Die vraag oor plek

Een van die oudste vrae in die geskiedenis is: “Wie se plek is die?” Gewoonlik word dit net ingewikkelder gestel.

Dink aan die Bybelse opdrag om “die vreemdeling in die poorte” goed te behandel. Die ding met ‘n vreemdeling is dat hy vreemd is. Dit is dus nie sy plek nie en daarom bedreig dit niemand om hom goed te behandel nie.

Continue reading “Die vraag oor plek”

Land en staat – noodsaaklike onderskeid

Suid-Afrika is ons land, maar dis ‘n vreemde staat. Die land het bakens soos berge, riviere, vlaktes, plaaswerwe, geboue, dorpe, stede, alles wat mens tuis laat voel. Die staat is politieke skeppings soos die grondwet, munisipaliteite, provinsies, staatsdepartement en die presidensie. Afrikaners is oor die algemeen hartstogtelik lief vir die land. Met die staat is dit ingewikkeld.

Continue reading “Land en staat – noodsaaklike onderskeid”

Laat ons ook nie oor instellings kibbel nie

’n Onlangse rubriek het gepleit dat diegene wat hulle vir selfbeskikking beywer, minder oor die gestaltes daarvan kibbel. Hierdie keer word gepleit dat ons ook minder oor instellings kibbel. Die veelvuldige instellings wat hulle vir die Afrikaner se voortbestaan beywer is nie ’n probleem nie. Die neiging om die son nie oor die ander te sien skyn nie, is.

Anders gestel: Meningsverskil is ’n goeie ding. Verdeeldheid kom wanneer aanhangers van een standpunt eis dat almal hulle insig moet deel.

Hierdie pleidooi val nie uit die lug nie. Daar is twee instellings wat op massasteun van Afrikaners ’n beroep doen en wat onbeskaamd Afrikaners se posisie bevorder. Dit is die Vryheidsfront Plus as politieke party en die Solidariteit Beweging. Die VF+ opereer binne die parlementêre bedeling en die relatiewe (sowel as absolute) afname in Afrikaners se getalle bemoeilik sy taak met elke verkiesing. Nogtans glo die party dat die parlement en ander wetgewers waarde het.

Die Solidariteit Beweging het uit die vakbond, die Mynwerkersunie, gegroei. Na die voorbeeld van die Histadrut, ’n Israeli-vakbondbeweging wat ’n groot rol in die vestiging van Israel gespeel het, het Solidariteit tot ’n omvattende volksbeweging gegroei. Benewens die vakbond, het nuwe instellings soos AfriForum, Helpende Hand, Soltech, Akademia en verskeie ander tot stand gekom. Ou bekendes, soos die FAK en Radio Pretoria, is ook deel daarvan, terwyl die Orania Beweging ooglopend in die wentelbaan beweeg.

Die vraag word al meer gevra of die Solidariteit Beweging enige vorm van steun aan die VF+ in die komende verkiesing gaan gee. In die verlede het die twee instellings verskeie aksies gesamentlik aangepak en in minder ingeligte kringe word min onderskeid getref. Solidariteit het egter oor die laaste paar jaar moeite gedoen om afstand tussen homself en die VF+ te skep. ’n Tema wat herhalend in die gesprek rondom samewerking-of-nie voorkom, is die vraag wat Solidariteit het om daaruit te wen. Anders gestel, die VF+ kan by samewerking baat, maar nie Solidariteit nie.

Wanneer die Afrikaner in ’n bestaanskrisis verkeer – en dit is nie ’n oordrywing nie – behoort die vraag nie te wees wat tot watter instelling se voordeel sal wees nie. Die vraag moet wees watter optrede op die lange duur vir die Afrikaner die grootste voordeel sal inhou.

Daar is tans twee soorte politieke partye: Die eerste groep sien die Suid-Afrikaanse grondwet as die beste denkbaar en maak aanspraak dat hulle dit in hulle hande die veiligste is. Dit is alle partye buiten die VF+. Dan is daardie VF+, wat aandring dat ’n land met etniese verskeidenheid, soos Suid-Afrika, ’n grondwet moet hê wat dit weerspieël.

