Israel se laaste pionier-volkstater sterf

Onlangs is een van die bekendste en langdurigste politici van Israel, Shimon Peres, oorlede. Die media het veel gemaak van sy rol om vrede tussen Israelis en Palestyne te probeer onderhandel, waarvoor hy die Nobelprys vir Vrede in 1994 ontvang het (saam met Jitzak Rabin en Yasser Arafat).

Peres het verskeie politieke posisies beklee soos parlementslid vir 48 jaar, minister van verdediging en later buitelandse sake, eerste minister en heel laaste, president (ʼn seremoniële posisie).

Belangriker as sy posisies is egter dat hy een van die laastes van ʼn generasie leiers wat as pioniers in Israel gearriveer het en wat die land help opbou het. Anders as die jonger generasies in Israel, wat in ʼn moderne, gevestigde en voorspoedige Israel gebore is, het Shimon Peres en sy generasie uit die posisie van ʼn bedreigde minderheid in Europa na ʼn dorre, toe nog yl bevolkte en onherbergsame streek, wat nogtans die belofte land vir hom was, gekom.

Shimon Peres is in 1923 in ʼn dorp in die Ooste van Pole gebore (vandag deel van Witrusland). Op 10 jarige ouderdom het hy saam met sy gesin in Tel-Aviv, ʼn nuutgestigte dorp in Palestina aangekom, wat vandag Israel se grootste stad is.

Palestina was destyds nog ʼn Britse mandaatsgebied en die Jode is in beperkte getalle toegelaat om daar te vestig. Peres was van jongs af opvallend intelligent en ook ʼn idealis en ʼn aktivis by die Arbeidersparty (Mapai). Hy het ook  ʼn onwettige verkenningsekspedisie in die Negev-woestyn (waar Jode nie toegelaat is om te vestig nie) gelei en is daarvoor in hegtenis geneem en swaar beboet.

Na sy troue in 1945 het die jong paartjie hulle op die Kibboets Alumot gevestig wat Peres help stig het. Hy het ook as jong afgevaardigde van Mapai saam met die latere legendariese minister van verdediging, Moshe Dayan, die Sioniste-kongres in Basel in 1946 bygewoon en was ook betrokke by die Hagana, die Joodse selfverdedigingsorganisasie wat later die Israelse weermag geword het, een van die mees doeltreffende weermagte ter wêreld.

In die tyd het hy ook kennis gemaak met die leier van die Zioniste (die Jode wat in Israel gevestig het en hulle eie staat wou daarstel), David Ben-Gurion, en later sy regterhand geword.

Na Israel se onafhanklikheid in 1948 het Peres opgang in die politiek gemaak. Israel het egter ʼn harde tyd gehad om as staat te oorleef en is verskeie kere deur Arabiese lande gesamentlik aangeval. Israel kon die aanvalle afweer en het elke keer as oorwinnaar uitgestap en sy grondgebied vergroot.

Die Arabiere het wapens, getalle en internasionale steun gehad, maar Israel het dissipline en dapperheid gehad en het soos ʼn Dawid teen ʼn Goliat gewen.

Shimon Peres het met sy verskeie posisies in die departement van verdediging en as onderhandelaar ʼn sleutelrol gespeel dat Israel sy weerbaarheid deur die aankoop van beter wapentuig kon versterk en internasionale bondgenote soos Frankryk en Brittanje kon wen.

Peres het egter ook besef dat ʼn sterk weermag alleen nie vrede verseker nie en dat ʼn diplomatieke pad van vredesooreenkomste ook bewandel moet word, maar uit ʼn posisie van mag, nie magteloosheid nie.

Afrikaners wat vandag hulself vir ’n volkstaat beywer, soos wat die Sioniste van die 1940’s die skepping van die staat Israel verseker het, kan baie leer uit die lewenswerk van wyle Shimon Peres. Waar daar ‘n wil is, is daar ’n weg.

zzperez

Lede van die IDF oorhandig ‘n verjaardagkoek aan Shimon Peres vroeër  vanjaar.

3 thoughts on “Israel se laaste pionier-volkstater sterf

  1. Roelof

    Die Afrikaners kan baie leer by die Jode wat moderne Israel gestig het.
    Maar soos wat die skrywer noem waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

  2. anton

    Ek vra my af : wat Peres se mening was oor die voortslepende konflik met die Palestyne. Ook : watter godsdiens hy aangehang het.
    Dankie vir die interessante artikel, Anfon

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s