Uiteindelik ‘n oorwinning op die plaasmoord-front

‘n Jarelange stryd van die Vryheidsfront Plus met die ANC-regering oor sy ontkenning van die erns en omvang van plaasmoorde en -aanvalle, het eindelik vrug opgelewer toe die nuwe minister van polisie, Nkhosinati Nkhleko, onderneem het om dit ‘hoog op die agenda te plaas’ van strategieë vir misdaadbekamping in Suid-Afrika.

Lees voort “Uiteindelik ‘n oorwinning op die plaasmoord-front”

Mulder positief oor toekoms

Tien van die 13 politieke partye wat in 2009 tot die parlement verkies is, het in 2014 se verkiesing swakker gevaar waarvan 4 nie na die parlement gaan terugkeer nie.

Net drie politieke partye het sedert die 2009 verkiesing gegroei. Dit is die DA, die UDM en die Vryheidsfront Plus.

Die VF Plus het met 13% gegroei vanaf 146 796 stemme in 2009 na 165 715 in hierdie verkiesing. Die party het ’n setel in Noordwes bygekry en al sy vorige setels behou. Die party het nou verteenwoordigers in Gauteng, Vrystaat, Noordwes en vier setels in die Parlement.

“Ek wil die ou en nuwe VF Plus-kiesers bedank vir hulle ondersteuning tydens hierdie verkiesing. Hulle het die VF Plus bly ondersteun nieteenstaande ’n intensiewe DA-propagandaveldtog wat met radio-advertensies en pamflette spesifiek op die VF Plus gemik was. Vanweë die finansiële ongelykhede van Suid-Afrikaanse verkiesingsveldtogte, wat deur staatsfondse veroorsaak word, is dit baie moeilik vir kleiner partye om op gelyke voet met ander partye mee te ding en op sulke propaganda te antwoord. Daarom is ek dankbaar vir die groot groei wat die party getoon het,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê.

Wêreldwyd is die politieke tendens dat minderheidsregte en die beskerming van minderhede meer en meer op die voorgrond tree. Suid-Afrika sal daardie werklikheid nie vryspring nie. Dit verklaar waarom die VF Plus gegroei het en vir baie jare steeds ’n politieke rol sal speel.

Soos die DA groter word, is dit onafwendbaar dat die party sy klem na die behartiging van die meerderheid se belange sal verskuif. Dit gaan in die toekoms meer en meer ruimte skep vir partye soos die VF Plus om hierdie minderheidsbelange in die politiek te behartig.

Solidariteit en VF Plus in gesprek

Die leierskap van die Vryheidsfront Plus en leiers van Solidariteit, AfriForum en Solidariteit Helpende Hand het ’n konstruktiewe gesprek in Pretoria oor huidige toestande in Suid-Afrika en oor die komende verkiesing gevoer.

Die VF Plus-afvaardiging is deur dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die party gelei.

Mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit en Steve Scott, president van Solidariteit-vakbond, was aan die hoof van die Solidariteit-afvaardiging.

Regstellende aksie, swart bemagtiging, voorwaardes vir ’n vryemark-ekonomie en grondhervorming is onder andere van die sake wat bespreek is. Daar is ook gekyk na die spesifieke rolle van ’n politieke party teenoor die van ’n vakbond en ’n burgerlike beweging.

Dr. Mulder het sy tevredenheid met die gesprek uitgespreek en aangedui dat heelwat sake van gemeenskaplike belang geïdentifiseer is.

Hy het aangetoon hoe albei organisasies as een van hulle belangrikste uitgangspunte die belangrike rol en plek van gemeenskappe en minderhede in Suid-Afrika het.

Volgens hom is hier heelwat ruimte vir sinvolle samewerking omdat die partye oor baie sake saamgestem het.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en mnr. Lourie Bosman, voormalige parlementslid en president van Agri SA, was die ander lede van die VF Plus-afvaardiging.