Iemand wat met die Afrikaner se toekoms gemoeid is, kan nie deur hierdie keuse koud gelaat word nie. Enige wegblystem of stem vir ’n ander party, gee die boodskap dat Afrikaners gelukkig in die Suid-Afrikaanse bedeling is en hoogstens ’n beter regering soek. Is dit wat die Solidariteit Beweging glo?

Net ’n dwaas sal nalaat om die reusagtige werk wat die Solidariteit Beweging doen, lig te skat. Nogtans staan die vraag: Is iets net die moeite werd om te doen as dié beweging dit binne sy werksbestek sien? Hoeveel etniese bewegings wêreldwyd minag die parlementêre forum? Kom, laat ons minder oor instellings kibbel en elk sy rol laat speel.

Laat ons minder oor selfbeskikking kibbel

Afrikaners wat glo dat selfbeskikking noodsaaklik is, het verskillende idees oor wat dit behels of hoe die pad daarheen loop.

Daar is twee vervlegte lyne waarlangs verdelings loop:

– Interne teenoor eksterne selfbeskikking, oftewel die vraag of kultuurregte binne Suid-Afrika voldoende is en of soewereine onafhanklikheid die mikpunt is.

– Uitoefening van selfbeskikking waar Afrikaners tans woon, of in betreklik onontwikkelde gebied wat met dié doel ontwikkel en bevolk word.

Die probleem is nie verskillende sienings nie, maar dat ooreenkomste deur verskille verdwerg word.

Die Suid-Afrikaanse bedeling maak nie voorsiening vir etniese verskeidenheid nie. Die “amptelike” Suid-Afrika bestaan uit ’n massa Engelssprekende individue. Hulle is toevallig oorwegend swart, maar hulle kulturele identiteit is ’n streng private aangeleentheid en word na-ure bedryf. Die besef dat dié bedeling kultureel noodlottig mag wees, bind ons saam.

Swart etniese groepe het nog ’n mate van erkenning. Die wet op tradisionele owerhede erken sekere etniese aspekte en verskans dit wetlik. Menseregte moet voorkom dat Afrikaners (soos ander Suid-Afrikaners) individueel veronreg word, maar daar is geen wetgewing wat gesamentlike optrede bemiddel nie. Daar is wel ’n uitdaging: Skep ’n werklikheid en vra dán erkenning. Die strewe word grondwetlik erken, maar die resultaat hang van onsself af.

Afrikaners het dus geen vorm van selfbeskikking nie. Nie intern nie en ook nie ekstern nie. Dit beteken dat enige seggenskap wat beding word, ’n deurbraak sal wees. Vir een Afrikaner sal formele gesag oor byvoorbeeld onderwys of veiligheid genoeg wees, of munisipale status vir Orania of Kleinfontein, terwyl ’n ander nie sal rus voor daar ’n Afrikanerrepubliek is nie. Tog sal die pad na ’n Afrikanerrepubliek by talle mylpale verbyloop.

Republikeine kan nie bekostig om die mylpale te minag nie en ander hoef nie deur die republikeinse strewe bedreig te voel nie. As daar oor elke gestalte van selfbeskikking gejuig kan word, hoef diegene wat met verskillende gestaltes tevrede is, mekaar nie te verwyt nie.

Waardering vir elke gestalte van selfbeskikking beteken nie dat onrealistiese verwagtings skielik gekoester kan word nie. Afrikaners behoort, waar hulle ook al in Suid-Afrika woon, sekere kultuurregte te hê, soos seggenskap oor onderwys, deernisgevalle (welsyn) en veiligheid. Waar Afrikaners ’n nietige minderheid is en die moontlikheid om dit te verander nie bestaan nie, is republikeinse vryheid uitgesluit. Nou en in die toekoms.

Om vryheid te herwin, sal wesenlike opofferings verg. Nie alle Afrikaners hoef daaraan deel te neem nie, maar daar is ’n kans dat alle Afrikaners daardeur bevoordeel sal word. Ander kultuurregte behoort verwerf te word, omdat dit ’n beste praktyk vir multiëtniese state is. Alle Afrikaners sal daarby baat, ook die wat republikeinse vryheid aktief nastreef.

Die Vryheidsfront Plus hoef nie op verskillende pilare te bou nie, maar op die enkele basis van selfbeskikking.