Die petrolprys en die ekonomie oor die algemeen

Faktore soos ‘n swak wisselkoers wat die prys van petrol in Suid-Afrika na rekordhoogtes voer, werk uiters stremmend in op die land se ekonomie.

Die deregulering van petrol is feitlik die enigste opsie om onafwendbare verdere verhogings effens te versag, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Die Outomobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het sy stem ook by dié van die VF Plus gevoeg en gevra dat die gemeenskap druk op die regering uitoefen om die prys van petrol te dereguleer soos reeds met diesel gedoen is.

Volgens adv. Alberts is daar geen einde in sig wat verdere stygings in die petrolprys aanbetref nie. Hy sê deregulering sal lei tot kompetisie in die mark, en kompetisie is altyd goed om pryse af te dwing. Tans besluit net die staat wat die prys is.

“Benewens die swak wisselkoers van die rand teenoor die dollar en die prys van ru-olie wat grootliks die prys bepaal, is dit tans winter in Europa en is daar ‘n groter aanvraag na brandstof wat tot verdere verhogings kan lei,” sê adv. Alberts.

In Suid-Afrika kan die wankelende e-tolstelsel ook ‘n groot invloed in die afsienbare toekoms hê.

Indien die stelsel in duie stort, wat tans ‘n wesenlike moontlikheid is, kan die skuld vir die stelsel net deur ‘n verdere heffing op brandstof verhaal word, iets wat nog deurentyd deur die VF Plus bepleit is in die plek van e-tol.

In hierdie stadium is die staatsbelasting op brandstof net meer as R2 per liter (volgens die AA) terwyl 96 sent (op ‘n prys van R13) na die padongelukkefonds gaan. Laasgenoemde gaan waarskynlik ook binnekort verhoog word.

“In die geval van diesel het deregulering nie ‘n wesenlike verskil in die prys gemaak nie, maar elke sent wat die verbruiker in hierdie moeilike ekonomiese tye kan spaar, sal uiters welkom wees en moet gedoen word,” sê adv. Alberts.

Verder is die beloftes van pres. Jacob Zuma dat 5 miljoen werksgeleenthede oor die volgende 5 jaar in Suid-Afrika geskep gaan word blote retoriek.

‘n Tweede Kodesa, hierdie keer oor die land se ekonomie en die waarde van plaaslike selfstandigheid, is nou nodig om die land weer op die pad na welvaart te plaas, sê adv. Alberts.

Hy meen die staat trek geen van die snellers wat nodig is om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei nie en geen geleenthede word vir entrepreneurs van enige ras geskep om tot ekonomiese groei by te dra nie.

Tewens, die teenoorgestelde word bereik met die land se huidige arbeidswette wat die ekonomie en werksgeleenthede doodsmoor en wat daartoe gelei het dat sowat 1,4 miljoen mense hul werk verloor het sedert Zuma in 2009 aan bewind gekom het.

Wat Suid-Afrika nou nodig het, is ‘n tweede Kodesa oor die ekonomie waar alle rolspelers byeen moet kom om te besin oor die land se ekonomie en werkskepping.

Oor die moontlikheid van ‘n minimumloon is die VF Plus van mening dat die mark dit nie sal kan bekostig nie.

Volgens adv. Alberts is die minimumloon ‘n eerbare idee, maar onrealisties gegewe die land se ekonomiese groeikoers. Suid-Afrika beleef tans ‘n ernstige ekonomiese krisis wat die land op sy knieë kan dwing.

“Leë en onuitvoerbare verkiesingsbeloftes gaan niks bereik nie. Daar moet ‘n Kodesa kom om die ekonomie weer aan groei te kry en armoede uit te wis deur te fokus op plaaslike selfstandigheid,” sê adv. Alberts.

Dit is nie slegs om kulturele en gemeenskaplike redes nie, maar ook om ekonomiese redes waarom dit die VF Plus se missie is om territoriale selfbeskikking vir Afrikaners te bemiddel. Afrikaners se inspraak ten opsigte van die Suid-Afrikaanse ekonomie kwyn jaarliks.

