Israel se laaste pionier-volkstater sterf

Onlangs is een van die bekendste en langdurigste politici van Israel, Shimon Peres, oorlede. Die media het veel gemaak van sy rol om vrede tussen Israelis en Palestyne te probeer onderhandel, waarvoor hy die Nobelprys vir Vrede in 1994 ontvang het (saam met Jitzak Rabin en Yasser Arafat).

Lees voort “Israel se laaste pionier-volkstater sterf”

20 jaar van volksmoord in Ruanda herdenk

Ruanda asook talle lande oor die wêreld heen herdenk tans een van die ergste volksmoorde van die 20ste eeu na die Tweede Wêreldoorlog.

Die volksmoord in Ruanda het ‘n nuwe dimensie aan die verskynsel van volksmoord gegee omdat dit iets was waaraan ‘n groot deel van die bevolking, en nie net die weermag nie, deelgeneem het. Die volksmoord was teen mense gerig wat bure, selfs familie was en waar moordenaars en slagoffers vir dekades langs mekaar gelewe het.

Dit alles het in die kort tydperk van 3 maande en deur middel van die primitiewe wapen van die panga en spies plaasgevind het, eerder as wapens van massavernietiging.

Dit is ook ‘n voorbeeld van die massa-histerie van opgesweepte mense, wat veral in Afrika so dikwels voorkom.

Die volksmoord is van langer hand voorberei. In Ruanda was die Tutsi-minderheid histories die elite-volk en is deur die koloniale moondhede Duitsland en later België bevoordeel.

Na onafhanklikheid in 1960 het die magsverhoudings omgekeer geraak en die Hutu-meerderheid (meer as 80%) het die mag oorgeneem en die Tutsis het ‘n lae profiel gehandhaaf. Verhoudinge het op die oog af redelik goed gefunksioneer en die twee volke het langs mekaar en soms deurmekaar gewoon.

Hutu-ekstremiste het egter deur middel van ‘n radiostasie en kodewoorde soos “kokkerotte” vir die Tutsis die smeulende haat teen die eertydse herevolk aangeblaas. ‘n Tutsi-weerstandsbeweging, die Rwandan Patriotic Front (RPF) het vanuit Uganda ‘n lae-intensiteitsoorlog teen die regering gevoer.

Die lont aan die kruidvat was die dood van die Hutu-president Juvenal Habyarimana in ‘n vliegtuigongeluk. Na bewering het die Tutsi-rebelle die vliegtuig afgeskiet. Daarna was die hel los. Die Hutu-weermag en paramilitêre magte het van dorp tot dorp getrek en die Tutsis afgemaai en die Hutu-meerderheid aangesê (soms was min oorreding nodig, soms was dit wel onder dwang) om deel te neem aan die slagting.

Wapens, veral pangas, is uitgedeel aan gewillige Hutu-slagters. Soos besetenes het die Hutu onder die Tutsi gewoed, in ‘n soort onbeheersde bloed-waansin. Ook Hutu wat nie wou meedoen aan die slagting nie, of as te “onpatrioties” beskou is, is afgemaai. In sowat 3 maande is amper 1 miljoen mense vermoor.

Die slagting is eers beëindig toe die RPF-rebelle die magsvakuum gevul en die beheer oor die land oorgeneem het. Die Hutu-ekstremiste het uit vrees vir weerwraak deur die Tutsi-rebelle na Kongo gevlug.

Paul Kagame, leier van die RPF, het die mag oorgeneem en regeer sedertdien outokraties. Dit kan tot sy eer gesê word dat hy, alhoewel Tutsi, nie blinde wraak teen enige Hutu geneem het nie, maar probeer het om met ‘n lang uitgerekte tribunaal die werklike skuldiges te straf.

Die Weste het ‘n treurige rol in die slagting gespeel. Frankryk, die Hutus en Ruanda se eertydse bondgenoot, wat militêre personeel in Ruanda gehad het, het toegekyk hoe die volksmoord hom afspeel.

Na bewering het hulle dit selfs goedgekeur. Verhoudinge tussen Frankryk en die huidige president Kagame is dus ook meer as koel.

Talle Hutu-ekstremiste het ook in Frankryk weggekruip. ‘n Vinnige optrede deur goed gewapende magte kon die volksmoord gestop het.

Dit is immers so dat 3 maande nie iets ongesien kan aangaan nie, en talle Westerlinge wat as ontwikkelingshelpers in Ruanda was en die volksmoord aanskou het, het die nuus na buite gedra.

