Israel: Voormalige Eerste Minister Ariel Sharon oorlede.

Ariel Sharon was een van die bepalende figure van Israel se moderne geskiedenis. Hy is verlede week na ‘n lang koma van meer as 7 jaar oorlede, nadat hy in 2006 ‘n beroerte gehad het. Hy was 85 jaar oud.

Ariel Sharon was een van die laaste verteenwoordigers van die stigtersgenerasie van Israel. Hy is in 1928 as kind van Belorussiese ouers in die destydse Britse mandaatsgebied Palestina gebore.

Reeds op 15jarige ouderdom was hy lid van die Joodse ondergrondse weerstandsbeweging Hagannah en het vir homself ‘n naam gemaak as iemand wat vasberade en dapper was en met gesag opgetree het.

Na die stigting van die staat Israel in 1948 het Sharon ‘n loopbaan in die nuwe weermag gevolg en is in 1953 opdrag gegee deur die stigter-president, Dawid ben-Gurion, om die beroemde en berugte 101 anti-terroriste eenheid te stig, wat Palestynse terrorisme beveg het.

In die Sesdagse Oorlog van 1968 het hy vir homself naam gemaak met sy offensiewe taktiek wat tot die vinnige verowering van die Sinai-skiereiland van Egipte gelei het en ‘n beslissende bydra tot Israel se merkwaardige oorwinning in die oorlog gelei het. 1973, tydens die Yom-Kippoer oorlog, is hy teruggeroep weermag toe en het as generaal met sy pantserdivisie oor die Suez-kanal oorgesit en die Egiptiese weermag ‘n beslissende neerlaag toegedien. Dit het hom heldestatus gebring en hy het ‘n huishoudelike naam geword.

Sharon was een van die stigterslede van die konserwatiewe Likud-Party in 1973. Dié party het in 1977 die tot dusvêr alles oorheersende Arbeidersparty ontsetel onder sy destydse leier Menachem Begin. In die regering van Menachem Begin was Sharon Minister van Verdediging. Hier is ‘n sekere parallel met genl. Constand Viljoen, wat sy militêre heldestatus ook gebruik het om later as politieke leier na vore te tree.

In die tyd (1982) val egter ook die massaslagting van Palestynse vlugtelinge deur die Libanese milisie waarmee Israel in bondgenoodskap was. Alhoewel die Israelse weermag nie direk daarvoor verantwoordelik was nie, het hulle die slagting toegelaat en laat die gebeure altyd ‘n donker kol op mnr. Sharon se reputasie aangesien hy as Minister van Verdediging die finale verantwoordelikheid gehad het.

Weens sterk openbare druk moes hy bedank as Minister van Verdediging en het aangebly as minister sonder portfolio. In latere Likud-regerings het hy verskeie ander portfolios beklee, onder andere Minister van Behuising, en het ‘n naam gehad as voorstaander van Israel se voortdurende besetting van die Wesoewer deur middel van nuwe nedersettings. As een van die mees uitgesproke “valke” in die Israelse politiek was hy natuurlik ‘n rooi doek vir die Palestyne en hulle leier Jassir Arafat.

Toe Sharon in 2000 die tempelberg en die Al-Aksa Moskee besoek het, het die Palestynse ekstremiste dit as oorsaak geneem om met grootskaalse opstande teen Israel te begin (die sogenaamde tweede intifada).

By sy eie mense het Sharon se reputasie as sterkman egter gemaak dat hy as rots in tye van onstuimigheid gesien is en as iemand wat sy land en mense sal verdedig en wat nie omkoopbaar is nie. Hy het, tot algemene skok in die internasionale hoofstroom-media, die verkiesing van 2001 gewen en Eerste Minister geword.

As leier van sy volk was hy egter pragmaties en ‘n realpolitikus in die beste sin van die woord. Al was hy in die opposisie bekend as ‘n vuurvreter en iemand wat graag die hele Bybelse Israel wil herstel, het hy as Eerste Minister ingrypende stappe geneem om die Palestynse eise vir ‘n eie land tegemoet te kom en om sodoende die druk op Israel te verlig.

In 2004 het hy, teen weerstand uit sy eie geledere, die eensydige ontruiming van die Gaza-strook aangekondig, met die verwagting dat dit die Palestynse druk op Israel sou verlig. Dit het egter ook beteken dat talle Joodse setlaars, die mees getroue ondersteuners van mnr. Sharon, nou deur Israel se weermag uit hulle nedersettings verwyder en hulle huise platgestoot is.

Ongelukkig het die pragmatiese stap nie dankbaarheid en gematigdheid by die Palestyne meegebring nie, maar is juis as ‘n teken van swakheid gesien en is die Gaza-strook deur die radikaal-Islamitiese Hamas oorgeneem wat vandaar Israel voortdurend aanval.

Mnr. Sharon, eens heel regs, het hom nou skielik in die posisie van ‘n gematigde leier bevind wat deur sy teenstanders geprys en deur sy volgelinge as verraaier uitgekryt is. Mnr. Sharon het egter ‘n sterk persoonlike leierskap gehad en was sterk genoeg om met sy eie Likud-party te breek en sy eie, sentristiese party, Kadima, te vorm, wat volgens meningspeilings die volgende verkiesing sou wen. Die steun wat hy na regs verloor het, het hy onder die gematigdes gewen.

‘n Ernstige beroerte in 2006, op die toppunt van sy mag, het egter sy loopbaan skielik beëindig. Ook hier is parallelle met Suid-Afrika: dit was juis die kragdadige PW Botha, met ‘n militêre agtergrond en bekend vir duidelike taal, wat met hervormings begin het, maar dit is juis deur sy teenstanders as swakheid vertolk en het hulle daardeur sterker gemaak en meer vasberade om die hele bewind weg te vee. Ook PW Botha moes weens ‘n beroerte sy pos neerlê, alhoewel hy weer herstel het.

jongsharonAriel Sharon in 1973

Een gedagte oor “Israel: Voormalige Eerste Minister Ariel Sharon oorlede.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s