20 jaar van volksmoord in Ruanda herdenk

Ruanda asook talle lande oor die wêreld heen herdenk tans een van die ergste volksmoorde van die 20ste eeu na die Tweede Wêreldoorlog.

Die volksmoord in Ruanda het ‘n nuwe dimensie aan die verskynsel van volksmoord gegee omdat dit iets was waaraan ‘n groot deel van die bevolking, en nie net die weermag nie, deelgeneem het. Die volksmoord was teen mense gerig wat bure, selfs familie was en waar moordenaars en slagoffers vir dekades langs mekaar gelewe het.

Dit alles het in die kort tydperk van 3 maande en deur middel van die primitiewe wapen van die panga en spies plaasgevind het, eerder as wapens van massavernietiging.

Dit is ook ‘n voorbeeld van die massa-histerie van opgesweepte mense, wat veral in Afrika so dikwels voorkom.

Die volksmoord is van langer hand voorberei. In Ruanda was die Tutsi-minderheid histories die elite-volk en is deur die koloniale moondhede Duitsland en later België bevoordeel.

Na onafhanklikheid in 1960 het die magsverhoudings omgekeer geraak en die Hutu-meerderheid (meer as 80%) het die mag oorgeneem en die Tutsis het ‘n lae profiel gehandhaaf. Verhoudinge het op die oog af redelik goed gefunksioneer en die twee volke het langs mekaar en soms deurmekaar gewoon.

Hutu-ekstremiste het egter deur middel van ‘n radiostasie en kodewoorde soos “kokkerotte” vir die Tutsis die smeulende haat teen die eertydse herevolk aangeblaas. ‘n Tutsi-weerstandsbeweging, die Rwandan Patriotic Front (RPF) het vanuit Uganda ‘n lae-intensiteitsoorlog teen die regering gevoer.

Die lont aan die kruidvat was die dood van die Hutu-president Juvenal Habyarimana in ‘n vliegtuigongeluk. Na bewering het die Tutsi-rebelle die vliegtuig afgeskiet. Daarna was die hel los. Die Hutu-weermag en paramilitêre magte het van dorp tot dorp getrek en die Tutsis afgemaai en die Hutu-meerderheid aangesê (soms was min oorreding nodig, soms was dit wel onder dwang) om deel te neem aan die slagting.

Wapens, veral pangas, is uitgedeel aan gewillige Hutu-slagters. Soos besetenes het die Hutu onder die Tutsi gewoed, in ‘n soort onbeheersde bloed-waansin. Ook Hutu wat nie wou meedoen aan die slagting nie, of as te “onpatrioties” beskou is, is afgemaai. In sowat 3 maande is amper 1 miljoen mense vermoor.

Die slagting is eers beëindig toe die RPF-rebelle die magsvakuum gevul en die beheer oor die land oorgeneem het. Die Hutu-ekstremiste het uit vrees vir weerwraak deur die Tutsi-rebelle na Kongo gevlug.

Paul Kagame, leier van die RPF, het die mag oorgeneem en regeer sedertdien outokraties. Dit kan tot sy eer gesê word dat hy, alhoewel Tutsi, nie blinde wraak teen enige Hutu geneem het nie, maar probeer het om met ‘n lang uitgerekte tribunaal die werklike skuldiges te straf.

Die Weste het ‘n treurige rol in die slagting gespeel. Frankryk, die Hutus en Ruanda se eertydse bondgenoot, wat militêre personeel in Ruanda gehad het, het toegekyk hoe die volksmoord hom afspeel.

Na bewering het hulle dit selfs goedgekeur. Verhoudinge tussen Frankryk en die huidige president Kagame is dus ook meer as koel.

Talle Hutu-ekstremiste het ook in Frankryk weggekruip. ‘n Vinnige optrede deur goed gewapende magte kon die volksmoord gestop het.

Dit is immers so dat 3 maande nie iets ongesien kan aangaan nie, en talle Westerlinge wat as ontwikkelingshelpers in Ruanda was en die volksmoord aanskou het, het die nuus na buite gedra.

