solidariteit se lede uit eie oortuiging vir die Vryheidsfront stem, sal dit vir Solidariteit te riskant wees om die Vryheidsfront openlik te steun, want sy eie lede kan teen hom en sy leierskap draai.

    Die Vryheidsfront sal eers self moet kan bewys dat hy ‘n politieke tuiste vir meer as 5% van Afrikaners kan bied.

    Maar selfs al stem alle Afrikaners vir die Vryheidsfront, het die party nog nie ‘n strategie gedemonstreer wat hy dan sal kan aanwend om Afrikaners se lot te verbeter nie, want hy sal steeds nie wette kan deurvoer of blokkeer nie.

    Daar sal eenvoudig nie ‘n politieke oplossing wees alvorens Afrikaners nie ‘n meerderheid in ‘n geografiese gebied vorm nie.

  3. Johan van Drimmelen (VF-PLUS en Solidariteit en Radio-Pretoria en Orania en PRAAG en, en)

    Oorweeg asseblief die volgende. Probeer asseblief om onderling insluitend te wees, (eerder as onderling uitsluitend). Onderling insluitendheid impliseer eendragtigheid soos in saamstaan en soos in eendrag maak mag. Die voorgaande debat gaan oor die-een-of-die-ander, of te wel Solidariteit of die VF-Plus. Asseblief mense. Dis regtig dom om daardie debat te voer. Vir my is die oplossing baie baie duidelik. Dis is nie die een of die ander nie. Die regte antwoord is: ALBEI. Daar is niks wat jou verhoed om aan albei te behoort nie. Die een is n Burgerregtelike organisasie (en verseker en natuurlik het n mens Burgerregtelike steun en samehorigheid nodig), en die ander is n Politieke Party, en verseker het mens ingelyks ook n geleentheid nodig om volwasse en Polities te kan gaan stem vir jou oortuigings. Ons stem nie om te wen nie want almal ken die syfers. Ons stem vir groter inspraak, om wie-ook-al die meerderheid mag wees, baie beter op hul tone te kan hou. As n Afrikaner is dit jou plig om aan albei te behoort en dis jou plig om albei te onder.steun. (LW. Indien jy nie die maandelikse ledegelde van beide betaal nie, behoort jy nog nie aan beide nie. Sorg dat jy by beide aansluit en nie net gedurig n saampratende onbetrokke lid sonder inspraak bly nie). Ek behoort aan Solidariteit EN die VF-Plus, EN Radio-Pretoria, EN PRAAG EN SAJWB EN aan Orania EN aan n Christelike Kerk, EN aan n Katamaran-klub EN aan ECSA EN ek betaal almal se ledegelde, en as ek meer kon bekostig sou ek. Ek noem, aktiewe betalende deelname aan so veel as moontlik Afrikaner-Organisasies GELYKTYDIG, die ware praktiese manier van ‘Saamstaan’ en ‘Eendrag maak mag’. Indien mens dan van geleentheid tot geleentheid tussen die onderskeie instansies beweeg, en jy begin al hoe meer dieselfde gesigte by al die geleenthede sien, DAN WEET JY; — Die mense begin SAAMSTAAN, en hulle begin mekaar al hoe beter verstaan. Asseblief mense. Dis nie ‘die-een-of-die-ander’ nie. Dis werklik absoluut almal GESAMENTLIK. En dan-eers staan ons eers werklik saam. Komaan mense. Staan nou saam deur GELYKTYDIG aan soveel as moontlik Afrikaner-georiënteerde Organisasies en Instansies gelyktydig te behoort, deur daadwerklik as betalende lid by hulle aan te sluit, (soveel as wat jy kan bekostig) en staan so dan deur onderling-insluitendheid in die praktyk SAAM, en maak so tienvoudig n baie groter impak in Afrikaner-belang. Die Afrikaner-instansies oorvleuel en stem in elk geval 80% saam, en mens raak dan so intens in Afrikaner-belang betrokke, dat daar net eenvoudig nie nog tyd vir onderlinge moddergooi ook kan wees nie. 80% ooreenstemming impliseer vir my 80% samehorigheid, en dit is meer as goedgenoeg vir my. Groete. Johan van Drimmelen.

  4. Frik Lotz

    Die VF Plus opereer binne die parlementêre stelsel en probeer daar die saak van die Afrikaner bevorder. Groepe buite die parlement soos Solidariteit, Afriforum,Praag en dies meer is dus nodig om op daardie vlak die nodige te doen vir ons mense. Elkeen het n rol te speel en dis tyd dat almal mekaar begin ondersteun en begin help. Dis nie n keuse van net die een of net die ander nie. Ons moet begin saamstaan en ophou om teen mekaar te werk want ons kan nie verdeeldheid bekostig nie,die tyd daarvoor is lankal verby. Eendrag maak mag.

  5. Willem van As

    Volgens my is daar baie ideologiese ooreenkomste tussen die Orania beweging en die Solidariteit beweging.

    Altwee is pro-Afrikaner, sonder om anti enige iemand anders te wees, sonder om onnodig antagonisties te wees, en sonder om rassisties te wees.

    Altyd is pro vrye mark met Christelike beginsels in hulle praktyke ingebou.

    Altwee lê baie sterk klem op selfwerksaamheid en het ‘n “die beste helpende hand is die een aan die einde van jou eie arm” ingesteldheid.

    Albei praat nie net nie, maar lewer konstant konkrete werklikhede op.

    Die Orania beweging is net baie meer gebied geblaseerd.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s