Die Weste, Afrika en die hele wêreld se oë was egter op die “wonderwerk van Suid-Afrika” en op die ikoon Nelson Mandela gerig, wat uiteindelik goeie nuus uit Afrika sou bring. ‘n Volksmoord wat terselfdertyd plaasgevind het, het die partytjiestemming ontsier en moes dus geïgnoreer word en is aanvanklik as “stamgevegte” afgemaak. Eers heelwat later het die omvang van die volksmoord duidelik geword.

Wat die verklarings vir die volksmoord betref het Westerse kommentators tipies in die polities-korrekte groef geval om altyd die skuld by die witmense te soek en om te maak asof swartmense nie werklik uit hulle eie uit skuldig aan gruweldade kan wees nie.

Duitse en Belgiese koloniale owerhede, wat die Tutsis bevoordeel het, word as die skuldiges uitgemaak, ongeag die feit dat die koloniale beheer amper ‘n halwe eeu voor die volksmoord geëindig het, en dat Ruanda ‘n randgebied was en blanke invloed en koloniale strukture minimaal was.

Die verklaring vir die volksmoord is waarskynlik meer voor die hand liggend: haat op die ander en veral die geleentheid wat die wanorde gebied het. Net ‘n minderheid Hutu-ekstremiste het werklik die Tutsi gehaat en wou hulle permanent verwyder. Die oorgrote meerderheid het die geleentheid gesien om mee te doen aan ‘n bloedorgie wat ook geleentheid tot plundering gegee het.

Dat wettelose toestande die dun laag van beskawing en mede-menslikheid by meeste mense laat afdop is al oor en oor bewys in soortgelyke situasies. Die bekendste voorbeeld is seker die eeue lange vervolging van die Jode in Europa, nie omdat die aandadiges werklike griewe gehad het nie, maar eerder omdat dit ‘n gevoel van mag gee om ‘n minderheid te vervolg en dood te maak, en omdat mense bang is om teen die gewaande meerderheid op te staan.

Die verspreiding van die Tutsi, wat in elke dorp ‘n minderheid was en hulle nêrens effektiewelik kon beskerm nie, was ook tot hulle nadeel. Ook die hoop vir buitelandse inmenging was futiel. Alleen die militêre mag van die RPF het die volksmoord gestop. Anders sou daar dalk geen Tutsi meer oor wees nie.

Ruanda het wel na die einde van die volksmoord onder die leiding van Kagame ‘n suksesvolle tyd beleef. Daar is orde en stabiliteit en merkwaardige ekonomiese groei en ontwikkeling. Korrupsie is laag en die staatsdiens effektief, ‘n werklike uitsondering in Afrika. Dit is egter net moontlik met ‘n kwasi-diktator soos Kagame (wat wel onlangs weer herkies is met ‘n oorweldigende meerderheid) wat ‘n herhaling van die volksmoord sal keer.

Enige verwysing na etnisiteit word verbied en amptelik is daar net Ruandese. Enige demokratiese verkiesing wat weer die Hutus aan bewind bring, kan tot ‘n herhaling lei. Soortgelyke gebeure in Burundi, wat ‘n spieëlbeeld van Ruanda is, bevestig die tendens.

Vir ons as Afrikaner-minderheid (ook omtrent soveel soos die Tutsi) wys die gebeure dat ‘n minderheidsvolk wat eens die beheer gehad het, nooit veilig is en dat ook na dekades van regering deur die meerderheid die minderheid nie vergewe word vir wandade en hoogmoed in die verlede nie.

Israel: Voormalige Eerste Minister Ariel Sharon oorlede.

Ariel Sharon was een van die bepalende figure van Israel se moderne geskiedenis. Hy is verlede week na ‘n lang koma van meer as 7 jaar oorlede, nadat hy in 2006 ‘n beroerte gehad het. Hy was 85 jaar oud.

Ariel Sharon was een van die laaste verteenwoordigers van die stigtersgenerasie van Israel. Hy is in 1928 as kind van Belorussiese ouers in die destydse Britse mandaatsgebied Palestina gebore.

Reeds op 15jarige ouderdom was hy lid van die Joodse ondergrondse weerstandsbeweging Hagannah en het vir homself ‘n naam gemaak as iemand wat vasberade en dapper was en met gesag opgetree het.

Na die stigting van die staat Israel in 1948 het Sharon ‘n loopbaan in die nuwe weermag gevolg en is in 1953 opdrag gegee deur die stigter-president, Dawid ben-Gurion, om die beroemde en berugte 101 anti-terroriste eenheid te stig, wat Palestynse terrorisme beveg het.