Die Weste, Afrika en die hele wêreld se oë was egter op die “wonderwerk van Suid-Afrika” en op die ikoon Nelson Mandela gerig, wat uiteindelik goeie nuus uit Afrika sou bring. ‘n Volksmoord wat terselfdertyd plaasgevind het, het die partytjiestemming ontsier en moes dus geïgnoreer word en is aanvanklik as “stamgevegte” afgemaak. Eers heelwat later het die omvang van die volksmoord duidelik geword.

Wat die verklarings vir die volksmoord betref het Westerse kommentators tipies in die polities-korrekte groef geval om altyd die skuld by die witmense te soek en om te maak asof swartmense nie werklik uit hulle eie uit skuldig aan gruweldade kan wees nie.

Duitse en Belgiese koloniale owerhede, wat die Tutsis bevoordeel het, word as die skuldiges uitgemaak, ongeag die feit dat die koloniale beheer amper ‘n halwe eeu voor die volksmoord geëindig het, en dat Ruanda ‘n randgebied was en blanke invloed en koloniale strukture minimaal was.

Die verklaring vir die volksmoord is waarskynlik meer voor die hand liggend: haat op die ander en veral die geleentheid wat die wanorde gebied het. Net ‘n minderheid Hutu-ekstremiste het werklik die Tutsi gehaat en wou hulle permanent verwyder. Die oorgrote meerderheid het die geleentheid gesien om mee te doen aan ‘n bloedorgie wat ook geleentheid tot plundering gegee het.

Dat wettelose toestande die dun laag van beskawing en mede-menslikheid by meeste mense laat afdop is al oor en oor bewys in soortgelyke situasies. Die bekendste voorbeeld is seker die eeue lange vervolging van die Jode in Europa, nie omdat die aandadiges werklike griewe gehad het nie, maar eerder omdat dit ‘n gevoel van mag gee om ‘n minderheid te vervolg en dood te maak, en omdat mense bang is om teen die gewaande meerderheid op te staan.

Die verspreiding van die Tutsi, wat in elke dorp ‘n minderheid was en hulle nêrens effektiewelik kon beskerm nie, was ook tot hulle nadeel. Ook die hoop vir buitelandse inmenging was futiel. Alleen die militêre mag van die RPF het die volksmoord gestop. Anders sou daar dalk geen Tutsi meer oor wees nie.

Ruanda het wel na die einde van die volksmoord onder die leiding van Kagame ‘n suksesvolle tyd beleef. Daar is orde en stabiliteit en merkwaardige ekonomiese groei en ontwikkeling. Korrupsie is laag en die staatsdiens effektief, ‘n werklike uitsondering in Afrika. Dit is egter net moontlik met ‘n kwasi-diktator soos Kagame (wat wel onlangs weer herkies is met ‘n oorweldigende meerderheid) wat ‘n herhaling van die volksmoord sal keer.

Enige verwysing na etnisiteit word verbied en amptelik is daar net Ruandese. Enige demokratiese verkiesing wat weer die Hutus aan bewind bring, kan tot ‘n herhaling lei. Soortgelyke gebeure in Burundi, wat ‘n spieëlbeeld van Ruanda is, bevestig die tendens.

Vir ons as Afrikaner-minderheid (ook omtrent soveel soos die Tutsi) wys die gebeure dat ‘n minderheidsvolk wat eens die beheer gehad het, nooit veilig is en dat ook na dekades van regering deur die meerderheid die minderheid nie vergewe word vir wandade en hoogmoed in die verlede nie.

2 gedagtes oor “20 jaar van volksmoord in Ruanda herdenk

  1. Ouma

    Ek het eenkeer ‘n dokumenter oor die volksmoord gekyk en toe wys hulle ‘n lys van volksmoorde wat dwarsoor die wereld plaasgevind het en die Afrikaners wat in die konsentrasiekampe gesterf het was ook op die lys.

  2. Simon

    “Die slagting is eers beëindig toe die RPF-rebelle die magsvakuum gevul en die beheer oor die land oorgeneem het.”

    Daar is ongelukkig nie iets soos ‘n RPF vir die Afrikaner wat kan inspring sou die slegste gebeur nie, die Afrikaner is reeds weerloos met dinge soos dit nou gaan, en soos die Ingelse sê is dit tans, so erg soos dit is, ‘n “walk in the park” in vergelyking met wat dit kan wees sou iets gebeur soortgelyk as in Ruanda.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s