Krim referendum oor onafhanklikheid van Oekraïne

Die Krim-gebied, wat die fokuspunt van die konflik tussen Oekraïne en Rusland is, het onlangs ‘n referendum oor aansluiting by Rusland gehou. Die uitslag was meer as duidelik: 96% het vir aansluiting by Rusland gestem, met ‘n deelname van meer as 80%.

Die pro-Russiese streeksparlement van die Krim het na die uitslag Krim se onafhanklikheid van Oekraïne verklaar en vir aansluiting by Rusland aansoek gedoen. Rusland het daarop reageer deur die Krim-gebied in te lyf.

Daar was egter ‘n hele paar ongeruimdhede, wat maak dat die indrukwekkende uitslag bevraagteken kan word: die referendum is baie haastig gehou en die datum is twee keer vervroeg. Dit vind plaas in ‘n opset waar Rusland de facto beheer oor die Krim het en waar die streeksregering pro-Russies is en die Oekraïne geen houvas meer op die gebied het nie.

Geen gebalanseerde debat en opinievorming kon plaasvind nie en daar was feitlik nêrens advertensies vir die verblyf by Oekraïne nie. Daar was in die referendum ook geen keuse vir die status quo, naamlik regstreekse verblyf by Oekraïne nie. Mense kon net kies tussen groter outonomie of aansluiting by Rusland.

Die minderheid van die Krim-Tartare (12% van Krim se bevolking) verkies blykbaar die verblyf by Oekraïne omdat Rusland geen goeie rekord met die hantering van minderhede het nie.

Die Weste, by name die EU en die VSA, het die referendum as onwettig bestempel en met verskerpte sanksies gedreig. Sjina, eintlik ‘n bondgenoot van Rusland in die konflik, het ontwykend geantwoord oor die referendum, uit vrees vir afskeiding van etniese gebiede in sy eie land.

Die Weste se optrede is om verskeie redes egter skynheilig en inkonsekwent (maar dit kan van Rusland ook gesê word): die Weste het sterk ten gunste van die afskeiding van Kosovo in 2005 opgetree. Hier het die argument van die wil van die oorgrote meerderheid van die bevolking sterker geweeg as staatsgrense. In die geval van die Krim huldig die Weste presies die teenoorgestelde standpunt.

President Wladimir Putin van Rusland volg geen politiese beleid oor afskeiding nie, maar tree suiwer as magspolitikus op soos in die 19de eeu se Europa: wat goed is vir my land is reg. Om die rede bevorder hy die afskeiding van Krim, maar weier dieselfde reg vir etniese minderhede in sy eie land, of verwerp die onafhanklikheid van Kosovo.

Vir ons is die referendum om bepaalde redes interessant, want hier staan die beginsel van selfbeskikking teenoor die beginsel van territoriale integriteit. Hoe meer aanvaar word dat grense nie heilig en onveranderbaar is nie, en dat die wil van die inwoners van ‘n betrokke gebied sterker is, hoe beter vir ons saak.

Agtergrond

die Krim is ‘n skiereiland in die Swart See wat histories aan Rusland behoort maar in 1954 deur die destydse sekretaris-generaal van die Sowjet-Unie, Nikita Chrusjtsjoff, aan die deelstaat Oekraïne gegee is (waarvan hy afkomstig was), omrede dit die administrasie sou vergemaklik.

Krim is met ‘n landbrug verbind aan Oekraïne, maar kan van Rusland af net per skip bereik word. Die oorgrote meerderheid inwoners van die Krim is egter Russe, en daar is ook ‘n minderheid Tartare, wie se tradisionele stamland dit is, maar wat deur Josef Stalin in die 1930’s na Sibirië verban is en in die laaste twee dekades weer teruggetrek het Krim toe.

Vir Rusland was die Krim nog altyd strategies besonder belangrik want Rusland strewe altyd na ysvrye hawens en slegs by die Swart See is daar ‘n toegang na ‘n warm see. Rusland se Swart See vloot lê in ‘n hawe van die Krim, want tans van Oekraïne gehuur word, maar Rusland sou graag sy eie hawe vir sy vloot wou hê. Boonop is vir koue Rusland die Krim ‘n stuk warm Middellandse See en daarom ook ‘n gewilde vakansiebestemming.

Die Krim is 26 000 km² groot en het sowat 2 miljoen inwoners, waarvan sowat 60% Russies praat, 25% Oekraïnies en 12% is Tartare.

2 gedagtes oor “Krim referendum oor onafhanklikheid van Oekraïne

  1. Willem van As

    Ek stem heeltemal saam dat grense nie heilig en onveranderbaar is nie. Ek weet nie of julle die onlangse video op Facebook gesien het wat wys hoe die grense in Europa deurlopend en drasties oor die afgelope duisend jaar verander het nie, die afgelope 150 jaar of so wat grense meer staties gebly het lyk of dit die uitsondering en nie die reël is nie.

    Volgens my moet mense van grense wat nie meer ‘n doel dien nie ontslae raak, net soos enige iets anders. Al wat die huidige grense van Suid Afrika doen is om ‘n “South African” identiteit op almal van toepassing te maak, en die in mag het baie wat vir hulle kan stem, en hulle kan minderhede leeg tap deur belasting.

    Ek sien baie uit na toekomstige grens veranderings, veral daar in die Noord Kaap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s