In die Sesdagse Oorlog van 1968 het hy vir homself naam gemaak met sy offensiewe taktiek wat tot die vinnige verowering van die Sinai-skiereiland van Egipte gelei het en ‘n beslissende bydra tot Israel se merkwaardige oorwinning in die oorlog gelei het. 1973, tydens die Yom-Kippoer oorlog, is hy teruggeroep weermag toe en het as generaal met sy pantserdivisie oor die Suez-kanal oorgesit en die Egiptiese weermag ‘n beslissende neerlaag toegedien. Dit het hom heldestatus gebring en hy het ‘n huishoudelike naam geword.

Sharon was een van die stigterslede van die konserwatiewe Likud-Party in 1973. Dié party het in 1977 die tot dusvêr alles oorheersende Arbeidersparty ontsetel onder sy destydse leier Menachem Begin. In die regering van Menachem Begin was Sharon Minister van Verdediging. Hier is ‘n sekere parallel met genl. Constand Viljoen, wat sy militêre heldestatus ook gebruik het om later as politieke leier na vore te tree.

In die tyd (1982) val egter ook die massaslagting van Palestynse vlugtelinge deur die Libanese milisie waarmee Israel in bondgenoodskap was. Alhoewel die Israelse weermag nie direk daarvoor verantwoordelik was nie, het hulle die slagting toegelaat en laat die gebeure altyd ‘n donker kol op mnr. Sharon se reputasie aangesien hy as Minister van Verdediging die finale verantwoordelikheid gehad het.

Weens sterk openbare druk moes hy bedank as Minister van Verdediging en het aangebly as minister sonder portfolio. In latere Likud-regerings het hy verskeie ander portfolios beklee, onder andere Minister van Behuising, en het ‘n naam gehad as voorstaander van Israel se voortdurende besetting van die Wesoewer deur middel van nuwe nedersettings. As een van die mees uitgesproke “valke” in die Israelse politiek was hy natuurlik ‘n rooi doek vir die Palestyne en hulle leier Jassir Arafat.

Toe Sharon in 2000 die tempelberg en die Al-Aksa Moskee besoek het, het die Palestynse ekstremiste dit as oorsaak geneem om met grootskaalse opstande teen Israel te begin (die sogenaamde tweede intifada).

By sy eie mense het Sharon se reputasie as sterkman egter gemaak dat hy as rots in tye van onstuimigheid gesien is en as iemand wat sy land en mense sal verdedig en wat nie omkoopbaar is nie. Hy het, tot algemene skok in die internasionale hoofstroom-media, die verkiesing van 2001 gewen en Eerste Minister geword.

As leier van sy volk was hy egter pragmaties en ‘n realpolitikus in die beste sin van die woord. Al was hy in die opposisie bekend as ‘n vuurvreter en iemand wat graag die hele Bybelse Israel wil herstel, het hy as Eerste Minister ingrypende stappe geneem om die Palestynse eise vir ‘n eie land tegemoet te kom en om sodoende die druk op Israel te verlig.

In 2004 het hy, teen weerstand uit sy eie geledere, die eensydige ontruiming van die Gaza-strook aangekondig, met die verwagting dat dit die Palestynse druk op Israel sou verlig. Dit het egter ook beteken dat talle Joodse setlaars, die mees getroue ondersteuners van mnr. Sharon, nou deur Israel se weermag uit hulle nedersettings verwyder en hulle huise platgestoot is.

Ongelukkig het die pragmatiese stap nie dankbaarheid en gematigdheid by die Palestyne meegebring nie, maar is juis as ‘n teken van swakheid gesien en is die Gaza-strook deur die radikaal-Islamitiese Hamas oorgeneem wat vandaar Israel voortdurend aanval.

Mnr. Sharon, eens heel regs, het hom nou skielik in die posisie van ‘n gematigde leier bevind wat deur sy teenstanders geprys en deur sy volgelinge as verraaier uitgekryt is. Mnr. Sharon het egter ‘n sterk persoonlike leierskap gehad en was sterk genoeg om met sy eie Likud-party te breek en sy eie, sentristiese party, Kadima, te vorm, wat volgens meningspeilings die volgende verkiesing sou wen. Die steun wat hy na regs verloor het, het hy onder die gematigdes gewen.

‘n Ernstige beroerte in 2006, op die toppunt van sy mag, het egter sy loopbaan skielik beëindig. Ook hier is parallelle met Suid-Afrika: dit was juis die kragdadige PW Botha, met ‘n militêre agtergrond en bekend vir duidelike taal, wat met hervormings begin het, maar dit is juis deur sy teenstanders as swakheid vertolk en het hulle daardeur sterker gemaak en meer vasberade om die hele bewind weg te vee. Ook PW Botha moes weens ‘n beroerte sy pos neerlê, alhoewel hy weer herstel het.

jongsharonAriel Sharon in 1973

Wat beteken eie kultuur?

