’n Nuwe jaar in ’n nuwe rat

Eerstens ‘n groot dankie aan al ons lede en lesers wat gedurende 2013 ’n bydrae gelewer het tot  die groeiende sukses van die Vry Afrikaner inisiatief. Mag die nuwe jaar vir elkeen gevul wees met opwinding, vreugde en voorspoed.

Ons betree 2014 met lus en ywer om die grondslag wat ons in 2013 geskep het verder uit te brei. Die Vry Afrikaner Ontwikkelingsfonds (VAO) gaan volstoom voort om werkskepping en kleinsake ontwikkeling in en om Orania te bevorder. Ons is veral opgewonde oor ons loodsprojek, Die Ou Karooplaas Winkelsentrum, wat na verwagting die deure in April gaan oopmaak.

Een van ons hoofdoelwitte vir 2014 is om ons ledewerwingsprogram op te skerp. Ons het ’n nuwe afdeling geskep wat uitsluitlik op ledewerwing fokus. Ons lidmaatskapstruktuur is juis so saamgestel dat lede se eenmalige aansluitingsfooi ten volle in die VAO belê word ten einde werkskepping en ontwikkelingsprojekte in die volkstaat te bevorder. Te danke aan ons lede kan projekte soos Die ou Karooplaas aangepak en gedeeltelik befonds word.

’n Bekende Oraniër, mnr. Jan Joubert, is aangestel om ons ledewerwingafdeling te bestuur. Mnr. Joubert is ’n voormalige Bloemfonteinse stadsraadslid en hy dien al vir meer as 10 jaar op die Orania Burgerraad. Hy is ook ’n oprigterslid van die Orania Beweging en het vir baie jare aan die hoof van Orania Beweging se ledewerwingsprogram gestaan.

Vry Afrikaner het nou bande met volksorganisasies soos die Vryheidsfront Plus en die Orania Beweging. Ons wil graag voortbou op ons goeie verhoudinge met hierdie en ander volksorganisasies en hulle bevorder op alle terreine waar ons beweeg.

Ons gaan in 2014 baie meer aandag skenk aan bemarking en skakelwese. Ons bemarkingsafdeling het uitgebrei en ’n jong B.Com bemarking gegradueerde van Pretoria, mnr. Reon Koltzow, is aangestel om hierdie afdeling van Vry Afrikaner in Orania te bestuur.

Vry Afrikaner is ’n genootskap van moderne Afrikaners wat betrokke is by die praktiese herstel van ons soewereine onafhanklikheid in ’n vry Afrikaner Republiek. Ons besef dat hierdie strewe nie oornag kan realiseer nie, maar ons weet ook dat ons wel daagliks kan arbei om werklikhede te skep, wat oor tyd en saam met ander organisasies se inisiatiewe, die kern van ons volkstaat vorm.

Ons is ’n nie-politiese organisasie sonder winsoogmerk wat suiwer binne die private sektor beweeg. Vry Afrikaner is betrokke by die vestiging van ’n lewenskragtige vryemarkekonomie wat met volkseie arbeid opgerig en in stand gehou word.

Die Vry Afrikaner mediakantoor sal in 2014 voortgaan om hierdie ideale oor te dra in ons artikels. Ons het al ’n vêr pad gestap om moed, hoop en ’n samehorige toekomsvisie by Afrikaners te kweek en ons sal daarop voortbou in die nuwe jaar wat voorlê.

Ons gaan in 2014 ook ’n program loods om volkstaat sakekamers reg oor die land te stig. Die idee is om sakelui by die vryheidsideaal te betrek en die grondslag te lê vir die totstandkoming van volkstaatgroeipunte binne die aangewese volkstaatgebied. Sustergemeenskappe vir Orania wat handel, interafhanklikheid, selfvoorsiening en outonomiteit vooropstel.

Sakemense wat inisiatief wil neem om ’n volkstaat sakekamer in hul areas te stig kan ons kontak by inligting@vryafrikaner.co.za. Ons sal u graag van meet af wil saamneem en betrokke maak by die proses om die program te stroomlyn sodat nuwe beleggingskanale daadwerklik vir die volkstaat geskep kan word.

Geniet die jaar wat voorlê en doen wat die hand vind om ’n verskil te maak waar dit werklik saak maak. Deur net betrokke te wees by ons gemeenskaplike ideaal om ’n volkstaat tussen Orania en die Weskus te vestig maak reeds van u ’n vry Afrikaner.

Quintin Diederichs

Voorsitter

8 thoughts on “’n Nuwe jaar in ’n nuwe rat

  1. Frik Lotz

    Jul doen baie goeie werk,gaan voort daarmee.Sterkte ook aan Jan Joubert. Ek het hom seker so 10 jaar gelede ontmoet toe hy nog by die VF Plus was,maar hy sal my nie onthou nie. In elk geval,n goeie 2014 word almal toegewens. Gods rykste seën.

      1. Frik Lotz

        Dankie,Quintin. Ek het weer so ietsie op http://www.opinieplatform.co.za geskryf oor kieserregistrasie en die verkiesing. En ja,iemand het weer dr. Mulder en die VF Plus aangeval met argumente wat nie water hou nie. As jy tyd het gaan kyk bietjie na die stuk wat ek geskryf het. Mooibly.

      2. Frik Lotz

        Quintin,dankie vir die goeie kommentaar wat jy gegee het op die Afrikaanse Opinieplatform. Ek stem saam met wat jy daar gesê het.

  2. Nie net ‘n voorspoedige nuwe jaar nie, maar ‘n voorspoediger een, wens ek die bouers van die Afrikanertuiste toe.

    Mag die jaarlikse groei in Orania se momentum voorspoediger toeneem! Mag dit ‘n onkeerbare sneeubal, bergaf, word! Mag dit vertroue by al meer Afrikaners wek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s