Vir die Afrikaner om ekonomies in Afrika te oorleef gaan ons eenvoudig moet voortgaan om ’n ekonomie van skaal tussen Orania en die Weskus te vestig. Sien gerus http://www.vryafrikaner.za.org om aan te sluit en ’n bydrae te lewer in hierdie verband.

6 gedagtes oor “Die petrolprys en die ekonomie oor die algemeen

  1. Willem van As

    Ek lees vroeër vandag op die Libertarian Party of South Africa se Facebook blad dat Pretoria en Johannesburg se WUGs die grootste nie kommersiële rekenaar netwerke in die wêreld is, en as die regering net daai netwerke wou toelaat om kommersieel te wees, sou dit daartoe ly dat Suid Afrika se internet kwaliteit en pryse kompeterend of beter as Europa sou wees.

    Toe kyk ek ‘n video op Solidariteit se blad “Dagbreek met Bennie van Zyl” waar hy verduidelik hoe die ANC se ondermyning van die vrye mark en ten opsigte van landbou grond en transformasie gaan lei tot voedsel tekort en ‘n gebrek aan vertroue en beleggings.

    Nou lees ek hier hoe die regering nie die mark wil toelaat om die beste petrol prys te bepaal nie.

    Ek begin al hoe minder aan kapitalisme of die vrye mark dink aan stelsels. Dit lyk vir my al hoe meer net na basiese menslike gedrag. Mense het behoeftes, en om daardie behoeftes te bevredig het jy ‘n samelewing nodig. Mense raak dan met allerhande produktiewe aktiwiteite betrokke deur arbeidsverdeling en spesialisasie, en ‘n gemene ruilmiddel ontstaan om handel te vergemaklik. Regering is net ‘n parasiet op hierdie gedrag en het ‘n uiters versmorend effek op die samelewing.

    Ek dink nie samelewings moet heeltemal leierloos wees nie, maar leiers moet ook deur die mark bepaal word, deur die resultate wat hulle deurlopend lewer. Nie deur ‘n stelsel waar die die “leiers” elke 4 jaar gekies word omdat hulle die beste kan jok en dan kyk hoeveel hulle van die produktiewe mense in die samelewing kan steel nie.

    Ek dink ook nie dat gelykheid bestaan nie (nie dat ek sommer so op groepe toepas nie), dit sal mens van een van die grootste plesiere in die lewe ontneem, om te leer by die wat beter en wyser is as jy, en dat kultuur basies neerkom op nabootsing van ander mense en geloof, die vraag is nou net, wie en wat gaan jy naboots?

      1. Frik Lotz

        Stem saam dat n stem vir die VF Plus net voordelig vir die Afrikaner kan wees. Ook n goeie uiteensetting wat Anton Albers gegee het. So,laat ons sorg dat ons by die stembus is op verkiesingsdag en ook ons Volksgenote aanmoedig om daar te wees en natuurlik VF Plus te stem.

  2. Theo

    Ek stem saam Willem! Los Kodesa, met die laaste een het ons pak gekry by Joe Slovo!. Ek dink ‘n mens moet agter die kap van die byl probeer kom, die kommunis wil kapitalisme vernietig, en hy is besig om dit reg te kry (gaan lees maar Mandela se gevierde boek, “How to be a good communist!”, waarin hy sê dat daar nie gerus moet word totdat kapitalisme total tot in sy fondamente afgebreek word nie! Is dit nie wat hulle besig is om te doen nie met al die stakings en eise vir hoer lone nie? Hulle sal nie petrol dereguleer nie, want dan kan hulle hulleself nie meer verryk nie en kapitalisme ook nie vernietig nie?

  3. AH Schlemmer

    Die ANC het nie die denk vermoe, om hierdie land n ekonomiese reus te maak nie. Onthou die huidige infrastruktuur en ekonomie is aan hulle op ‘n skinkbord gegee. Dit was nie deur hulle geskep nie.

    Die ANC se DNA is nou maar eenmaal sosialisties. Ek twyfel of dit sommer sal verander.

    Daarom weereens, soos ons op hierdie forum weet, eie grond, eie arbeid, eie krag (sonplase), eie water……..Dit sal ons Afrikaners se lewensbloed wees tot in die ewigheid!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s