Afrikaners word dikwels daarvan beskuldig dat ons ‘n rassistiese agenda het wanneer ons sê dat ons “ons kultuur wil bewaar”. Daar word beweer dat ons eintlik bedoel “ons wil nie saam met swartmense wees nie”.

Persone soos Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, is tipies iemand wat alle pogings om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar op so ‘n manier afmaak. Hier en daar mag dit wel die geval wees dat kultuur gesê en wit bedoel word, maar die meerderheid Afrikaners, so aanvaar ek, is trots op hulle kultuur en wil dit graag behou.

Gewoonlik word die vraag gevra: “Wat is Afrikaner-kultuur?”, nie uit werklike belangstelling nie, maar om elke aspek weg te redeneer en om dan by die uiteinde uit te kom dat ons almal dieselfde is en die beste gediend is met ‘n individuele, geglobaliseerde samelewing met materialistiese waardes.

Met my onlangse besoek aan verskeie Europese lande kon ek kultuur ervaar in hoogs geglobaliseerde, moderne en ook multi-kulturele samelewings.

Om kultuur as iets af te maak wat agterlik, plattelands en pre-modern is, soos stedelike joernaliste dit graag doen en wat by kultuur hoogstens aan Zoeloe-danse vir oorsese toeriste dink, vat die saak vêr mis.

Kom ek vertel van ‘n paar voorbeelde:

In Nederland was hierdie jaar op 31 April die kroning van Willem Alexander en sy vrou Maxima as die nuwe koningspaar van Nederland. Alhoewel die kroning self ‘n formele geleentheid was en net hoogwaardigheidsbekleërs in die paleis en die katedraal vir die seremonie toegelaat was, was dit ‘n Nederlandse volksfees.

Orals in die hoofstad Amsterdam en ook in ander stede oor die land heen was geboue met oranje vlae en simbole van die koningshuis versier, op die pleine het die mense, geklee in oranje of met die Nederlandse vlag op hulle gesigte geverf, bymekaargekom en op groot skerms die verrigtinge van die kroningseremonie gekyk en saamgejuig, gesing, komentaar gelewer of stemmig stil gebly toe die eed op die grondwet en die parlement afgelê is.

Dit was ‘n multi-kulturele menigte, behalwe die etniese Nederlanders ook mense van Marokkaanse afkoms of uit die Karibiese streek, waar Nederland kolonies gehad het en nog steeds vier eilande het wat met Nederland verbonde is.

Daar was natuurlik ook toeriste soos ek wat die spektakel wou meemaak, maar dit was ‘n uit en uit Nederlandse gebeurtenis en het natuurlik in Nederlands plaasgevind, nie in “internasionale” Engels nie. Dat ek een van die min nie-Nederlanders was wat dit kon verstaan danksy Afrikaans, het my ‘n bietjie nader aan die gebeure laat voel.

As ek ‘n Nederlander was, sou ek beslis hoendervleis gehad het. Selfs so, as waarnemer, het die gebeure my meegesleur. Die koning is die tydlose simbool van Nederland. Al beskik hy oor geen uitvoerende magte nie, is die kroning van ‘n koning of koningin, iets wat omtrent een keer in 30 of 40 jaar plaasvind, iets baie groter as die inhuldiging van n nuwe premier elke 4 jaar.

In Suid-Tirole is die opset heel anders as in Nederland: ‘n klein volk oftewel volksgroep van sowat 500 000 mense, eerder behoudend en godsdienstig en etnies homogeen, maar in die posisie van ‘n minderheid binne Italië en dus met ‘n sterk taal- en kultuuridentiteit.

Die kulturele belewenis van Suid-Tirole was ‘n gesellige saamkuier met ons vriende, wat ons op eg Suid-Tiroolse manier onthaal het in die rustieke opset van die “Schuetzenverein”, met bier, “Kaminwurz” (‘n soort gerookte salami), gerookte ham en Knoedel, daarby het ‘n jong man volkswysies op die trekklavier gespeel en meeste van die mense was in die Suid-Tiroolse drag geklee.

Anders as die Nederlanders met hulle uitwaartse kyk en hulle inklusiwiteit was hierdie aards, knus, tradisioneel. Suid-Tirolers is egter nie agtertangers nie, maar dit is ‘n ekonomies hoogs welvarende en dinamiese streek met ‘n hoë opleidingsvlak en geringe werkloosheid.

In Spanje het ek die voorreg gehad om die fiesta in Almeria in Andalusië by te woon. Elke stad of dorp het sy feesweek waarin die plaaslike beskermheilige gevier word, maar wat in die eerste plek ‘n viering van die streek se kultuur is.

Daar is talle musiek- en dansvertonings, mense wat in tradisionele klere rondloop en hulle Spaansheid vertoon, optogte met sierwaens en reuse en ter afsluiting ‘n prosessie van die katolieke kerk waar die beskermheilige rondgedra word, voorafgegaan deur die stad se burgermeester, biskop, hoof van die militêre eenhede ens.

Die hoogtepunt van die fiesta is egter die corida, die tradisonele bulgeveg wat vir ‘n week elke dag plaasvind. Die mense staan vir ure tou om kaartjies te kry. Ek wou dit ook een keer beleef.

Toe ek in die arena inloop kon ek nie glo hoeveel mense hierdie kultuurfees bywoon nie. Daar was selfs vroue in die Spaanse tradisionele klere. As die torreros, pikadores en dan die held, die matador inkom, gaan ‘n opwelling deur die arena wat selfs ek as nie-Spanjaard kon aanvoel en wat my hoendervleis gegee het.

Ek het vir n oomblik gewens ek was nou ‘n Spanjaard: hier word ons kultuur gevier, uniek en soos ons dit al vir eeue doen, ongeag of ander volke ‘n bulgeveg as barbaars of outyds beskou. Net ons verstaan dit, net ons voel aan wat hier gebeur.

Ek as buitestaander (en so ver ek kon sien die enigste nie-Spanjaard) is vriendelik deur die mense opgeneem, hulle het vir my die matadors se name gesê en kommentaar gelewer en hulle peuselkos en wyn uit die leersak met my gedeel. Dit was egter iets vir die Spanjaarde, m.a.w. nie vir toeriste nie. Juis omdat ek hoog opgee vir my eie kultuur kon ek met hierdie mense vereenselwig en die gevoel van hulle kultuur aanvoel.

As ek op 16 Desember op Orania is, en Geloftefees vier, met ‘n stemmige erediens, ‘n feesrede, mense in Voortrekkerklere, volkspele-vertonings, gemmerbier en koeksisters en saamkuier met piekniek in die familiekring na die tyd, dan weet ek dat ons in geen opsig moet terugstaan agter Nederlanders, Suid-Tirolers of Spanjaarde wat eie kultuur betref nie.

As kultuur net nog vir toeriste bedryf word is dit ‘n leë dop. Dit moet deur die groep en vir die groep wees en mense moet dit geniet. Dit moenie gedoen word omdat dit op mense afgedwing word nie, of uit pligsbesef of om ‘n punt te bewys nie.

In al die genoemde gevalle is dit ‘n kulturele gebeurtenis.

In al die genoemde  gevalle is dit nie ‘n vertoning vir besoekers nie, soos wanneer sekere  volke ter wille van toeriste wat foto’s neem en daarvoor betaal, tradisioneel aantrek en n paar danspassies uitvoer.

Dit is iets deur en vir die groep, waarby besoekers ook welkom is om dit by te woon. Kultuur is dus nie iets wat in isolasie plaasvind nie (‘n hoofbeskuldiging van diegene wat Afrikanerkultuur verafsku), maar wat wel aan ‘n volk of groep behoort, nie aan almal nie.

Die poging om ‘n “wêreldkultuur” te skep om almal te akkommodeer eindig noodwendig op die kleinste gemene deler en is in meeste gevalle eintlik ‘n veramerikanisering van kultuur: Engels as taal, denimbroek as kledingstuk, Coke en burger as kos, Hollywoodflieks as vermaak, sekularisme as wêreldbeskouing, en geld as enigste faktor wat bepaal of jy iets mag bywoon of nie.

As jy die gebeure analities uitmekaarhaal om kultuur te ontdek, dan gaan jy nie veel vind nie. Net so min soos wat jy ‘n mens kan verstaan deur ‘n lyk op te sny en dan te sê, ‘n mens is ‘n oor, ‘n hand, ‘n been ens., net so min kan kultuur verstaan of verklaar word deur n reeks “doen-dinge” en clichés wat ten beste folkloristies is: rugby en braaivleis by Afrikaners, matjieshering en oranje kleure by Nederlanders, bulgeveg en gerookte wors by Spanjaarde, Tiroolse hoed en bier by Suid-Tirolers, Zoeloedanse en pap en kaaiings by Zoeleos ens.

Die mens bestaan uit liggaam, gees en siel. ‘n Volk se kultuur is ook iets in die lyn, ‘n samespel van faktore wat eerder aangevoel as geanaliseer kan word.